Waardes is ’n dryfkrag vir die NWU

Die Noordwes-Universiteit (NWU) is trots daarop om ’n waardegedrewe instelling te wees en is tans besig met ’n veldtog om die waardes wat as riglyne dien vir personeel, studente en ander belanghebbers, weer bekend te stel.

Die veldtog het in Maart 2022 afgeskop met ’n kookkompetisie vir die Universiteitsbestuurskomitee (UBK) en ’n amptelike bekendstelling in die vorm van ’n gala-aand.

Die proses wat tot hierdie amptelike bekendstelling gelei het, het egter ’n rukkie gelede al begin, en ’n klomp harde werk is al gedoen om hierdie punt te bereik.

Die proses begin

Die proses het in 2019 begin toe die NWU oor sy kultuur besin het en areas vir verbetering geïdentifiseer het.  

Verdere vordering is in 2020 gemaak met die “To Be”-kultuurprojek om ’n verenigde NWU-kultuur te formuleer. Die Covid-19-pandemie het die proses tot stilstand gebring, maar die beplanning het deur middel van webinare en op ander aanlyn platforms voortgegaan.

’n Deel van die beplanning was die organisatoriese burgergedragsprojek waar lede van die NWU-familie kon bymekaarkom om hulle stories te vertel van hoe hulle mekaar ondersteun, en hoe hulle die werkplek ervaar. Nog ’n hoogtepunt was die Jerusalema-dansuitdaging, wat bygedra het tot die skepping van ’n gevoel van institusionele solidariteit en eenheid binne die NWU.

Die “To Be”-waardes is geïdentifiseer en die kultuurprojek is in 2021 hersien en goedgekeur. Hierdie jaar, met die Covid-19-beperkings wat verslap is, kon die veldtog amptelik aan die gang gesit word.

Die pad vorentoe

Nou, in 2022, is Mense en Kultuur opgewonde om hierdie waardes weer bekend te stel en dit vir elke student en personeellid en die NWU-gemeenskap in die algemeen te laat herleef.  

Die waardes is: Deernis en inklusiwiteit; Omarming van diversiteit; Deursigtigheid; Uitnemendheid in alles wat ons doen; Etiek in alles wat ons doen; Verantwoordelikheid en aanspreeklikheid; en Akademiese vryheid en vryheid van navorsing.

Prof Linda du Plessis, waarnemende visekanselier, beklemtoon dat dit nie die bekendstelling van nuwe waardes was nie, maar eerder ’n heraanbieding en hernuwing van die verlangde waardes van ’n verenigde NWU-kultuur – die NWU-manier.

Die waardes sal op verskillende wyses op al drie kampusse bekendgestel word.  Nuwe baniere wat die waardes vertoon, is op die kampusse geplaas en talle projekte sal deel van die bekendstelling vorm. Dit sluit ’n sypaadjiekunsveldtog in waar personeel en studente uitgedaag sal word om te teken, iets uit te stal of te illustreer wat deernis, inklusiwiteit en die omarming van diversiteit vir hulle beteken.  Dit sal met bordkryt op verskeie sypaadjies op die verskillende kampusse gedoen word.  Tydens die Mei-bekendstelling sal pryse toegeken word vir deelname aan die verskillende aktiwiteite – hou dus julle oë oop!

Mense en Kultuur beplan ook opwindende projekte vir die res van die jaar wat alle vlakke van die universiteit sal insluit.  

Prof Linda sluit af: “Die doel van die veldtog is om ons waardes op so ’n wyse aan te bied dat mense op ’n praktiese wyse kan sien hoe dit in gedrag omgesit word. Ons kan onsself nie ’n waardegedrewe universiteit noem as daardie waardes nie sigbaar is in alles wat ons personeel en studente doen nie.”

Vir meer inligting en nuwe aankondigings oor opwindende gebeurtenisse, besoek die NWU-manier se webwerf: NWU Values and Value-Driven Behaviours | NWUWay | Services | NWU | North-West University.

 

Submitted on Mon, 05/23/2022 - 15:34