Voormalige Bokkaptein Adriaan Strauss kry sy MBA by die NWU... met onderskeiding

Die voormalige Springbokkaptein en vuurvreter-haker vir die Cheetahs en Bulls, Adriaan Strauss, het Donderdag 25 April sy Meestersgraad in Besigheidadministrasie (MBA) by die Noordwes-Universiteit (NWU) met onderskeiding ontvang.

Die gradeplegtigheid het op die NWU se Potchefstroomkampus plaasgevind.

Strauss het in 2022 by die NWU se Besigheidskool vir sy MBA ingeskryf en twee jaar later spog hy met nóg ʼn kwalifikasie agter sy naam.

Wat is dan moeiliker, om ʼn MBA te voltooi of om die All Blacks aan te durf? “ʼn MBA vat ʼn bietjie langer as ʼn toets teen die All Blacks, maar die All Blacks is nie ʼn man se maat nie. Dalk as ʼn toets teen die All Blacks twee jaar geduur het...,” skerts die veteraan van 66 toetse. “Ek sal sê die All Blacks!”

Strauss sê hy sal sy reis in die akademiese wêreld vir niks verruil nie, maar hy draai nie doekies om oor wat dié internasionaal geakkrediteerde kursus vereis nie.

“Dit was ʼn ongelooflike ervaring; ek het elke oomblik geniet en ek het myself soveel verbeter. Dit is die beste ding wat ek kon gedoen het. Ek sal enigiemand aanraai om ʼn MBA by die NWU te doen. Dit verg wel baie toewyding en werk. My advies is om vir die twee jaar wat die kursus loop alles in te neem wat aangebied word. Maar jy moet voorbereid wees en weet wat vir jou wag.”

Op die veld was hy geken vir sy uitsonderlike leierskap asook werkverrigting, en laasgenoemde was ʼn waardevolle pyl in sy akademiese koker.

“Daar is ʼn groot verskil tussen agter die boeke sit en om op die veld te wees. As ʼn professionele rugbyspeler moet jy elke dag oefen en jy moet deurentyd aan jou fisiese kondisionering werk. Ek dink dit is daardie werksetiek wat my met my studies gehelp het. Dan is daar ook die kwessie van mededingendheid. Tydens my MBA het ek elke dag teen myself gekompeteer en ek het seker gemaak dat elke opdrag wat ek ingegee het iets was waarop ek trots was. Dit is ʼn groot volume werk en daar is druk, maar ek wou nie substandaardwerk lewer nie.”

Dit is ʼn ingesteldheid wat vir hom vrugte afgewerp het. Hy gaan nog lank aan daardie onderskeiding smul.

“Jissie, dis nogal lekker. My doel was net om deur te kom, so om met ʼn onderskeiding te slaag was ʼn verrassing,” vertel hy.

Nou is hy nog beter gerat om sy sukses op die veld in die besigheidwêreld te ewenaar. Selfs te oorskry.

“Die inhoud van die studie en die materiaal is baie relevant, en ek het dit klaar met groot sukses toegepas. Jy leer nie net boekkennis nie, maar ook hoe om in ʼn groep saam te werk en hoe om jou tyd beter te spandeer. Dit het my denkwyse verskuif en my geleer hoe om probleme op te los. Dan moet ek sê dat die kwaliteit van die universiteit se administratiewe personeel dit vir my maklik gemaak het en die proffies in die klasse was fassinerend. Die Noordwes-Universiteit is ʼn ongelooflike instansie en wat die hierdie kwalifikasie nog meer spesiaal maak is dat dit internasionaal geakkrediteerd is.”

Die eindbestemming is behaal, maar vir Strauss was dit allermins ’n alleenreis.

“As dit nie vir my vrou, Carmen, was nie, sou ek dit nie kon doen nie. Ons het drie kinders waarvan die jongste so sewe maande oud was toe ek begin het, so daar was baie hooi op haar vurk. Dan wil ek vir my hele familie ‘dankie’ sê vir hul ondersteuning. Daar was ʼn paar familiebyeenkomste wat ek weens klas op ʼn Saterdag nie kon bywoon nie, maar hulle het verstaan. Ek wil ook vir prof Hein Prinsloo uitsonder wat my studieleier was. Hy het my hand gevat en my gelei.”

....

Adriaan Strauss het sy Meestersgraad in Besigheidadministrasie (MBA) by die Noordwes-Universiteit (NWU) met onderskeiding ontvang.

Submitted on Thu, 04/25/2024 - 13:32