Wat ’n jaar vir Christa Ramasimong

Dit was ’n jaar waarin hoogtepunt op hoogtepunt gevolg het en waar een eer op ’n ander gevolg het. Christa Ramasimong ervaar ’n tyd wat nie net haar toekoms sal bepaal nie, maar ook wie sy regtig is. Die karakter van hierdie jong vrou word gesmee in ’n vuur wat aangewakker word deur haar vasberadenheid om sukses te behaal.

Hierdie student van die Noordwes-Universiteit (NWU) is by die Suid-Afrikaanse groep ingesluit vir die naderende FIH Vrouehokkiewêreldbekertoernooi wat van 1 tot 17 Julie in Spanje en Nederland gehou sal word.   As haar dienste tydens die toernooi benodig word, sal sy haar eerste nasionale kleure as senior ontvang.

Haar keuring volg op die FIH Junior Vrouehokkiewêreldbeker wat in Potchefstroom gehou is en waarvan die NWU die gasheer was. Christa was tydens die toernooi die selfversekerde kaptein van die Suid-Afrikaanse span in ’n prestasie wat verseker het dat meer eer sekerlik na haar toe sou kom.

En dit was ook so.

“Ek is verskriklik opgewonde. Dit is altyd ’n eer en ’n voorreg om jou land te verteenwoordig. Dit is een van my grootste prestasies om uit ’n junior opset te kom en by so ’n groot toernooi (die Junior Vrouehokkiewêreldbeker) betrokke te wees, en dan na die senior opset te beweeg. Om deel van die senior Wêreldbekerspan te wees, gaan ’n ongelooflike ervaring wees.  Ons sal vir die wêreld kan wys waaroor Suid-Afrika gaan. Om aan ’n groot toernooi soos die naderende Wêreldbeker deel te neem, beteken dat my hokkieloopbaan werklik aan die gang kom.  Ek dink dit gaan goed, en as ’n junior speler is dit vir my slegs die begin. Ek voel dit gaan van nou af harde werk, vasberadenheid en goeie tydsbestuur verg, asook om die spel te geniet. Dit gaan daaroor dat ek my passie kan uitleef,” sê Christa.  

Christa Ramasimong gaan in die jare wat voorlê na 2022 terugkyk as ’n bepalende tyd in haar lewe – as atleet en ook as persoon. Dit gaan ’n wonderlike herinnering wees.  

Submitted on Fri, 05/27/2022 - 12:27