Talle artikels is onlangs op verskillende aanlyn nuusplatforms gepubliseer oor die heropening van grootwildjag in Botswana. Die meeste van hierdie artikels probeer om jag in ’n slegte lig te stel, of om te wys dat jag nie soveel tot die plaaslike ekonomie van die land of streek bydra nie.
Prof Peet van der Merwe van die navorsingseenheid TREES (Toerismenavorsing in Ekonomiese Omgewings en die Samelewing) by die Skool vir Toerismebestuur glo dat hierdie benadering baie nadelig vir die land se toerismebedryf is.
Navorsers by TREES het talle ekonomiese impakstudies oor jag uitgevoer. Onder hulle is een studie wat in drie van die voorkeurjagstreke/-provinsies in Suid-Afrika uitgevoer is, en in ’n eweknie-beoordeelde vaktydskrif gepubliseer is.
Daar is bewys dat die direkte ekonomiese impak van besteding deur die twee tipes jagters (trofee en biltong) in die streke (ongeveer R1,5 miljard vir Limpopo, R696 miljoen die Noord-Kaap en R655 miljoen vir die Vrystaat), ’n bykomende indirekte en geïnduseerde impak van R1,1 miljard (Limpopo), R78 miljoen (Noord-Kaap) en R705 miljoen (Vrystaat) tot gevolg gehad het.
Die totale besteding vir die streke was meer as R2,6 miljard in Limpopo, R774,3 miljoen in die Noord-Kaap en R1 360,7 miljoen in die Vrystaat. Die navorsing het bevind dat 31 436 werksgeleenthede in hierdie streke moontlik van jag afhanklik kan wees.
Die tweede studie, ook in ʼn eweknie-beoordeelde vaktydskrif gepubliseer, het net op die trofeejagbedryf in Suid-Afrika gefokus. Hierdie navorsing het getoon dat die totale impak van trofeejag in Suid-Afrika ’n bedrag van R5,4 miljard, of US$341 miljoen, beloop. Die studie het verder bewys dat trofeejag 17 685 werksgeleenthede in Suid-Afrika ondersteun.
Die positiewe impak van jag strek egter verder as slegs ekonomiese kwessies, soos ’n onlangse studie deur ’n meestersgraadstudent by TREES, “A comparison of the perceived environmental impacts of consumptive and non-consumptive wildlife tourism”, getoon het.
Hierdie studie is uitgevoer by ’n wildtuin van 30 000+ ha, wat ekotoerisme (nieverbruikswildtoerisme) en jagtoerisme (verbruikswildtoerisme) aanbied. Die vernaamste doelwit van hierdie navorsing was om die waargenome impak van verbruikswildtoerisme en nieverbruikswildtoerisme te vergelyk.
Die resultate het eerstens getoon dat die totale getal ekotoeriste wat die wildtuin in een jaar besoek het baie groter was (+/- 14 000) as die getal jagters (+/- 50) – meer mense, meer afval wat in hierdie sensitiewe omgewing gegenereer word. Veertig tot vyftig persent van die verbruikswildtoeriste (jagters) was besoekers wat teruggekeer het, vergeleke met die nieverbruikswildtoeriste, van wie minder as 10% die wildtuin weer besoek het.
Nog interessanter was die feit dat jagters (verbruikswildtoeriste) beduidend meer per nag betaal het (US$450 per persoon per nag) as die nieverbruikswildtoeriste (US$99 per persoon per nag). Dit het die wild wat gejag is, uitgesluit. As dit bygevoeg word, was die inkomste vir die wildtuin uit die 50+ jagters amper net so veel as die inkomste van die +/- 14 000 ekotoeriste. Verbruikstoeriste het dus minder mense betrek, maar het ’n hoër inkomste tot gevolg gehad, wat een van die fundamentele beginsels van volhoubare toerisme en ekotoerisme is.
Die studie het tweedens bevind dat nieverbruikstoeriste beduidend meer water gebruik het en oor die algemeen meer afval (kosafval en ander afval soos plastiek, blikkies, ens.) gegenereer het. Die feit is dat hoe meer toeriste daar in ’n gebied is, hoe groter is die impak op die gebied. Die studie het ook getoon dat die gemiddelde verblyf van nieverbruikstoeriste baie korter was as dié van die verbruikswildtoeriste. Een van die gevolge van ’n langer verblyf sal wees dat handdoeke en linne meer gereeld gewas moet word en dus ’n impak op waterverbruik sal hê.
Derdens, wanneer daar oor die algemeen na die houding en gedrag van die twee groepe gekyk word, het die studie bevind dat die verbruikswildtoeriste (jagters) geneig was om bewaring beter te ondersteun en dat hulle meer kennis van die natuurlewe en die omgewing gehad het. Hulle het ander oor die natuur en die natuurlewe ingelig, terwyl nieverbruikswildtoeriste (ekotoeriste) nie soveel vir die wild omgegee het nie, maar eerder na hulle eie behoeftes omgesien het. Hulle het byvoorbeeld gevoel dat hulle betaal om by die lodge te bly en het daarom die reg gehad het om te veel water te gebruik.
Volgens prof Van der Merwe moet ’n mens vir Botswana en ander lande die kans gee om met grootwildjag voort te gaan, veral tydens hierdie moeilike tye. Soos gesien is in die studie wat hierbo genoem word, het jag ’n kleiner impak op die omgewing as wat ekotoerisme het, en dra tot die plaaslike ekonomie van die gebiede/lande by waar grootwildjagters bedrywig is.
“Dit is duidelik dat jag ’n kritieke rol in Afrika te speel het,” sê hy.
Prof Peet van der Merwe.