Wagtye in gesondheidsorg kom onder die loep

Om vir mediese behandeling te wag, kan ’n saak van lewe en dood wees.

“Wagtye in gesondheidsorg is ’n noemenswaardige probleem wat regoor die wêreld voorkom en het dikwels ’n katastrofiese uitwerking – soos ons tydens die Covid-19-pandemie gesien het,” sê Maria van Zyl, ’n dosent in die Skool vir Bedryfsingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit (NWU).

Hoewel verskillende terme gebruik word vir die wagtye om gesondheidsorg te kan gebruik – soos “verblyf” (“sojourn”) en “deurvoer” (“throughput”) – sê Maria dat daar geen konsensus is oor hoe hierdie terme gedefinieer word nie.  Word die tyd wat ’n dokter byvoorbeeld wag dat ’n pasiënt vir ’n afspraak opdaag as wagtyd beskou?

“Dubbelsinnige definisies van wagtyd maak dit moeilik om die probleme wat met wagtye en oponthoude in gesondheidsorg verband hou, te vergelyk en te meet,” verduidelik sy.

Om te verstaan waarom wagtyd in gesondheidsorg ’n verwarrende konsep is, kyk Maria in haar studie na verskillende scenario’s.
Sy sê deel van haar studie is om ’n klassifikasie/raamwerk voor te stel waarvolgens wagtyd in gesondheidsorg vanuit ’n bedryfsnavorsings- en bedryfsbestuursperspektief gedefinieer kan word.

“Verskillende tipes vertragings in gesondheidsorg soos dit in die klassifikasie gedefinieer word, kan as gevolg van verskillende scenario’s wees. Met die klassifikasie/raamwerk in plek, is die volgende stap van my navorsing om werklike probleme met betrekking tot wag- en toegangstye op te los wat in vier verskillende privaat hospitale in Suid-Afrika ervaar word,” sê Maria.

Verskillende wagtydprobleme word met behulp van wiskundige modellering hanteer. Een so ’n probleem is om na die omkeertyd vir patologietoetse te kyk en die tipe patologietoetse, die ligging van die patologietoetse en die dringendheid van die uitslae in ag te neem.

“Dit kan dan weer die antwoord verskaf wat patologielaboratoriums by ’n spesifieke sentrum betref, soos die beste manier waarop flebotomiste (personeel wat bloedmonsters moet neem) aangewend moet word en die beste skedule om te gebruik wanneer bloedmonsters ingesamel word.” 

Maria kyk verder as bloedtoetse en hoop om ’n verskil regdeur die sektor te maak: “’n Bykomende probleem wat ek hoop om op te los, is die skedulering vir die operasiekamer (teater) volgens die verskeidenheid gevalle van ’n hospitaal om die wagtyd vir pasiënte vir elektiewe sowel as noodchirurgie te verminder. Bedryfsbestuurs- sowel as bedryfsnavorsingstegnieke kan hiervoor gebruik word.”

Oor die navorser

Maria van Zyl is ’n personeellid en dosent by die Skool vir Bedryfsingenieurswese aan die NWU. Sy is besig om haar PhD deur die Universiteit van Twente in Nederland te voltooi. Haar studies vereis dat sy werklike probleme oplos terwyl sy ook ’n akademiese bydrae lewer.

Maria v Zyl

Maria van Zyl

Submitted on Sun, 02/20/2022 - 12:21