Vier NWU-uitnemendheid – nomineer uitstaande alumni vir gesogte toekenning

Die Noordwes-Universiteit (NWU) is steeds besonder trots op die merkwaardige prestasies van alumni wat aktief ’n impakvolle en waardevolle bydrae op alle gebiede van die samelewing maak – plaaslik sowel as internasionaal.

Weet jy van ’n NWU-gegradueerde wat uitnemende werk op hulle gebied verrig? Hetsy jy ’n alumnus, personeellid of belanghebber is, dit is nou die perfekte geleentheid om ’n naam voor te lê van iemand wat verdien om vereer te word. Nominasies vir die universiteit se mees gesogte erkenning van die prestasies van alumni – die tweejaarlikse Alumni Excellence Awards – is nou oop. Nominasies sluit op 8 Augustus.

Jou nominasie kan dalk net een van die room van die oes van die NWU-alumni wees wat vereer gaan word tydens die negende tweejaarlikse toekenningseremonie wat later hierdie jaar plaasvind.

Hierdie gesogte toekennings gee erkenning aan alumni wat nie net ’n betekenisvolle bydrae tot hulle gemeenskappe gelewer het nie, maar vir wie die waardes van die NWU ook baie belangrik is. Hierdie individue is ambassadeurs van uitnemendheid wat die universiteit se reputasie gestand doen as ’n instelling wat wêreldwyd gerespekteer word.

Die ererol van vorige ontvangers sluit prominente en geëerde persone uit al die sfere van die Suid-Afrikaanse en internasionale samelewing in. Hierdie roemryke ontvangers is onder andere die volgende: prof TT Cloete, regter Frans Kgomo, prof Dan Kgwadi, prof Anis Karodia, Deon Meyer, dr Alistair Mokoena, regter Bess Nkabinde, prof Bismark Tyobeka, prof Tjaart van der Walt en Sunette Viljoen.

Nominasies in agt kategorieë word ingewag: kuns en kultuur, sakeleierskap, gemeenskapsbetrokkenheid, onderwys, openbare diens, navorsing, sport, die Young Alumni Award, en die Lifetime Achievement Award. Nominasies kan elektronies by www.nwu.ac.za/alumni-awards-nomination ingedien word. Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan Nicolize van der Walt by nicolize.vanderwalt@nwu.ac.za.

Om die inspirasie van die vorige geleentheid te herleef, kyk hier na die 2023 NWU tweejaarlikse Alumni Excellence Awards: https://youtu.be/SWE0Id51LhI.

Submitted on Wed, 07/02/2025 - 14:11