Die Noordwes-Universiteit (NWU) het erkenning aan sy uitmuntende personeel verleen tydens die jaarlikse NWU Uitnemendheidstoekenningseremonie, wat op 23 November in Potchefstroom plaasgevind het.
Personeel het erkenning ontvang vir hulle buitengewone bydraes tot onderrig en leer, gemeenskapsbetrokkenheid, en navorsing en innovasie.
“Met ons ligging en die agtergrond en omstandighede van talle van ons studente in gedagte, moet ons alles in ons vermoë doen om ons personeel op alle gebiede aan te moedig om te verseker dat hulle gefokus bly ten opsigte van die lewering en verkryging van volhoubare navorsing en innovasie en onderrig en leer van gehalte, asook gemeenskapsbetrokkenheid wat ’n impak maak.”
Prof Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier, sê namate die NWU voortgaan om sy eie talent te kweek, die universiteit maatreëls moet implementeer om ondersteuning en erkenning te verleen aan die NWU se personeel vir die goeie werk wat hulle doen.
Hy sê die NWU se Uitnemendheidstoekennings wil die voortgesette uitmuntende bydraes van akademici in navorsing en innovasie, onderrig en leer, en gemeenskapsbetrokkenheid erken.
Ons demonstreer deur hierdie toekennings ons verbintenis om in personeel te belê en diegene te ondersteun wat ’n sleutelrol speel in die implementering van ons kernpilare, met ander woorde ons impak, groei, diversiteit, vennootskappe, internasionalisering en bedryfsuitnemendheid.”
NWU vier die room van die oes in onderrig en leer
Die universiteit het toonaangewende dosente van regoor die fakulteite in ses kategorieë vir hulle werk vereer omdat hulle onderrig en leer deurlopend op uitmuntende vlakke gehandhaaf het.
Hierdie jaar se ontvangers van die University Teaching Excellence Award (UTEA) was prof Mignon van Vreden van die Fakulteit Geesteswetenskappe en dr Viné Petzer van die Fakulteit Opvoedkunde.
Dr Henriëtte Hammill (Fakulteit Gesondheidswetenskappe), Prof Carinda Williams (Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe) en dr Alwiena Blignaut (Fakulteit Gesondheidswetenskappe) het elk ’n Innovation in Teaching and Learning Award gewen. Die Online Teaching Award het aan dr Monray Williams van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe gegaan.
Ontvangers van die Novice Teacher Award sluit dr Marelize Vergottini (Fakulteit Gesondheidswetenskappe), dr Gaotswake Patience Kovane (Fakulteit Gesondheidswetenskappe), Fotiene Avrakottos-King (Fakulteit Opvoedkunde), Kurt Naicker (Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe), Amore Jansen van Vuuren (Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe), Jeanette Visagie (Fakulteit Regte) en dr Lucé Pretorius (Fakulteit Gesondheidswetenskappe) in.
Die Team Teaching Award is aan prof Elmien Truter, Alicia le Grange, Mianda Erasmus en dr Elzahne Simeon-de Jager, almal van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, oorhandig.
Personeel word vir hulle gemeenskapsbetrokkenheid vereer
Tien kampioene van gemeenskapsbetrokkenheid is in vier kategorieë vereer.
Prof Sithandiwe Mazibuko-Mbeje van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe wat die ontvanger van die Sharing of Expertise Award vir gevestigde akademiese personeel.
Prof Elma Marais en prof Carolina Botha, albei van die Fakulteit Opvoedkunde, het die Engaged Teaching and Learning Award vir gevestigde akademiese personeel ontvang, en dr Lerato E Mdaka van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het dieselfde toekenning vir nuwe akademiese personeel ontvang.
Dr Vicki Koen en haar uitreikspan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe is met die Outreach Award vir gevestigde akademiese personeel vereer. Die uitreikspan het prof Johan Potgieter, Mianda Erasmus en dr Christiaan Bekker ingesluit.
Dr Christi Niesing en haar span van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, insluitend prof Petra Bester, het die Scholarship of Engagement Award ontvang.
Navorsers en innoveerders skitter deur uitnemendheid
Prof Ruan Kruger van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe het die NWU se toekenning as Most Productive Senior Researcher ontvang, met prof Peet van der Merwe (Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe) en prof Neels Kilian (Fakulteit Regte) onderskeidelik tweede en derde.
Die toekenning as Most Productive Emerging Researcher is aan Prof Marko van Deventer van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe oorhandig, met prof Yolandi Breet van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe in die tweede plek.
Prof Francois van der Westhuizen (Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe) en prof Adeyemi Oladapo Aremu (Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe) het die National and International Recognition and Membership Award ontvang.
Die topuitvinders was prof Dmitri Bessarabov en prof Faan du Preez, albei van die Fakulteit Ingenieurswese, en prof Petro Erasmus van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe het die Innovation Impact Award ontvang.
Hierdie jaar se Creative Output Award het aan Lesego Motlhankane van die Fakulteit Opvoedkunde gegaan.
Die wenners van die Fakulteit-onderrigtoekennings is ook tydens die geleentheid aangekondig.
Vir die hele lys wenners besoek: https://www.nwu.ac.za/sites/www.nwu.ac.za/files/files/i-news/electronic_newsletters/From-VC/2023/VCExcellence-awards-2023.html
Om na die seremonie te kyk, volg asseblief hierdie skakel: https://www.nwuexcellenceawards.co.za/
Kyk na die hoogtepunte van die Uitnemendheidstoekennings.