Verby stigma: insigte van kundiges in ’n gespesialiseerde aanlyn seminaar oor MIV/vigs

Op Maandag 4 Desember 2023 het Bestmed, Suid-Afrika se grootste selfgeadministreerde mediese skema, in samewerking met die Noordwes-Universiteit (NWU) as deel van hulle Tempo gesondheids- en welstandsprogram ’n webinaar aangebied.

Volgens me Bonita Maboeta, senior welstandspesialis by die NWU, was die doel van die geleentheid om ’n bewustheid te skep van die stigma rondom die menslike immuniteitsgebreksvirus en verworwe immuniteitsgebreksindroom (MIV/vigs) en dit te oorkom.

“Ons wil hê dat mense hierdie behandelbare siekte moet verstaan, en dat mense met goeie behandeling en sorg lang en gesonde lewens kan lei.”

Gemeenskappe wat aan die voorpunt leiding neem in die stryd teen MIV is steeds die sleutelrolspelers in die voorkoming, toetsing, behandeling en sorg ten opsigte van die siekte.

Volgens die jongste verslae vanaf Thembisa, die toonaangewende wiskundige model van MIV in Suid-Afrika, gaan die getal mense wat met die siekte leef in die jare wat kom na verwagting toeneem.

Wilmarie Joubert, Refiloe Latha en Cecilia van der Sijde was die gassprekers. Yolande Godlo en Palesa Makhutle het die paneel kundiges – almal van Bestmed – se getalle aangevul. Hulle is almal kenners oor die onderwerp.

’n MIV-aktivis van One Stop Wellness, Tiny Petersen, het die hoofrede gelewer en gepraat oor die belangrikheid daarvan om vir MIV getoets te word, en beklemtoon wat individue kan doen indien hulle geïnfekteer is.

Sy het gesê: “As jy weet wat jou status is, kan jy dadelik met behandeling begin en jou lewe potensieel vir baie jare lank verleng. Indien jy weet dat jy geïnfekteer is, kan jy al die nodige voorsorgmaatreëls tref om die verspreiding van die siekte te voorkom.”

Sy het voorts gesê dat dit noodsaaklik is om roetine- en jaarlikse gesondheidsondersoeke te laat doen, en individue wat met die siekte leef, aangemoedig om hulle by hulle mediese fonds vir ’n chroniese MIV/vigs-bestuursprogram te registreer. Die program sal die koste dek wat met alle MIV/vigs-behandeling en -monitering verband hou.

“Kom ons stop die verspreiding van MIV,” het sy bygevoeg. “Om openlik oor die siekte te praat, kan help om die onderwerp te normaliseer, en gesprekke soos hierdie kan geleenthede verskaf om wanopvattings reg te stel, en dit help ook dat ander mense meer oor die siekte leer.”

Voorkoming van die siekte

Daar is medisynes en mediese toestelle om te help om die verspreiding van MIV te voorkom, en dit sluit antiretrovirale middels (ARV’s) en mondelikse PrEP (voorblootstelling-voorbehoeding) in.

Daarbenewens kan ARV’s gebruik word om te verhoed dat moeders MIV na hulle kinders oordra, en individue wat antiretrovirale terapie (ART) neem en diegene wat geen bewyse van die virus in hulle bloed het nie, sal nie MIV na hulle seksmaats oordra nie.

MIV is voorkombaar en individue kan die risiko van infeksie verminder deur die volgende te doen:

· Gebruik ’n manlike of vroulike kondoom tydens geslagsomgang

· Word vir MIV en seksueel-oordraagbare infeksies getoets

· Verkry ’n vrywillige mediese manlike besnydenis

Waar om getoets te word

Personeel en studente regoor al drie kampusse word aangeraai om getoets te word op welstandsdae wat deur die NWU aangebied word, asook by die volgende lokale:

· Gebou B6, op die Mahikengkampus

· Gebou 25 op die Vanderbijlparkkampus

· Gebou E14 op die Potchefstroomkampus, van Maandag tot Donderdag

· Dis-Chem, Clicks en staatsklinieke

Vir gratis vertroulike berading by die NWU, kontak:

Kehumile Katametsi: welstandspesialis by die Mahikengkampus (018 389 2210/ kehumile.katametsi@nwu.ac.za)

Bonita Maboeta: senior welstandspesialis by die Potchefstroomkampus (018 285 2133/ 12579513@nwu.ac.za)

Genevieve Poodhun: werknemerwelstandspesialis by die Vanderbijlparkkampus (016 910 3295/ 35236299@nwu.ac.za)

Indien jy die beste lewe wil lei, besoek https://www.bestmed.co.za/resources/articles/health-and-wellness om meer uit te vind oor die voedings-, fiksheids- en emosionele welstandsprogramme wat Bestmed aanbied.

Submitted on Fri, 12/08/2023 - 09:01