Die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Opvoedkunde in Vanderbijlpark het onlangs by die wêreldgemeenskap aangesluit om Wêreldvoedseldag te vier. Die fakulteit het op 16 Oktober ’n spesiale lesing oor voedselsekerheid en die uitwissing van wêreldwye honger aangebied.
Veronica Cronje, uitvoerende direkteur van die Lusa-gemeenskapskas, het lede van die kampusgemeenskap toegespreek oor die verskillende maniere waarop plaaslike gemeenskappe ’n positiewe impak op voedsel- en voedingsekerheid kan maak.
As ’n gemeenskapsontwikkelingspesialis het Veronica se toespraak gefokus op praktiese maniere waarop lewens verbeter en langtermyn- maatskaplike verandering geskep kan word.
Om die droewige toestand van wêreldwye voedselonsekerheid te illustreer, het Veronica verskeie ontstellende navorsingsbevindings gedeel wat deur die Verenigde Nasies geïdentifiseer is. Hierdie bevindings sluit in:
- Dat dit 1 000 jaar neem om 3 cm gehaltebogrond te genereer;
- Dat as die huidige koers van gronddegradasie voortgaan, die hele wêreld se bogrond binne die volgende 60 jaar weg kan wees; en
- Dat ongeveer ’n derde van die wêreld se bewerkbare grond reeds gedegradeer het.
Die oorsake van die vernietiging van grond sluit boerderytegnieke met baie chemiese middels, ontbossing – wat erosie laat toeneem – en aardverwarming in.
Veronica sê dat dit nou die tyd is om op te tree en dat gemeenskappe moet ophou om vir die regering of beleidmakers te wag om kwessies met betrekking tot voedselonsekerheid te hanteer.
“Elkeen van ons kan deur bewuste besluite te neem om omgewingslim te wees, ’n impak maak. Hierdie impak kan, as dit vermenigvuldig word, ’n rimpeleffek op plaaslike gemeenskappe, die land en uiteindelik die vasteland hê,” het sy verduidelik.
Die twee belangrikste eienskappe wat nodig is om ’n omgewingslim opsigterskap te handhaaf, is volgens Veronica om waaksaam te wees en aanpasbaarheid te openbaar. “Ons word op ’n wêreldwye skaal met ’n dilemma gekonfronteer, en daarom moet ons vir ons eie behoud uit ’n blote oorlewingstoestand ontsnap en die werklikheid in die gesig staar.”
Wat jy vandag doen, sal jou môre bepaal
Veronica het tydens die lesing gefokus op twee intervensies om voedselonsekerheid teë te werk, naamlik: om met akwaponika te boer en om eetbare sampioene te kweek. Akwaponika bestaan uit ’n geïntegreerde stelsel of verhouding tussen ’n visboerdery en die kweek van groente. Visafval verskaf waardevolle voedingstowwe aan plante, terwyl die plante op hulle beurt die afval absorbeer en skoon water vir die visse verskaf.
Aan die ander kant verteenwoordig die kweek van eetbare sampioene ’n goeie bron van voeding. Sy verduidelik dat selfs individue sonder grond sampioene binnenshuis kan kweek en dat verrottende materiaal – waarvan daar groot hoeveelhede natuurlike afval elke jaar geskep word – as ’n substraat vir die kweek van sampioene hergebruik kan word.
“Wanneer ons slim met die omgewing omgaan, besef ons dat gemors nie gemors is totdat dit gemors word nie,” sê Veronica, en sluit af deur te sê dat kreatiewe gemeenskappe en maatskappye tot volhoubare intervensies kan bydra, veral op die gebied van afvalbestuur, deur die implementering van unieke omgewingsoplossings (soos akwaponika en die kweek van eetbare sampioene).
Protea Boekwinkel in Vanderbijlpark het ‘n boekuitstalling gehou en verskeie studente is tydens ‘n gelukstrekking met boekwinkel-koopbewyse bederf.
* Die Lusa-gemeenskapskas is ’n niewinsgewende en openbare weldaadsorganisasie wat leiding en ondersteuning gee by inklusiewe gemeenskapspogings wat kapasiteit bou en hulpbronne mobiliseer om lewens te verbeter en langtermyn- maatskaplike verandering te skep, en ook daaraan deelneem.
Cobus Olivier, ‘n dosent verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde, het die kampus se Wêreldvoedseldag-aktiwiteite gekoördineer.
Anne-Marie Oosthuizen (Protea Boekwinkel Vanderbijlpark), Cobus Olivier en Veronica Cronja (Lusa-gemeenskapskas