WaterNet-simposium ’n groot sukses

Water is ’n noodsaaklike komponent van lewe op aarde, en ons kan nie daarsonder oorleef nie. Die hartseer werklikheid is egter dat ons hierdie hulpbron as vanselfsprekend beskou en dat baie meer gedoen moet word om dit te bewaar.

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het sy deel gedoen deur die primêre gasheer van die 23ste WaterNet WARFSA/GWP-SA-simposium te wees wat vanaf 19 tot 21 Oktober 2022 by Sun City plaasgevind het.

Hierdie simposiums word die afgelope 22 jaar elke jaar in die Oostelike en Suider-Afrikaanse streke gehou.

Die tema van hierdie jaar se simposium was “Integrated Water Resources Development and Management: Leaving no one Behind for Water Security in Eastern and Southern Africa”.

Die gebeurtenis het die geleentheid verskaf vir navorsers, akademici, beleidsmakers, praktisyns van water- en verwante sektore, asook samewerkende vennote, om kennis uit te ruil en kundigheid te deel.

Die amptelike opening het by die Sun City-konferensiesentrum afgeskop, waar prof Nnenesi Kgabi, direkteur van Navorsingsondersteuning aan die NWU, die verrigtinge begin het.

Prof Linda du Plessis, adjunk-visekanselier vir Beplanning en Vanderbijlparkkampusbedrywighede, het die afgevaardigdes namens die NWU verwelkom, en gesê dat die NWU geëerd is om hierdie jaar se simposium aan te bied.

“Ons sien daarna uit om te verneem van die jongste bevindings van ons navorsers, staatsagentskappe en beleidsmakers wie se werk nou verwant is aan die bewaring van water.”

Die voorsitter van die WaterNet Trust, prof Hodson Makurira, en Marlies den Boer van die Koninklike Nederlandse Ambassade in Suid-Afrika het ook die gehoor toegespreek. Marlies het gesê dat waterbewaring nog altyd ’n prioriteit vir Nederland is, aangesien hulle onder seevlak lê, en hulle het verskillende belanghebbers byeengebring om te bespreek hoe water bestuur behoort te word.

“Ons het ’n sisteemverandering nodig – ons moet water anders waardeer en dinge anders doen,” het sy bygevoeg.

Dr Jennifer Molantwa, hoof- uitvoerende beampte van die Waternavorsingskommissie (WNK) van Suid-Afrika, het die simposium amptelik geopen.

“Mense van regoor die wêreld het vandag bymekaargekom, insluitende verteenwoordigers van ongeveer 40 lande, om te leer en hulle vaardighede en kennis oor geïntegreerde waterhulpbronontwikkeling en -bestuur te deel.

“Ons hoop dat oplossings gevind sal word en dat planne ontwikkel sal word om te verseker dat ons deur die bestuur van ons waterbronne in staat sal wees om die manier te verbeter waarop ons dinge doen om ons benadering tot geïntegreerde waterhulpbronbestuur te bevorder.”

Sy het bygevoeg dat die WNK WaterNet, sy vennote en die organisasiekomitee loof omdat hulle seker gemaak het dat hierdie jaarlikse simposium kon plaasvind, veral ná die Covid-19-pandemie.

“Die tema, dat niemand agtergelaat moet word nie, is gepas vir hierdie tyd. Ons ervaar die impak van klimaatsverandering wat die potensiaal het om party mense agter te laat. Die mense van Afrika kan dalk deel word van hierdie groep as ons nie daadwerklik optree nie,” het sy bygevoeg.

Die hoofspreker, prof Tafadzwanashe Mabhaudhi, het die eerste dag met sy toespraak getiteld “Achieving sustainable development under climate change: transformative futures for a water-secure world” afgesluit.

Op Dag 2 van die simposium was daar aanbiedings deur skoolkinders oor innoverende tegnologieë en benaderings vir volhoubare waterhulpbronne.

Leerders van die Mogwase Tegniese Skool, die Tswaidi Sekondêre Skool, die Itumeleng Sekondêre Skool en die Holy Family Sekondêre Skool het hulle wenke oor waterbesparing gedeel en die feit beklemtoon dat, namate die menslike bevolking groei, dit noodsaaklik is dat ons water spaarsamig moet gebruik.

Op die laaste dag van die simposium het die voorsitter van die Internasionale Wetenskapkommissie, prof Masengo Ilunga, die opmerkings en bekendstellings van die Internasionale Wetenskapkomitee en die span beoordelaars gedeel. Laastens het dr Monde Mabuku die lesse opgesom wat uit die simposium geleer is, en aangekondig dat die simposium van 2023 in Zanzibar, Tanzanië gaan plaasvind.

...

 Prof Linda du Plessis, Prof Hodson Makurira, Ms Marlies den Boer en Prof Tafadzwanashe Mabhuadhi

...

Afgevaardigdes gedurende een van die hoofsessies wat gehou is.

...

Mr Clement Manoko, uitvoerende direkteur vir Korporatiewe Verhoudinge en Bemarking 

...

Prof Krasposy Kujinga

 

Submitted on Thu, 12/08/2022 - 15:11