Verseker ’n toekoms vir trekvisspesies

Die Waternavorsingsgroep (WNG) van die Skool vir Biologiese Wetenskappe en die Eenheid vir Omgewingswetenskappe en -bestuur aan die Noordwes-Universiteit (NWU) het met Nature-I-Am saamgewerk om Wêreld Vismigrasiedag te vier. Kinders tussen die ouderdomme van 4 en 13 van twintig verskillende skole regoor Potchefstroom, Stilfontein en Fochville het deelgeneem aan die viering, wat op Saterdag 25 Mei by die pragtige Lekwena Wildlife Estate plaasgevind het.

Die primêre doel van die viering was om ’n bewustheid te kweek oor die belangrikheid van vismigrasie en gesonde, vryvloeiende riviere. Die kinders het die gesigverfsessies geniet, by lesse betrokke geraak en geskenksakkies ontvang.

Migrasie speel ’n belangrike rol in die lewensiklusse van talle visspesies. Hierdie migrasies sluit beide kort- en langafstandbewegings van die vis in vir die doeleindes van voortplanting, voeding en om ongunstige omgewingstoestande te vermy.

Prof Nico Smit, ’n professor in Waterekologie en Wildparasitologie aan die NWU se Skool vir Biologiese Wetenskappe, sê dit is noodsaaklik om ons riviere te beskerm en ’n gesonde ekostelsel te verseker waarby mense ook kan baat. Prof Smit sê ook die beste plek om ’n bewustheid oor die beskerming van ons water en riviere te begin, is by jong kinders, aangesien hulle die leiers van die toekoms is.

“Indien ons gesonde, vryvloeiende riviere bevorder waar vis doeltreffend kan migreer, en as ons die jong kinders oor hierdie soort onderwerpe opvoed, sal hulle in die toekoms goeie besluite oor ons omgewing kan neem,” het prof Smit bygevoeg.

Die opvoedkundige aktiwiteite wat die bewustheid oor vismigrasie bevorder het, het bestaan uit tien verskillende stasies en het ’n oorsig ingesluit oor vis, inligting oor die visvoedselketting, en ’n versameling ongewerweldes wat in die water leef. Die versameling van visse, hulle gedrag, predator-prooi-interaksies, bedreigings vir visse, die voer van visse, vismigrasie, visparasiete en vishabitats was onder die bykomende konsepte wat aan die kinders verduidelik is. Die elfde stasie was ’n fotokiosk, waar die kinders dit geniet het om foto’s te neem waar hulle soos viswetenskaplikes aangetrek het.

“’n Mens kon die kinders se opgewondheid in hulle gesigte sien wanneer hulle by ’n nuwe stasie opdaag. Een ander goeie ding wat ek opgelet het, was dat ouers ook teenwoordig was, en hulle het ook ’n groot klomp kennis uit hierdie bewustheidsinisiatief opgedoen,” het prof Smit gesê.

Hoewel dr Mariliese Truter, ’n postdoktorale genoot by die WNG, dit baie geniet het om met die kinders te werk, het sy erken dat dit soms moeilik was om ingewikkelde konsepte aan hulle te verduidelik.

Tshenolo Masilo, ’n meestersgraadstudent wat tans navorsing oor grootskub-geelvisse, parasietgemeenskappe en geskiedkundige ekologie by die WNG doen, was vir die verduideliking van die visvoedselweb aan die kinders verantwoordelik. Een van haar onvergeetlike oomblikke was toe sy ’n sjokolade van die kinders ontvang het.

fish
fish

 Vir riviere wat gesond en vryvloeiend is.

 

Submitted on Wed, 06/19/2024 - 08:42