Whisper se PhD-navorsing kan die Suid-Afrikaanse bedryf help om digitale transformasie te omarm

Net soos kantore, winkels, klaskamers en lesingsale digitale transformasie en die Vierde Industriële Revolusie omarm, moet die vervaardigingsbedryf dit ook doen. Dit staan as Industrie 4.0 of I4.0 bekend, en die transformasie is noodsaaklik vir die volhoubaarheid van plaaslike vervaardiging. Dit het ’n PhD-student in Ingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit (NWU) aangespoor om die Suid-Afrikaanse bedryf te help om die vaardighede en bevoegdhede te ontwikkel wat vir ’n digitale toekoms nodig is.

Whisper Maisiri onderneem ’n studie met die titel “Developing an Industry 4.0 competency maturity model (I4.0CMM)” vir sy navorsing vir sy PhD in Ingenieurswese. Die model wat hy ontwikkel, sal gebruik word om I4.0-bevoegdheidsvereistes en -ontwikkeling met behulp van bedryfsingenieursbekwaamheidsfunksies te evalueer en te rig.

“Faktore wat die volhoubare aanvaarding van I4.0 aan bande lê, is nog nie in die Suid-Afrikaanse vervaardigingsomgewing in die literatuur gekontekstualiseer nie, en I4.0-vaardigheidsvereistes in die ingenieursberoep is nie duidelik omskryf nie,” verduidelik hy, en voeg by dat daar ’n gebrek is aan instrumente om die vaardighede van werknemers ten opsigte van I4.0-vereistes te evalueer en te belyn.

“As vervaardigingsbedrywe wil oorleef en hulle wêreldwye mededingendheid wil laat groei, is dit is onvermydelik dat hulle I4.0 sal omarm en aanvaar. I4.0 is egter nie vir almal dieselfde nie, en om maniere te vind wat verseker dat I4.0 in ontwikkelende lande soos Suid-Afrika volhoubaar benut word, is dit noodsaaklik dat daar inklusiewe en volhoubare ontwikkelingsgroei sal wees.”
 
Volgens Whisper word ’n beduidende hoeveelheid navorsing op tegnologiese vordering gefokus en min aandag word aan die menslike faktor gegee. Die besef dat mense die ware skrywers van die digitale storie is, en dat die geslaagde volhoubare aanvaarding van I4.0 van tegnologie en mense afhang, het hom laat besluit om op die menslike kant te fokus. Hy fokus spesifiek op bevoegdheidsvereistes en -ontwikkeling in ingenieurswese.

“Bevoegdheidsvereistes en die ontwikkeling van bevoegdheid het ’n direkte verband met die Suid-Afrikaanse Nasionale Ontwikkelingsplan en die Verenigde Nasies se 2015 Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte. Albei lê klem op ’n einde aan armoede en die beskerming van die omgewing, en sluit welvaart in. As mense die regte vaardighede (kennis, vaardighede en vermoëns) het, kan I4.0 en toekomstige ontwikkeling volhoubaar in ontwikkelende lande soos Suid-Afrika geïmplementeer word. Dit was dus vir my noodsaaklik om daarop te fokus om ’n I4.0CMM te ontwikkel,” sê Whisper.

Hy meen dat die I4.0CMM-model waarde kan toevoeg om vaardigheidsontwikkeling en bedryfsvaardigheidsvereistes te belyn. “Die bedryf kan die model gebruik om die bestaande I4.0-vermoëns van hulle werknemers te evalueer en leiding te verskaf oor die werknemers se vaardigheidsvereistes om ’n betekenisvolle bydrae tot I4.0 en toekomstige vereistes te lewer. Die model kan voorts waarde toevoeg om ingenieursopleiding te rig om eienskappe by gegradueerdes te ontwikkel wat ’n betekenisvolle bydrae tot die aanvaarding van I4.0 en toekomstige ontwikkelings in die vervaardigingsbedryf sal lewer.”

Hy sê die volgende stap is die verifikasie en geldigverklaring van die I4.0CMM. Enigeen wat ervaring het in I4.0 en graag aan die kundige verifikasie en geldigverklaring deur die Delphi-metode wil deelneem, kan hom by 25727265@nwu.ac.za of 073 049 7536 kontak.

Whisper Maisiri

Prof Liezl van Dyk is Whisper se studieleier vir sy PhD-studie, en dr Rojanette Coetzee is die medestudieleier.

Whisper het tot dusver vyf publikasies – een in ’n internasionale vaktydskrif, drie in plaaslike vaktydskrifte en een as ’n internasionale konferensie-aanbieding – en almal is aanlyn beskikbaar.

Navorsingsuitsette

Maisiri, W. & Van Dyk, L. 2019. Industry 4.0 readiness assessment for South African Industries. South African Journal of Industrial Engineering, 30, 90–105. http://dx.doi.org/10.7166/30-3-2231.

Maisiri, W., Darwish, H. & Van Dyk, L. 2019. An investigation of Industry 4.0 skills requirements. South African Journal of Industrial Engineering, 30, 134–148. http://dx.doi.org/10.7166/30-3-2230.

Maisiri, W. & Van Dyk, L. 2021. Industry 4.0 skills: A perspective of the South African manufacturing industry. SA Journal of Human Resource Management/SA Tydskrif vir Menslikehulpbronbestuur, 19(0), a1416. https://doi.org/10.4102/sajhrm.v19i0.1416.

Maisiri, W., Van Dyk, L. & Coetzee, R. 2021. Factors that Inhibit Sustainable Adoption of Industry 4.0 in the South African Manufacturing Industry. Sustainability, 13, 1013. https://doi.org/10.3390/su13031013.

Maisiri, W. & Van Dyk, L. 2020. Industry 4.0 Competence Maturity Model Design Requirements: A Systematic Mapping Review. 2020 IFEES World Engineering Education Forum – Global Engineering Deans Council (WEEF-GEDC). Cape Town, South Africa. pp. 1–6, doi: https://doi.org/10.1109/WEEF-GEDC49885.2020.9293654.

Submitted on Tue, 03/16/2021 - 15:24