Sy naam is Schalk, Schalk Pretorius. En as dit nie vir Schalk Pretorius was nie, was die Noordwes-Universiteit (NWU) ’n tenniskampioen kwyt.
Jare gelede, in die mielieboergemeenskap van Bothaville, besluit ʼn jong Schalk dat hy gaan begin tennis speel. Goed so, sê ma Erika en pa Vickus, tennis sal jy speel. As die een kind speel, sal die ander een ook, en Schalk se driejarige suster Suzanie – nog meer peuter as persoon – word ook ʼn raket in die hand gestop.
Vandag is die 19-jarige buksie van 1,55 m se greep steeds aan ʼn raket vasgegom ... en om haar skouers hang ʼn Protea-baadjie.
Broer Schalk het in matriek sy raket neergelê, maar Suzanie het in tennis iets gevind wat ʼn onlosmaaklike deel van haar lewe geword het. Verlede jaar het sy haar senior Protea-kleure verwerf nadat sy Suid-Afrika ook in die junior ouderdomsgroepe verteenwoordig het.
Suzanie is ʼn tweedejaarstudent in Afrigtingwetenskap by die NWU se Potchefstroomkampus, waar sy ook daagliks aan haar tennisvernuf slyp. Om op die baan te wees, om vir haar doelwitte te sweet, is haar kos.
“Ek is ʼn aggressiewe speler, ek hou daarvan om die bal te slaan, om my punte vinnig te kry. Hoe beter my teenstander, hoe beter word ek. Ek is bereid om alles in my vermoë te doen om my drome te bereik. Dit is wel moeilik in Suid-Afrika, want ons het nie genoeg toernooie van topgehalte nie. My doelwit is om in ander lande te gaan speel.”
Met haar Yonex-raket op ʼn harde baan, gereed om ʼn voorhandhou af te lewer, is sy op haar gevaarlikste. Haar lengte beteken egter dat sy harder as baie ander spelers aan haar afslaan moet werk om hoogte te kry. Soos die legendariese Amanda Coetzer – wat 1,58 m in haar sokkies gestaan het – gebruik sy elke millimeter van haar postuur tot haar voordeel.
“Ek is bietjie kort, maar daar is baie positiewe dinge. Ek het ʼn lae swaartepunt, ek het meer balans en ek is stewiger op die grond. Dit pas my aggressiewe styl,” sê sy.
Een van haar helde is die voormalige eerstegekeurde vrouspeler in die wêreld, Simona Halep van Roemenië, en Roger Federer sal altyd haar gunsteling bly.
Wanneer dit by tennis kom, het sy baie gemeen met daardie twee wêreldsterre, hoewel dit te betwyfel is of hulle haar tydverdryf deel: “Ek hou van handwerk soos hekel en brei. Dit kom van my ouma af,” lag sy.
Net die vorige dag het ʼn besering haar genoop om ʼn MRI-skandering te ondergaan, en nou wag sy om te hoor wat die hersteltydperk gaan wees. Verloop als goed, is daar twee Future-toernooie wat wag, en dan is daar die Afrikaspele in April, waar sy gaan poog om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer.
Met haar hoofafrigter, Riaan Venter, en haar kondisioneringsafrigter, Colin Powell, aan haar sy, is sy slaggereed vir enige uitdaging wat oor haar pad kan kom. Aan ondersteuning het sy nie ʼn tekort nie.
“Ek wil vir die NWU dankie sê vir al die ondersteuning. Die universiteit wil sien dat ek nuwe hoogtes bereik, en dit is baie spesiaal.”
Dit is egter nie waar dit ophou nie, want wat haar inspireer, is twee steunpilare waarop haar sukses gebou is. “Ek wil eendag vir my ouers kan sê: ‘Ek het dit gemaak. Dankie vir al julle opofferings.’”
Suzanie Pretorius