Volgens prof Meyer lyk dit of daar verwarring is ten opsigte van konsepte soos ekonomiese groei, ekonomiese ontwikkeling en radikale ekonomiese transformasie – veral waar dit op Suid-Afrika van toepassing is. Die term “radikale ekonomiese transformasie” het byvoorbeeld ’n slagspreuk geword (die frase is onder andere ses keer in president Jacob Zuma se 2017-staatsrede gebruik), maar die dubbelsinnige aard van die konsep verwar Suid-Afrikaners – selfs kabinetsministers.
“Hierdie konsepte word in sommige gevalle verkeerdelik as uitruilbaar en as sinonieme gebruik,” sê prof Meyer. In die volgende meningstuk verduidelik prof Meyer bogenoemde konsepte binne die Suid-Afrikaanse ekonomiese omgewing.
Ekonomiese groei
Ekonomiese groei is ’n eenvoudige konsep en verwys net na die ekonomiese aktiwiteit of uitset tydens ’n spesifieke tydperk. Die groei word kwantitatief gemeet en staan ook as die bruto binnelandse produk (BBP) bekend.
Suid-Afrika het die afgelope paar jaar die ontwikkeling beleef van ’n nuwe verskynsel wat as “groei sonder werkskepping” bekend staan. In hierdie geval weerspieël die land se ekonomiese groei nie enige werkskepping tydens die bepaalde tydperk nie. Daardie verskynsel word dus gelyk gestel aan eksklusiewe groei, in teenstelling met inklusiewe groei.
Ekonomiese ontwikkeling
Vergeleke met ekonomiese groei is ekonomiese ontwikkeling meer omvattend en ’n inklusiewe ekonomiese doelwit wat ’n ekonomie moet bereik. Ekonomiese ontwikkeling sluit BBP-groei sowel as die skepping van werk en die verbetering van die lewensgehalte en lewenstandaard van alle inwoners van ’n land in. Ekonomiese ontwikkeling is daarom gelyk aan inklusiewe groei waar die voordele van groei en welvaart ’n positiewe impak op alle inwoners het. Dit is binne hierdie konteks dat radikale ekonomiese transformasie na vore kom.
Ekonomiese transformasie
Vir ekonomiese transformasie om in ’n land soos Suid-Afrika plaas te vind, word ’n strukturele transformasie van die ekonomie vereis. Die strukturele transformasie moet drasties genoeg wees om die ekonomie op só ’n manier te beïnvloed dat dit werkloosheid, armoede en ongelykheid verminder.
Die tipes strukturele transformasie wat in Suid-Afrika nodig is sodat ekonomiese ontwikkeling kan plaasvind, sluit in:
- Fiskale en monetêre hervorming, met spesifieke verwysing na die verbreding van die belastingbasis van die land
- Politieke stabiliteit. Die voortslepende onstabiliteit in die kantoor van die president en die ministerie van finansies strem buitelandse direkte investering (BDI), wat dringend nodig is.
- Arbeidswetgewing en regulasies moet hersien word. Sommige van die bestaande wette en regulasies verhinder kleinsake-ontwikkeling en as sodanig ook die skepping van werk
- Stabiele regeringsbeleidsontwikkeling. Die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) as strategiese plan moet onmiddellik geïmplementeer word
- Mensekapitaalhervorming. Die hele Suid-Afrikaanse skoolstelsel moet getransformeer word om ook ’n spesifieke fokus op tegniese vaardighede en entrepreneurskap in te sluit
- Infrastruktuurontwikkeling en instandhouding
- Teenkorrupsiemaatreëls moet in plek kom en geïmplementeer word
- Swak presterende instellings sluit die parlement en die openbare beskermer in, en ondernemings in staatsbesit (SOI) soos Eskom, Transnet en die SABC moet aanspreeklik gehou word vir die impak wat hulle op die ekonomie het
- Die maatskaplike welsynsprogram – SASSA – moet hersien word. Dit het nie daarin geslaag om mense uit hulle armoede op te hef nie
- Vennootskappe en vertroue tussen die regering en die privaat sektor moet gesien word as basiese vereistes vir ekonomiese ontwikkeling
- Suid-Afrika het ’n ekonomiese plan met ’n sektorale fokus nodig. Die fokus van só ’n plan moet op die ekonomies-gebaseerde sektore wees, wat landbou, mynbou, toerisme en vervaardiging insluit.
Met die huidige ekonomiese omgewing wat ’n lae groei, hoë inflasie, ’n onstabiele geldeenheid en hoë rentekoerse lewer, het Suid-Afrika dringend ’n intervensie in die vorm van ’n “KODESA vir Ekonomiese Ontwikkeling” nodig. Ter wille van ekonomiese oorlewing het ons beleidsekerheid, ’n stabiele geldeenheid, politieke leierskap, wet en orde, en grondhervormingstabiliteit nodig.
Prof Danie Meyer