Waarom kinders boelies word

Straf is die eerste ding waaraan die meeste mense dink wanneer hulle uitvind ’n kind is ’n boelie. Hulle ondersoek selde die rede waarom die kind hulle maats emosioneel, verbaal en selfs fisies seermaak.  

Tebello Mabusela, ’n sielkundedosent by die Noordwes-Universiteit (NWU), bespreek die verskillende faktore wat moontlik tot boeliegedrag aanleiding kan gee, asook die tipe ondersteuning wat aan ’n “boelie” verleen kan word. Volgens Tebello is die wyse waarop ’n kind grootword, moontlike behoeftes wat nie aandag ontvang het nie, sosio-ekonomiese kwessies en blootstelling aan ’n gewelddadige en aggressiewe omgewing waar hulle moes veg om te oorleef ’n paar van die faktore wat kan veroorsaak dat ’n kind boeliegedrag openbaar.

Sy voeg by dat boeliegedrag ook aangeleerde gedrag kan wees. ’n Kind se omgewing speel ’n beduidende rol in die ontwikkeling van hulle persoonlikheid en karakter. Sy gebruik die idee van “’n kind is nie ’n eiland nie” – ’n kind se gedrag kan nie van sy omgewing geskei word nie: hy leer die gedrag by diegene om hom en boots dit na.

Op ’n sekere ontwikkelingstadium kan kinders hulleself van diegene om hulle onderskei en begin om hulle eie denke, emosies en gedrag te ontwikkel. Sommige kinders vind dit egter moeilik om hierdie onderskeid te maak, en gaan voort om tot met volwassenheid die gedrag na te boots wat hulle uit hulle omgewing aangeleer het.

Hulp wat vir boelies aangebied kan word

Hoewel daar verskillende negatiewe en positiewe versterkingstrategieë ten opsigte van boeliegedrag is, is erge straf gewoonlik die algemeenste metode wat gebruik word. Dit maak egter net die gedrag erger.

Tebello hou vol dat boeliegedrag ook met geestesgesondheidsprobleme soos angs, depressie en persoonlikheidsversteurings verband hou. “Daar moet aan sekere sielkundige behoeftes van ’n kind voldoen word vir hulle om goed as ’n volwassene te kan funksioneer. Wanneer daardie behoeftes nie bevredig word nie, en verwerping, aggressie en verwaarlosing ervaar word, ontwikkel ’n kind angs en depressie, wat in aggressie en woede teenoor hulleself en ander manifesteer.”

Die aggressie teenoor hulleself kan gewoonlik as selfbesering en gedagtes van selfdood geïdentifiseer word.

Sy beklemtoon dat die ondersteuning van gesondheidsorgkenners soos sielkundiges, maatskaplike werkers en psigiaters boelies kan help om trauma uit hulle kindertyd wat as woede en aggressie manifesteer, te verwerk. Hierdie gedrag kan deur psigo-opvoeding en ander intervensiemetodes verander word, soos om selfbewussyns-, gesonde hanterings-, positiewe aanpassings- en aanpasbaarheidsvaardighede aan te leer.


Tebello voeg by dat as boelie-eienskappe nie gekorrigeer word nie, dit tot in volwassenheid kan voortduur. “Hierdie volwassenes sal sukkel om hulle emosies te beheer, hulle sal nie insig hê in dié dinge wat hulle gedrag veroorsaak nie, en hulle sal op alle gebiede van hulle lewens gewelddadig en aggressief teenoor hulleself en ander wees,” sluit sy af.

Hoewel dit maklik is om straf te gebruik om boeliegedrag te probeer keer, word ander ingrepe aangemoedig.

Submitted on Thu, 07/01/2021 - 10:04