Wetenskap laat jou vlieg!

Wetenskap is verskriklik verslawend. Dit gee vir ’n mens ’n kykie op wonders waaraan jy in jou wildste drome nie kon dink nie. Godfrey Mosotho weet dit beter as die meeste mense en hy hou nie hierdie geheim vir homself nie.

Mosotho bedryf ’n eksperiment waarin hy meteorologiese ballonne die lug in stuur om geïoniseerde straling in die atmosfeer verskeie kilometer hoog in die lug te meet. Wat hierdie benadering uniek maak – benewens die navorsingsimplikasies daarvan – is dat die projek ook as ’n uitreikprogram dien. By sy mees onlangse lansering was leerders van die Saints Christian Skool (laerskool) in Potchefstroom by om die pret mee te maak.

“Ons het in 2018 met hierdie soort lanserings begin, dus het ons nou al drie lanserings gedoen. Tydens hierdie lanserings neem ons metings van omgewingsparameters soos temperatuur, druk en baie ander dinge. Die belangrikste metings wat ons neem, is egter die meting van straling. Die idee was om elke jaar een lansering te doen, maar ons moes dit as gevolg van die Covid-19-pandemie staak. Nou is ons terug,” sê Mosotho.  

“Ons wil aan die publiek demonstreer hoe stralingsvlakke volgens die hoogte bo seevlak of geografiese ligging verander. Die gehalte en samestelling van straling waaraan ons op grondvlak blootgestel word, verskil heeltemal van die hoeveelheid wat net ’n bietjie hoër op is. Hoe hoër jy beweeg, hoe meer blootstelling is daar aan straling.”

Dit is nie al kennis wat deur hierdie eksperimente verkry word wat hy wil deel nie.

“Enige skool wat in die projek belangstel, kan daaraan deelneem. Ná ʼn suksesvolle lansering help die leerders om die toerusting op te spoor nadat dit teruggekeer het aarde toe. Ons gee ook daarna aan die skool terugvoer om hulle te wys wat ons gemeet het.”

Mosotho, wat in Daveyton aan die Oosrand gebore is en grootgeword het, het sy doktorsgraad aan die Noordwes-Universiteit (NWU), voltooi waar hy op stralingsdosimetrie op vlughoogtes gefokus het. Hy is tans ’n postdoktorale navorser by die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe se fisika departement onder studieleiding van professor Strauss du Toit.

Dit is navorsing van onskatbare waarde: “Ons moet weet aan hoeveel straling ons blootgestel is sodat ons ingeligte besluite kan neem.”

  

 

 

Submitted on Fri, 09/10/2021 - 12:41