Die woord “digitaal” handhaaf deesdae ’n sterk teenwoordigheid in feitlik elke sektor, saam met oproepe vir die heropleiding en verdere opleiding van die arbeidsmag ten opsigte van digitale geletterdheid en vaardighede sodat hulle in die toekomstige werksomgewing relevant kan bly. Die Covid-19-pandemie het klaarblyklik die tempo en dringendheid vir die verkryging van hierdie vaardighede versnel. Internasionaal word digitale geletterdheid en vaardighede deur navorsings- en adviesfirmas soos Gartner as noodsaaklik beskou om lewenslange leer en ’n doeltreffender bestuur van die arbeidsmag moontlik te maak, en die mededingendheid van beide werkgewers en werknemers te verseker.
Volgens UNESCO is digitale geletterdheid “die vermoë om inligtings- en kommunikasietegnologie te gebruik om digitale inligting te vind, te verstaan, te evalueer, te skep en te kommunikeer” – ’n vermoë wat kognitiewe sowel as tegniese vaardighede vereis. Hierdie vaardighede sluit kritiese denke, logiese redenering, kreatiewe probleemoplossing, selfevaluering, spanwerk en kommunikasie in.
As ’n professor in Digitalisering en Digitale Ekonomie aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool het prof Leenta Grobler in haar vorige rol as medeprofessor in Rekenaar- en Elektroniese Ingenieurswese die bekendstelling van hierdie vaardighede aangemoedig en dat kinders na die STEM-vaardighede (dié in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde) gelok moet word.
“Ek het deur die jare talle geleenthede gehad om studente te onderrig en waar te neem wanneer hulle vaardighede in digitale geletterdheid, rekenaarprogrammering en elektroniese ontwerp verwerf. Ek het studente uit geweldig uiteenlopende opvoedkundige agtergronde gesien waar hulle dieselfde tegnies uitdagende inhoud bemeester ongeag hulle pad voordat hulle begin het om ingenieurswese te studeer, en ongeag hulle vorige blootstelling aan tegnologie. Ek het ook gesien hoe hulle in die bedryf floreer, meer dikwels as gevolg van hulle ingesteldheid teenoor leer, hulle vasberadenheid en ‘sagte vaardighede’ soos doeltreffende kommunikasie, en hoe hulle uit hulle eie foute leer, as hulle bemeestering van die tegniese inhoud, hulle vermoë om handboeke te memoriseer, ’n klomp A’s te kry, of nooit foute te maak nie. Ons (ingenieurswesefakulteite) neem ’n skoon lei, en deur ’n kurrikulum wat noukeurig ontwerp is en wat deur kenmerke van die Ingenieursraad van Suid-Afrika (IRSA) gerig word, skep ons ’n unieke en kreatiewe ‘kunswerk’ – ’n student wat vir die behoeftes van die samelewing ontvanklik is, en hulle maak die wêreld ’n beter plek deur tegnologie te ontwikkel, te implementeer en te integreer.
“Dit is teen hierdie agtergrond, en as ’n ma van drie kinders wat tans in die laerskool is, dat ek in die aankondiging van die regering lees dat hulle twee nuwe skoolvakke (Kodering en Robotika) vir alle kinders tussen graad R en 9 wil bekendstel. Ek het die leerplan se riglyne bestudeer soos dit op die webwerf van die Departement van Onderwys geplaas is, en ek het verskeie rooi ligte sien flikker. Ek het toe my waarnemings met drie van die mees gerekende kundiges in opvoedkunde by my universiteit se Skool vir Wiskunde, Wetenskap- en Tegnologieonderwys gekontroleer. Hoewel ek heelwat praktiese onderwyservaring in ingenieurswese het, het hulle hulle loopbane toegewy aan die navorsing van die didaktiek vir die onderrig van kinders in die STEM-gebiede, wat op Rekenaarwetenskaponderwys en Tegnologie-onderwys fokus. Ek het dit gedoen om te verseker dat my mening nie beïnvloed word deur enigeen van die talle hoede wat ek moet dra nie, en ek was verstom om te vind dat hulle elke enkele een van my bekommernisse beaam,” sê prof Grobler.
Hulle bekommernisse oor die regering se plan is nie oor die doelwitte nie, maar eerder oor die gelaaide inhoud, die implementering en die volhoubaarheid van die plan. Hulle meen dat die fokus van die plan op die inhoud eerder as op vaardighede is. “Dit lyk ook heeltemal uit pas uit met die kontekstuele werklikheid van ons bestaande skoolstelsel in Suid-Afrika.”
Prof Grobler se vernaamste kwellings is die volgende:
- Vorm moet ná funksie kom: Die voorgestelde leerplan is nie in die kernbeginsels van grondige wetenskap- en wiskunde- en opvoedkundige beginsels gefundeer nie. Dit is ook nie belyn met die navorsing uit bewysgebaseerde studies van hoe digitale vaardighede oorgedra moet word nie, maar is eerder ’n lukrake mengsel van gonswoorde en tegnologieë wat vir die leek relevant klink, maar nie die hoërordevaardighede – soos dit deur UNESCO gedefinieer word – sal ontwikkel nie. Dit is ook nie by die bestaande Wetenskap- en Wiskunde-inhoud van die leerplan geïntegreer nie.
- Assessering sal die fokus in die klaskamer word: Die assesseringsplan is nie met die meting van hoërordevaardighede belyn nie. Die voorgestelde aktiwiteite is simplisties en sal nie bevoegdheid of vertroudheid met die vakinhoud tot gevolg hê nie. Trouens, dit kan meer skade as goed doen, en bloot net meer assesseringsgeleenthede byvoeg by ’n bestaande leerplan wat reeds oorvol is, met meer assesserings as geleenthede vir leer.
- Geen vordering tydens die implementering nie: Die plan behels gelyktydige implementering oor die meeste of al die grade, sonder dat daar verseker word dat die basiese kennis van die vorige jare op ’n progressiewe en samehangende wyse bekendgestel word.
- Onvanpaste opvoedkundige benadering: Onderrig in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde (STEM) vereis alternatiewe en betrokkenheidsonderrig en leerstrategieë wat anders as tradisionele onderrig is – ons het net nie die mensehulpbronne met die vereiste belangstelling of basis in STEM-metodologieë in ons laerskole om die voorgestelde twee nuwe vakke te onderrig nie. Die huidige implementering van Tegnologie in die KABV-leerplan is ’n uitstekende voorbeeld van waarom dit ’n swak idee is: onderwysers fokus op die teorie in die klas, terwyl al die praktiese opdragte huis toe gestuur word waar die ouers dit doen, of erger, entrepreneurs gebruik wat op die emosies van ouers teer om praktiese stelle te verkoop. Die opdrag word dan deur die skool geassesseer met behulp van oppervlakkige kriteria wat baie min met die kernbeginsels te doen het, maar wat eerder by die nasienrubriek inpas.
- Die digitale kloof word vergroot: ’n Onbedoelde gevolg van hierdie poging om vinnig digitale vaardighede by die leerplan in te werk, kan wees dat ons ’n groter digitale kloof skep. Ons het vandag steeds ’n baie groot ongelykheid in skole in Suid-Afrika – dié met goeie hulpbronne en dié wat dit nie het nie. ’n Groot gedeelte van ons skoolgaande bevolking het steeds nie toegang tot elektrisiteit en lopende water by die skool nie, wat te sê nog van kennis van ’n rekenaar of ’n robot. Nou verwag ons van hulle om veelvuldige programmeringstale te leer ken, en om robotte en ander ingewikkelde masjiene te bou.
- Geleenthede vir ondeurdagte entrepreneurskap: Die voorgestelde leerplan sal beduidende beleggings in rekenaars, internetverbindings, sagteware, elektroniese toerusting en opleiding vereis. Vir die persoon vir wie die relevante jargon onbekend is, kan ’n verkoopspersoon die wêreld in die vorm van kitsklaarstelle en ander vinnige oplossings beloof, sonder die versekering dat dit in die behoefte sal voldoen. Of erger: dit kan selfs meer verwarring in die denke van ons onderwysers skep.
Nadat sy hierdie kwessies geïdentifiseer het, het prof Grobler haarself afgevra: “Ons verwag tog nie van iemand met Biologie as matriekvak om as mediese dokter te begin praktiseer nie, waarom probeer hierdie leerplan hulle in dieselfde kort tydjie in ingenieurs verander?”
“Moenie my verkeerd verstaan nie, ek is nie daarteen dat kinders digitale vaardighede aanleer of by die STEM-gebied betrokke raak nie. Trouens, as die koördineerder van die Modiragatsi Youth Innovation-program leer ek hoërskoolleerders van probleemoplossing, hoe om berekenings te doen, en van produkontwikkeling. Ek leer hulle al digitale vaardighede van UNESCO, maar ek leer hulle nie ’n enkele programmeringstaal of verwag van hulle om elektronika te bou nie – ek leer hulle ’n manier van dink, van redeneer en om te kommunikeer sodat hulle dit in al hulle daaglikse take en probleme kan implementeer.”
Sy sê die motivering wat die regering gee waarom hierdie twee vakke onderrig moet word, sluit dikwels argumente oor kritiese denke en probleemoplossing in, en dat die inhoud van Wiskunde en Wetenskap meer tasbaar gemaak moet word, en natuurlik dat ons kinders vir die toekoms voorberei moet word. Maar is hierdie inhoud en hierdie spesifieke vakke die enigste manier om hierdie begrippe in die kurrikulum te integreer? “Kan aktiewe leer deur verkenning, samewerking en spel nie met vrug geïntegreer word by die huidige leerplan en met wat ons reeds besit nie, naamlik ons liggame, ons natuurlike nuuskierigheid, ons interaksie met vriende en die fisiese wêreld om ons? Dit is alles aspekte wat min of geen ‘tegnologie’ vereis om te bevorder en te implementeer nie.”
Prof Grobler sê dat ’n mens nie moet vergeet dat die samelewing meer as bloot tegnies-slim wetenskaplikes en ingenieurs nodig het nie. “Ons leef in ’n komplekse en gekonnekteerde samelewing wat ander baie kritiese vaardighede vereis wat die menslike ervaring definieer. Hierdie vaardighede word tydens die vroeë kinderjare deur eksplorasie en spel ontwikkel – twee dinge waarvoor daar skaars tyd is in die leerplan soos dit nou daar uitsien. Selfs al het ons die vaardighede om nuwe tegnologieë te ontwikkel, is die belangrikheid van interpersoonlike kommunikasie en ’n deeglike begrip van die sosiale en die fisiese wêreld fundamenteel in die skepping van produkte en oplossings wat nuttig is, ’n impak het, en goed by die werklike wêreld inskakel.
“Ek sê nie dat ons nie kreatiewe maniere moet vind om kinders toe te laat om die konsepte van wiskunde en wetenskap te implementeer, of om nuwe inhoud en onderwerpe by die leerplan bekend te stel nie. Ek glo egter nie dat die byvoeging van meer vakke die korrekte manier is om dit te doen nie. Trouens, ek glo dat dit ’n sinvolle tyd is om die hele skoolleerplan te herevalueer en te bepaal of die doelwitte bereik word. Ontwikkel ons die denke, kreatiwiteit en ingesteldhede van ons volgende geslag, of hou ons hulle met ’n spul inhoud met baie min impak besig?
“As ’n ouer vind ek dit frustrerend dat daar nie ’n enkele week omgaan sonder een of ander vorm van assessering wat in die klas plaasvind nie, en dat my kinders so uitgeput is ná ’n skooldag dat hulle nie buite wil speel of met hulle maats wil sosialiseer nie. En dat daar geen tyd of belangstelling is om die interessante aspekte van ’n wetenskaplike onderwerp te ondersoek nie, omdat dit ‘nie in die toets gevra sal word nie’.
“Maar as ingenieur wat sensitief is vir ons impak op die samelewing, is ek die bekommerdste oor die potensieel breër digitale kloof tussen openbare skole met goeie hulpbronne en dié daarsonder. Die een kan moontlik ’n toegewyde hulpbron aanstel om ’n Robotika-laboratorium by hulle skool te bou en te bedryf, terwyl die ander een nie eers elektrisiteit of lopende water by hulle skool het nie, en die befondsing beter kan aanwend deur eerder die grootte van die klasse in hulle bestaande vakke te beperk.
“Ons wil almal hê dat ons kinders as individue moet ontwikkel deur ’n leerplan wat internasionaal relevant is, maar ons kan dit nie op ’n verantwoordelike wyse doen deur bloot nog vakke met name wat relevant klink, by te voeg sonder dat ons die realiteit van onderwysers, kinders en ouers in ’n oorvol leerplan in ag neem nie. Kom ons begin van voor af en dink weer na, nie net oor hierdie twee nuwe vakke nie, maar oor die hele leerplan,” sluit sy af.
Oor prof Leenta Grobler:
Sy is ’n rekenaar- en elektroniese ingenieur wie se navorsingsloopbaan op die gebied van telekommunikasie begin het, waar sy op netwerkmodellering, ‑beplanning en ‑optimalisering gefokus het en met haar kontakte in die telekommunikasiebedryf saamgewerk het om te verseker dat haar navorsing relevant en prakties is. Sy het nog altyd ’n lewendige belangstelling in digitalisering en die outomatisering van handgedrewe prosesse gehad. Sy is sedert 2016 aktief betrokke by die ontwikkeling van instrumente en stelsels wat die digitalisering en analise van data sal moontlik maak, sodat besluitneming in gesondheidsorg (Digitale Gesondheid) ondersteun kan word. Sy doen dit deur IoT-tegnologie toe te pas op gesondheidsorgprobleme wat met pasiënte se nakoming verband hou, en wat die uitwerking van menslike foute op gesondheidsorgdata sal minimaliseer. Sy is tans as medeprofessor in Digitalisering en Digitale Ekonomie by die NWU Besigheidskool aangestel.