Die slegte nuus van die jongste evaluering deur die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) van die impak van handelsoorloë en beleidsonsekerheid op die wêreldekonomie is nie onverwags nie. Dit beklemtoon nietemin die omvang van die ekonomiese skade wat as gevolg van die onlangse ongebreidelde proteksionisme van die Verenigde State van Amerika (VSA) en die wyer gevolge daarvan verwag is.
In sy kommentaar oor die jongste bywerking van die IMF rakende die ekonomiese vooruitsig in die wêreld sê prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, dat die IMF met sy verlaging van sy globale groeivooruitsig vir 2025 vanaf 3,3% tot 2,8% waarsku dat dit nietemin groot wisselings regoor lande verskuil en universeel negatief is.
“Hoewel ’n wêreldwye resessie onwaarskynlik is, verwag die IMF dat beide die opkomende markte en die ontwikkelde ekonomieë, insluitende die twee grootstes, naamlik die VSA en China, baie stadiger sal groei. Dit is dus nou duidelik dat die wêreldekonomie minder ondersteunend is vir binnelandse ekonomiese groei. Die IMF het boonop twee voorspellings van bepaalde betekenis vir Suid-Afrika se groeivooruitsigte.”
Prof Parsons sê die IMF het Suid-Afrika se groeivooruitsig vir die bruto binnelandse produk (BBP) vir 2025 vanaf 1,5% na 1% verlaag, maar voorspel ook dat Suid-Afrika teen 2030 ’n groeikoers van slegs 1,8% sal bereik.
“Dit is in die lig van sy sosio-ekonomiese uitdagings bloot nie goed genoeg vir Suid-Afrika nie. Dit skiet ver tekort van die teiken van die Regering van Nasionale Eenheid (RNE), wat graag 3%- inklusiewe groei in die medium termyn wil hê. Groot beleggings en arbeidsryke groei vereis vertroue in die toekoms. Daar moet ’n hernude klem op die versnelling van belangrike strukturele hervormings geplaas word.”
Prof Parsons sê ’n strategiese draaipunt in die groeibeleid is dringend nodig om ekstra ekonomiese buffers te skep, en aanpasbaarheid is nodig om eksterne skokke kragdadig te hanteer, en om te verseker dat winde van agter die teenwinde in 2025 sal kan oortref.