Uitstel van die Begroting gaan onbedoelde gevolge hê

Die ongekende besluit van die Kabinet van die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) om die Begroting tot 12 Maart uit te stel as gevolg van meningsverskille oor belastingverhogings, gaan noodwendig onbedoelde gevolge vir Suid-Afrika se politieke ekonomie hê.

Prof Raymond Parsons, ekonoom van die NWU Besigheidskool, sê indien die uiteindelike Begroting in Maart gaan toon dat dit werklik tot groei en werkskepping verbind is (soos dit in die onlangse Mediumtermyn-Ontwikkelingsplan van die RNE uitgestippel is), die uitstel die moeite werd sou wees as die RNE ooreengekome kompromieë en beter uitkomste vir die ekonomie as geheel gaan verkry.

Die groot geskil oor die belastinglas kan wesenlik beskou word as simptomaties van die feit dat ekonomiese groei in Suid-Afrika vir te lank te laag was. Die belastingbasis as geheel het as gevolg van volgehoue lae groei gekrimp, en dus finansiële opsies beperk.”

Hy sê die uitgestelde Begroting gaan nietemin vir eers ’n hoër vlak van politieke onsekerheid skep, en dit word alreeds in die rand weerspieël.

“Markte sal van nou af die vordering wat deur die RNE gemaak word om voldoende konsensus oor die finale Begroting te bereik, noukeurig moniteer. Dit kom ook wêreldwyd op ’n tydstip wanneer risiko’s vir Suid-Afrika hoër is.”

Volgens prof Parsons is die fiskale situasie egter nie onbepaald op die lange baan geskuif nie, en die gewysigde Begroting gaan op 12 Maart voorgelê word.

“Intussen gaan kommunikasiestrategieë van die Nasionale Tesourie by hierdie nuwe omstandighede aangepas moet word. Tussen nou en 12 Maart moet daar ingeligte en redelike debatte wees oor watter fiskale opsies inderdaad vir Suid-Afrika beskikbaar is om die regte balans tussen besteding, lenings en belastingheffing te verkry op wyses wat beleidsekerheid en arbeidsryke groei gaan bevorder.”

Submitted on Thu, 02/20/2025 - 12:34