Die skaal van die verdere uitgebreide eensydige tariefverhogings van die Verenigde State (VSA) wat deur president Donald Trump aangekondig is, gaan nie net ’n yslike wig in die wêreld se multilaterale handelstelsel indryf nie, maar is ook vir die Suid-Afrikaanse ekonomie slegte nuus.
In sy kommentaar op president Trump se vryheidsdagaankondiging van die uitgebreide hoër tariewe op die wêreldekonomie sê prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, dat die internasionale impak van die veel hoër tariewe van die VSA die wêreldwye waardekettings gaan ontwrig. Hy sê dit gaan vergelding tot gevolg hê, inflasie aanwakker, inflasie aan die brand steek, die ekonomiese groei van die wêreld aan bande lê en die herprysing van risiko’s in finansiële markte aan die gang sit.
“Die wêreld se handelstelsel is by ’n kruispad, en die wêreld se reaksie is om verstaanbare redes baie negatief. Tariefoorloë het ’n swak geskiedenis. Watter voordele daar moontlik as gevolg van die baie hoër tariewe vir die VSA se ekonomie kan wees, was ’n beleid waar een land ten koste van ander bevoordeel word nog nooit goeie nuus vir die wêreldekonomie nie.”
Prof Parsons wys daarop dat die bykomende ekonomiese skade gewoonlik hoog is. Al die ekonomiese bewyse dui daarop dat daar as gevolg hiervan baie meer verloorders as wenners gaan wees. Party ekonomieë kan potensieel tot op die randjie van ’n resessie gedryf word, met meegaande werksverliese en selfs maatskaplike ontwrigting.
Volgens prof Parsons het die bykomende VSA-tariewe ’n veel groter koste tot gevolg en hulle onvoorspelbaarheid gaan die pyn vererger. Selfs ná die jongste waterskeidingsaankondiging deur president Trump behou die VSA die reg voor om tariewe vinnig en soms terug te trek of weer in te stel. Hierdie onseker omgewing wat deur die konstante verandering in die reëls van die spel veroorsaak word, veroorsaak dat handels- en beleggingsbesluite deur besighede baie problematies word. Onsekerheid oor tariewe kan net so ekonomies skadelik wees as die tariewe self.
“Hoër tariewe van 30% op Suid-Afrikaanse uitvoere na die VSA is ook ’n ernstige teenwind vir Suid-Afrika. Suid-Afrika het ’n kalm en pragmatiese benadering nodig wat op bewysgebaseerde huiswerk gegrond is. Veral die motorvoertuigsektor gaan besonder hard getref word. Om die hoër handelstariewe van die VSA te probeer bestuur, moet Suid-Afrika die nodige ekonomiese diplomasie aan die dag lê om te probeer om die ekonomiese skade te neutraliseer en die situasie te stabiliseer. Met president Trump se wederkerige benadering tot tariewe moet Suid-Afrika kyk watter handelsaanpassings moontlik gemaak kan word om toegewings te verkry om die situasie te probeer verbeter.”
Prof Parsons sê Suid-Afrika moet die situasie ook met omsigtigheid aanpak en alternatiewe markte begin identifiseer wanneer die VSA agter beskermende hindernisse inbeweeg. Die isolasionistiese rigting van die VSA se handelsbeleid is nou baie duidelik en is die nuwe normaal. “Vir Suid-Afrika is die vryhandelsooreenkoms in Afrika (die African Continental Free Trade Agreement, ACFTA) ’n bestaande meganisme wat daarna streef om die bestaande hindernisse ten opsigte van intra-Afrika-handel te verminder. Ekonomieë in Afrika, insluitende Suid-Afrika, sal stadigaan moet begin integreer namate die VSA hulle onttrek. Die ACFTA moet ’n baie hoër prioriteit gegee word.
“Voorts, aangesien die wêreldekonomie nou waarskynlik minder ondersteunend teenoor binnelandse groei gaan wees, word dit nog meer nodig dat Suid-Afrika ’n sterk strategiese rol in groeibeleid inneem om die negatiewe gevolge van eksterne skokke te neutraliseer. Die behoefte om interne strukturele hervormings te versnel, is gevolglik uiters dringend. Die regering se beleid en besigheidstrategieë sal by ’n nuwe reeks risiko’s moet aanpas, en nuwe of alternatiewe ekonomiese geleenthede moet ook ondersoek word. Om dit reg te kry, moet Suid-Afrika die beste raad moontlik inwin om die nodige oplossings te bespoedig en te implementeer.”