Die besluit deur die Monetêrebeleidskomitee (MBK) om die repokoers met nóg 50 basispunte te verhoog, is oor die algemeen deur markte en ontleders verwag.
Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU), sê die MBK het die verwagte besluit met ’n stemming van 4 tot 1 geneem.
“In die lig van die tans voortdurend verswakkende groeivooruitsig vir 2022 is die vraag nietemin of die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) nie weer slegs ’n 25-basispuntverhoging kon aangekondig het nie, in plaas van die aanvanklik gelaaide verhoging van 50 basispunte. Trouens, nadat daar met die vorige vergadering aangedui is dat die risiko’s vir groeivooruitsigte “gebalanseerd” was, het die MBK sy groeivoorspelling vir 2022 nou beduidend vanaf 2,2% na 1,7% verlaag.”
Prof Parsons sê dat hoewel dit duidelik is dat die wêreldwye faktore wat deur die MBK uiteengesit word, tot aanbodkantskokke vir die ekonomie gelei het, koste-inflasie in Suid-Afrika ook plaaslik vererger word deur skerp stygings in die prys van brandstof en elektrisiteit, waar mededinging terselfdertyd ook swak is, wat gevolglik die impak daarvan op koste geweldig groot maak.
“Hoewel dit te verstane is dat die MBK bekommerd is dat ’n algemene loon-prysspiraal kan ontwikkel, lyk die bewyse vir die omvang van die risiko vir hierdie ‘neutralisering’ van koste in ’n verswakkende ekonomie nog nie oortuigend genoeg nie. Daar is ruimte vir legitieme verskillende sienings.”
Hy verduidelik dat die koste van lenings vir besighede en verbruikers nou 125 basispunte hoër is sedert die MBK in November 2021 begin het met die siklus om rentekoerse te verhoog. “Volgens die jongste MBK-verklaring is dit waarskynlik dat leenkoste in die komende maande verder sal styg. Besighede, veral klein, medium en mikro-ondernemings (KMMO's), en verbruikers staar gevolglik ’n toenemend moeilike jaar in die gesig.”
Volgens Prof Parsons is die dilemma dat, indien rentekoerse voortdurend styg, die negatiewe risiko’s vir groei en werkverskaffing in Suid-Afrika verder verhoog word, en dat ’n toenemende risiko vir stagflasie ontwikkel.
“Die MBK moet dus die tempo waarteen rentekoerse hierdie jaar verder verhoog word, omsigtig benader, en die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) se onlangse waarskuwing in gedagte hou dat monetêre beleidsbesluite in die wêreld van vandag op individuele lande se omstandighede en nie op ’n meganistiese benadering gegrond moet word nie.”
Hy sê dat, wat die tegniese motivering ook al is, is die SARB se president, Lesetja Kganyago, reg is met sy kommentaar dat dit net soveel ’n kuns as ’n wetenskap is om onder die huidige komplekse ekonomiese omstandighede die korrekte monetêre beleidsbesluite te neem.