Wêreldkampioen, een in ʼn miljoen

Sy was slegs vyf jaar oud toe haar lewe een Saterdag in Oos-Londen onherroeplik verander het – toe daar uit tragedie ʼn kampioen verrys het.

“Ek onthou dit alles so goed,” vertel die nou 23-jarige Liezel Gouws, ʼn vierdejaar-Farmasie-student op die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus.

“Ek was een van die blommemeisies by my oudste niggie se troue. Daardie Saterdagaand het ek ʼn geweldige hoofpyn begin kry, en op pad na my ma-hulle toe, het ek flou geword. Dit is die laaste wat ek kan onthou.”

Wat gebeur het, was ʼn beroerte wat Liezel van haar vermoë om te kan praat, te kan loop en soveel meer ontneem het. “Gelukkig is my ma ʼn verpleegsuster en kon sy dadelik sien wat gebeur het. Sy het my onmiddellik hospitaal toe geneem, waar ek vir twee weke moes bly.”

Tóé begin die harde werk. Alles wat sy verloor het, moes weer herwin word. “Ek is eintlik dankbaar dat dit so vroeg in my lewe gebeur het. Alles wat ek geleer het, was nog vars in my geheue. Dit sou later baie moeiliker gewees het,” vertel sy.

Geleer het sy. In 2015 maak sy die 800 m-wêreldrekord in die T37-kategorie haar eie, en in 2018 verbeter sy haar eie rekord. In 2016 was sy deel van die Suid-Afrikaanse span wat aan die Paralimpiese Spele in Rio deelgeneem het. Sy het die finale rondte in sowel die 100m as die 400 m gehaal.

“My nefies, niggies en twee ouer broers het almal aan sport deelgeneem. Ek was van kleins af ʼn besige kind en wou altyd saam met my boeties rugby speel. In graad 6 het ek vir my ma gesê ek wil begin hardloop en sy het my aangemoedig om saam met die skoolkinders te oefen. Ek het eers in graad 7 uitgevind dat daar ook byeenkomste is waar kinders met gestremdhede kan deelneem,” verduidelik sy.

Van toe af was dit volstoom in een rigting vir hierdie atleet, wat aan Wesvalia Hoërskool in Klerksdorp gematrikuleer het.

Nou is haar visier weereens op Olimpiese glorie gerig, hierdie keer in Tokio, Japan, later vanjaar. Boonop het sy die voormalige hekkiesatleet en Afrika-rekordhouer, Sean Bownes, as afrigter aan haar sy. Dit is ʼn gedugte duo as daar al ooit een was. “Ek het eers onlangs by Sean begin oefen, maar ek is vreeslik gelukkig,” sê sy.

Hoewel Liezel die 800 m verkies, word dié afstand nie by die Olimpiese Spele aangebied nie. Daarom is die 200 m  en 400 m nou haar paspoort tot die Verre Ooste. Sy kry in April tydens die SA-kampioenskap die geleentheid om haar vliegkaartjie te bespreek, mits sy onder die top drie in albei items eindig.

ʼn Slim man sal nie teen haar kanse wed om dit te vermag nie.

........

 Liezel Gouws is een in ʼn miljoen.

 

Submitted on Thu, 03/18/2021 - 14:13