Veldtog vir die bewustheid oor bedrog bevorder etiese gedrag

Om die kollig te laat val op die wydverspreide kwessie van bedrog het die Noordwes-Universiteit (NWU) se Interne Oudit-departement ’n lewendige bewustheidsveldtog ter viering van Internasionale Bedrogbewustheidsweek aangebied.  

Vername sprekers van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (DPCI) – Klerksdorp (die Valke) en Nexus Forensic het insigte gedeel oor die voorkoming van bedrog en ondersoek in die NWU-gemeenskap, en beklemtoon hoe noodsaaklik etiese gedrag is.

Die direkteur van Nexus Forensic, adv Francois Labuschagne, het gepraat oor die bedrogdriehoek wat dikwels aangehaal word ter illustrasie van die redes waarom individue bedrog pleeg.   Hy het instellings aangespoor om hulle daarop in te stel om ’n interne oudit te benader met die oog daarop om enige reputasiekrisis wat kan voorkom, op te spoor, daarop te reageer en dit te voorkom.

“Instellings kan nie bloot voldoening nastreef en wag dat aantygings gemaak word nie. Hulle moet bewus wees dat bedrog in elke donker hoekie van elke transaksie kan skuil,” sê hy.

Adv Labuschagne het voorts gesê dat instellings hulle metodologie vir risikobeoordeling moet verbeter, en het ’n beroep gedoen dat besluite van die bestuur bevraagteken en nie oorgesien moet word nie.  

“Interne Oudit moet hulle metodologie vir risikobeoordeling verbeter deur stappe te doen om te verseker dat daar doeltreffende beheer is om moontlike risiko’s te identifiseer en opsporingsmaatreëls in te stel om dit te voorkom. Mense moenie bloot glo omdat senior personeel betrokke is, die transaksies op die regte manier gedoen word nie. Wat jy sien, is nie altyd wat jy kry nie.”

Kaptein Kgaile Mpholo, ’n gesertifiseerde bedrogondersoeker en kommersiële forensiese praktisyn, het die funksies van die DPCI bespreek, en die eenheid se doel beklemtoon om misdaad hok te slaan, wat gespesialiseerde vaardighede vereis.   

Kaptein Mpholo het ’n opsomming gegee van die nege bedrogsake wat in 2024 by die NWU gedokumenteer is en tans deur die direktoraat ondersoek word. Hy het gesê dat van hierdie skemas tydens oudits opgespoor is.

Die optrede van Interne Oudit by die NWU was instrumenteel in die blootlegging van sommige van die bedrieglike aktiwiteite en hulle ondersteun ook huidige ondersoeke wanneer ’n kriminele klagte by die SAPD ingedien is..

Wanneer die motivering agter kriminele aktiwiteit verstaan word, kan dit help om maatreëls te implementeer om die voorkoms van bedrog te verminder, aldus kaptein Mpholo.  

“Op grond van die modus operandi wat geïdentifiseer is, het ons gevind dat die skeiding van pligte, die opleiding van werknemers en veldtogte vir bewusmaking oor bedrog in instellings nuttig is om bedrog te voorkom.”  Hy het afgesluit: “Voorkoming is baie belangrik, aangesien die gevolge van bedrog – sodra dit plaasgevind het – groter is as wat ’n mens kan dink.” 

Advocate Francois

Advokaat Francois Labuschagne

Captain Kgaile

Kaptein Kgaile Mpholo

Submitted on Fri, 12/13/2024 - 12:35