Vierde industriële revolusie het ’n nuwe soort leierskap nodig

Die vierde industriële revolusie gaan ’n fundamentele verandering bring in die manier waarop ons leef, werk en met mekaar omgaan. Dit bring ook ’n nuwe rigting in sakeleierskap mee. Met ongeëwenaarde verandering wat aan die orde van die dag is, kom die vraag na vore of Suid-Afrikaanse leiers gereed is om die mas op te kom in ’n werksomgewing wat toenemend deel van ’n groter geheel vorm.

Nee. Dit is prof Marius Stander, ’n vooraanstaande kundige in bedryfsielkunde van die Noordwes-Universiteit (NWU), se antwoord.

Tydens sy onlangse intreerede as volle professor in die NWU se Skool vir Bedryfsielkunde en Mensehulpbronnebestuur, het prof Stander voorgestel dat ’n algehele hersiening van leierskapsvaardighede as voorbereiding vir Bedryf 4.0 gedoen moet word. Hy het voortgegaan om te sê dat leierskap die brug tussen potensiaal en prestasie moet wees.

Vir organisasies om volhoubaar te wees en ’n impak te maak, is dit noodsaaklik dat werknemers wat veranderings en uitdagings doeltreffend kan hanteer, gelok en behou moet word. Volgens prof Stander kan die gebrek aan sleutelvaardighede ’n groot bedreiging vir maatskappye inhou, veral in ontwikkelende lande soos Suid-Afrika. “Ons moet onsself afvra of huidige stelsels die ontwikkeling van hierdie vaardighede kan ondersteun. Ek is nie daarvan oortuig nie, veral nie ten opsigte van ons vermoë om binne ons huidige leierskapsontwikkelingstelsels vinnig aan te pas nie,” verduidelik prof Stander.

Leierskapsontwikkeling

Volgens prof Stander sal die rol van leiers in die ontwikkeling van individue en bestuur van talent toenemend belangriker word. Leiers sal voortaan werksomgewings moet skep waar individue hulle potensiaal kan optimaliseer en waarde tot die organisasie toevoeg terwyl hulle hul eie welstand verbeter.

Navorsing het bevind dat positiwiteit in moeilike tye vir leiers van die uiterste belang is. Leierskapstyle soos bemagtigende leierskap, positiewe leierskap, en outentieke leierskap kry al hoe meer prominensie in die literatuur en in die praktyk. Hierdie style, asook sielkundige bemagtiging, is op ’n teoretiese basis gegrond en word daarna met praktiese uitdagings belyn.

Prof Stander verduidelik dat dit belangrik is om leiers te hê wat talent lok en ontwikkel, wat mense toelaat om hulle eie idees te ondersoek, dinamiese uitdagings stel, by lewendige debatte betrokke raak, eienaarskap met behulp van direkte verslae skep, en deur gefokusde ontwikkeling in hulle potensiaal belê.

Die beskikbaarheid van belangrike leierskapvaardighede

Die gebrek aan sleutelvaardighede word as een van die top tien bedreigings vir hoëprofielleiers in Afrika beskou. Volgens Deloitte Insights se 2018-verslag is ’n skrale 25% bestuurders vol vertroue dat hulle oor die werkplekvaardighede beskik wat nodig is om die uitdagings van die gevorderde werkplek die hoof te bied.

Daar word verder gerapporteer dat 35% van wêreldleiers meen dat die onderwysstelsel radikaal hersien moet word. Om sake verder te bemoeilik, verduidelik prof Stander dat Suid-Afrika deur ’n uitvloei van professionele vaardighede gekonfronteer word en dat daar ’n gebrek aan sekere vaardighede en in die algemene vaardigheidsontwikkeling is. In die World Talent Ranking-verslag oor die manier waarop lande hoogs opgeleide professionele persone ontwikkel, lok en behou, word gesê dat Suid-Afrika 50ste uit 63 lande is.

In sy lesing het prof Stander huidige leierskapsuitdagings met sy navorsingsbevindings in verband gebring en tot die gevolgtrekking gekom dat: (1) leiers moet fokus op sielkundige bemagtiging wat die werknemer sowel as die doeltreffendheid van die organisasie positief sal beïnvloed; (2) wanneer ’n leier bemagtigingsgedrag openbaar, hulle ’n werknemer se geestesingesteldheid positief kan beïnvloed; (3) egte leierskap die kern van volhoubare leierskap uitmaak; (4) positiewe leierskap op die sterk punte van werknemers fokus, deurgaans erkenning aan goeie werk gee, en tot die sukses van die organisasie bydra; en (5) leiers vaardige ontwikkelaars van mense moet wees en die vaardighede van mentorskap, afrigting en die verskaffing van terugvoer moet bemeester.

Prof Sonia Swanepoel, uitvoerende dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe wens prof Stander geluk met sy intreerede.

 

 

Submitted on Wed, 01/30/2019 - 11:34