Professor Waldo Krugell, ’n ekonoom by die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurwetenskappe aan die Noordwes-Universiteit (NWU), gee ’n vooruitskouing oor wat verwag kan word wanneer die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, op 21 Februarie sy 2024 Begrotingstoespraak gaan lewer.
Baie gaan hierdie week voor en ná die Begrotingstoespraak gesê word. Dit is normaal om bekommerd te wees oor hoe dit jou sak gaan raak – byvoorbeeld, kan die minister die bedrag van die toelaes en ouderdomspensioen ’n bietjie verhoog, of wat gaan met sondebelasting en die brandstofheffing gebeur? Ekonome het egter ’n baie breër uitkyk en sal oor die volhoubaarheid van die fiskale situasie praat.
Eenvoudig gestel, gaan dit oor die moontlikheid of die regering in staat sal wees om sy bestedingsplanne, belastingplanne en finansiering van die tekort oor die volgende drie jaar en daarna voort te sit. Daar is verskeie dinge wat verkeerd kan loop. Die belastinginkomste waarvoor die minister begroot, is aan die grootte en groei van die ekonomie gekoppel. Indien die groei verlangsaam, krimp die belastinginkomste. Terselfdertyd is daar baie druk vir ekstra besteding, soos die voortsetting van toelaes en die finansiële hulp aan ondernemings in staatsbesit. Saam gesien, beteken minder belastinginkomste en meer besteding dat die regering meer moet leen.
Daar is ’n paar probleme wanneer daar meer geleen word. Ons redelike groot tekort word teen besondere hoë rentekoerse gefinansier vergeleke met ander ontluikendemarkekonomieë. Dit stoot die koste vir die diens van die skuld op. Skulddienskoste as ’n deel van die hoofbegrotinginkomste het van 11,9% in 2024/25 na ’n geprojekteerde 19,4% in 2024/25 toegeneem. Dit is amper 20 sent van elke rand van belastinginkomste wat ingesamel word. Dit lê ander besteding aan bande. Wanneer ’n mens besef dat die vergoeding van regeringsamptenare 36% van die huidige inkomste uitmaak en uitgawes aan huishoudings ’n verdere 35%, is daar nie baie inkomste vir ander besteding oor nie.
Die ander kwessie is, wie gaan die regering se effekte koop? Buitelandse beleggers het oor die afgelope tien jaar uit die effektemark onttrek ten spyte van die relatief hoë rentekoerse wat ons bied. Suid-Afrikaanse finansiële instellings, veral die banke, het ingegryp, maar die Reserwebank het gewaarsku dat vir die banke om nog meer effekte te hou, ’n risiko vir die stabiliteit van die finansiële stelsel kan begin inhou. Daarbenewens kan die aanbieding van hoë rentekoerse om beleggers te lok kapitaal duur maak vir ander leners – soos maatskappye – wat effekte wil uitreik. Dit beperk beleggings. In die geheel gesien, is dit nie voor die hand liggend om te bepaal op watter vlak die skuldlas onvolhoubaar raak nie, maar op ’n hoë vlak skep dit onsekerheid, wat ’n negatiewe impak op die wisselkoers het. Dit is sleg vir inflasie, rentekoerse, die verbruiker, sakeondernemings, en die ekonomie.
Ekonome gaan dus luister om te hoor watter planne die regering se finansies op ’n volhoubare voet gaan plaas. Dit beteken dat belasting verhoog moet word, of dat besteding gesny word.
Hoewel idees soos ’n welvaartbelasting op individue of belasting op die baie hoë winste van ’n bepaalde bedryf van tyd tot tyd deur die media opgehaal word, is daar geen ernstige voorstelle vir ’n beduidende verhoging in belasting nie. Ons belastingbasis is redelik klein. Daar is ongeveer 385 maatskappye in Suid-Afrika wat meer as R200 miljoen in belasbare inkomste verdien, en hulle dra 65% van die totale maatskappybelastinginkomste by. Ongeveer 1,2 miljoen persoonlike inkomstebelastingbetalers verdien meer as R500 000 per jaar en hulle verteenwoordig ongeveer 65% van die totale persoonlike belastingaanspreeklikheid. Daar is min of meer 275 000 belastingbetalers wat meer as R1 miljoen verdien. Hierdie groep verteenwoordig 2% van die belastingbetalers en dra meer as 35% van die totale persoonlike belastinginkomste by. Daar is egter net ’n paar ganse wat die
goue eiers lê, en dalk moeilik om vas te pen. Enige beduidende belastingverhogings gaan waarskynlik negatiewe gevolge vir beleggings en ekonomiese groei inhou.
Om besteding te besnoei, is ook nie maklik nie. Die regering doen dit nou al jare lank sonder veel sukses. Onlangse besnoeiings is ingestel deur vakante poste te bevries en besteding weg van goedere en dienste, instandhouding en kapitale besteding vir die betaal van salarisse te herprioritiseer. Verdere besuinigingsmaatreëls kan ’n diensleweringskrisis veroorsaak, waarvan ons reeds ’n gedeelte kan sien, soos provinsiale gesondheidsdepartemente wat nie dokters kan aanstel nie.
Wat ekonome dus graag wil hoor, is dat besnoeiing op besteding sal saamgaan met ’n diepgaande hersiening van begrotings en besteding. Dit sal beteken dat programme in werklikheid gestaak, departemente gekonsolideer en vir getal werknemers verminder moet word. Reddingsboeie wat gegee word, moet streng voorwaardes insluit, maar dan weet instellings soos Eskom en Transnet dat hulle te groot is om tot niet te gaan. Een manier om die minister se besluit te demonstreer, is om toe te laat dat die Poskantoor tot niet gaan. Indien die minister toekomstige besteding aan bande kan lê, sal dit ook help. Dalk moet ’n multijaar-loonooreenkoms wat onder inflasie bly, beding word, of befondsing vir die NGV of ’n basiese inkomstetoelae moet heeltemal van die tafel af verdwyn. Indien dit kennelik onrealisties is vir ’n verkiesingsjaar, gaan kleiner beloftes waarskynlik slegs ’n geringe impak op besteding en die volhoubaarheid van die fiskale posisie hê.
Al hierdie probleme kan egter deur vinniger ekonomiese groei opgelos word. Die probleem is dat belastings en besteding ’n baie klein deel uitmaak van dit wat die ekonomiese groei aandryf, en daar is baie min wat die Minister van Finansies met geloofwaardigheid in die Begrotingstoespraak kan belowe. Hervormings is nodig wat die privaat sektor sal toelaat om die gaping te vul wat deur ’n mislukte regering veroorsaak is, maar dit is ver buite die mandaat van die Tesourie en die bestek van die Begroting. ’n Moeilike toespraak lê Woensdag vir die Minister van Finansies voor.
Professor Waldo Krugell