Werkswinkel fokus op die doeltreffende meting van die NWU se maatskaplike impak

Leiers van gemeenskapsbetrokkenheidsprojekte het onlangs geleer hoe om die SenseMaker®-platform doeltreffend te gebruik om nie net hulle aktiwiteite vas te lê en daaroor verslag te doen nie, maar ook hoe om die maatskaplike impak van hulle inisiatiewe te meet. 

Prof Dave Snowden, skepper van SenseMaker® en die Cynefin Framework, was aan die hoof van die opleiding wat op 6 Augustus in Potchefstroom plaasgevind het. Nege-en-twintig personeellede het aan die inpersoon-geleentheid deelgeneem en agt aanlyn. Hierdie personeellede het adjunkdekane, navorsingsdirekteure, ondersteuningspersoneel en direkteure van Studentelewe op die verskillende kampusse van die Noordwes-Universiteit (NWU) ingesluit. 

“Die werkswinkel het die potensiaal van die platform beklemtoon om te toon hoe die impak van gemeenskapsbetrokkenheid op ’n nuwe wyse binne ’n akademiese opset gemeet kan word, terwyl daar ook erken is dat daar uitdagings bestaan om sulke instrumente te gebruik om komplekse en veelfasettige navorsingomgewings te gebruik,” sê Bibi Bouwman, direkteur vir Volhoubaarheid en Gemeenskapsimpak.  

Sy sê dat SenseMaker® talle geleenthede moontlik maak vir projekleiers van gemeenskapsbetrokkenheid om hulle projekte beter te verstaan en te bestuur. “Dit is ’n opwindende platform wat goeie insigte en instrumente verskaf om personeel te help om al die kompleksiteite van hulle gemeenskapsbetrokkenheidsprojekte te verstaan en ingeligte besluite te neem.” 

Prof Jeffrey Mphahlele het tydens die werkswinkel beklemtoon hoe belangrik dit is dat universiteite hulle maatskaplike impak evalueer. Hy het gesê dat dit ’n uitdaging is wat nie maklik met behulp van tradisionele navorsingsmetings hanteer kan word nie. 

Kategorisering van probleme 

Volgens prof Snowden kan probleme met die meting van maatskaplike impak in vyf gebiede gekategoriseer word. Dit is: duidelik, ingewikkeld, kompleks, chaoties en wanordelik. “Die raamwerk help leiers om die aard van die probleme te verstaan wat hulle ervaar, en daarvolgens toepaslike optrede te kies.” 

Prof Snowden het beklemtoon hoe SenseMaker® ’n mens in staat stel om self die betekenis te bepaal en individue bemagtig om hulle eie ervarings te interpreteer en dus die vooroordele van ’n derdeparty-ontleding te vermy. 

Die werkswinkel het afgesluit met verskeie aanbevelings dat onder andere die volgende jaarverslag van gemeenskapsbetrokkenheid die onderliggende kulturele en motiveringskwessies wat met gemeenskapsbetrokkenheid as kernpilaar by die universiteit verband hou, ondersoek moet word, en dat SenseMaker® gebruik moet word om hierdie uitdagings te bestudeer en toekomstige gemeenskapsbetrokkenheidsaktiwiteite te beplan. 

Meer oor SenseMaker®  

Dit is ’n webgebaseerde, veelfasettige instrument wat deur die Cynefin-maatskappy ontwikkel is. Die toepassing is in die Cynefin Framework vasgelê. 

Dit is ontwerp om die gaping tussen kwantitatiewe data en die narratiewe konteks te oorbrug, en stel individue in staat om hulle eie ervarings te ontleed en deur wetenskaplike beskrywings (etnografie) betekenis daaraan te gee.  

.....

Die groep projekleiers van gemeenskapsbetrokkenheid het die SenseMaker®-werkswinkel by die NWU se Sports Village bygewoon.  

....

Bibi Bouwman, direkteur vir Volhoubaarheid en Gemeenskapsimpak, is by prof Dave Snowden, skepper van SenseMaker® en die Cynefin Framework. 

....

Prof Dave Snowden (middel) het die kantoor van die visekanselier op 5 Augustus besoek. Philip Malan, bestuurder in die kantoor van die visekanselier, Clement Manoko, uitvoerende direkteur vir Korporatiewe Verhoudinge en Bemarking, prof Linda du Plessis, adjunk-visekanselier vir Beplanning en Kampusbedrywighede (Vanderbijlparkkampus), prof Dave Snowden, Cynefin Wales, Elmi Bester, Cynefin in Suid-Afrika, Ntsikie Kote, hoofdirekteur vir Strategie, Bibi Bouwman, direkteur vir Volhoubaarheid en Gemeenskapsimpak, en Nkosinathi Tom, die NWU se direkteur vir Strategiese Vennootskappe en Spesiale Projekte, het hom ontmoet. 

 

Submitted on Mon, 08/19/2024 - 14:44