Volhoubare waterbestuur in die kollig in Zanzibar

Die Noordwes-Universiteit (NWU) is die tuiste van die SAOG se WaterNet Sekretariaat. Die verbintenis van die NWU om te help om te verseker dat al die burgers van die vasteland toegang tot veilige water het, was weer eens in die kollig toe die 24ste WaterNet/WARFSA/GWP-SA-simposium op 25 Oktober in Zanzibar in die Verenigde Republiek van Tanzanië gehou is.

Die simposium se tema was Accelerating Change: Fostering Innovation and Integration for Sustainable Water Resources Management in Eastern and Southern Africa.

Professor Nnenesi Kgabi, die direkteur van Navorsingsondersteuning by die NWU en voorsitter van die WaterNet Trust, het die gehoor tydens die amptelike opening van die simposium toegespreek en gesê dat dit noodsaaklik is dat watersektore regoor Afrika moet ontwikkel, en dat daar aan nuwe produkte, dienste en oplossings gedink moet word om ’n volhoubare voorraad veilige water te verseker. Sy het ook gesê dat integrasie ’n broodnodige deel van die legkaart is om die onderskeie waternavorsing-, innovasie- en entrepreneursektore te verenig.

Prof Kgabi het ook ’n spesiale skild van waardering aan die eregas, president Hussein Ali Mwinyi van Zanzibar, oorhandig.

Die NWU is deur middel van sy navorsing, innovasie en gebiede wat spesifiek op waternavorsing gefokus is, daartoe verbind om te help om die Verenigde Nasies se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (SDG’s) te help bereik, met SDG 6 (Skoon Water en Sanitasie) wat veral in hierdie verband belangrik is. SOD 6 vra vir die versekering van die beskikbaarheid en volhoubare bestuur van water en sanitasie vir almal.

Met haar terugkeer huis toe het prof Kgabi gesê: “Ons moet nooit faal in ons pogings om toegang tot veilige water ’n werklikheid vir almal in Afrika te maak nie. Hierdie noodsaaklike hulpbron is die basis van so baie fasette wat ons daaglikse lewens beïnvloed – van ons ekonomiese groei tot ons gesondheid en die landbousektor. Waterskaarste is ’n werklike probleem. Waterverwante siektes verwoes gemeenskappe, en onvoldoende waterinfrastruktuur en -bestuur lê geleenthede aan bande terwyl dit ook tot die verkwisting van die hulpbron en tot ondoeltreffendheid lei. Ons moet dit stop; dit is ons plig. Een manier om dit te doen, is deur vennootskappe te skep en in stand te hou wat ons gedeelde probleme kan help oplos. In daardie selfde gees is dit ons verantwoordelikheid om ons kundigheid te deel. Saam sal ons Afrika vorentoe neem.”

.....

Submitted on Fri, 11/03/2023 - 14:52