Bertie Jacobs
Die San Gabriel-berge, met spikkels sneeu op die hange en ’n wit sneeukombers op die pieke, kan in die winter vanaf die stad Rancho Cucamonga in Kalifornië gesien word. Die musikant Jake Hamilton is in 1979 daar gebore.
Dit is nou 43 jaar later en Constantiaberg lê voor. Die Twee Oseane-marathon van 2022 is in volle swang en dr Adele Broodryk het ’n drie kilometer lange bult, wat ongeveer 200 meter die lug in styg, om te klim. Die 31-jarige dosent van die Instituut vir Sportwetenskap en -ontwikkeling op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) moet alles uithaal. Dis nou of nooit. Sy moet haarself vorentoe dwing, haar bene moet haar hierdie bult uitdra. Sy het iets nodig om haar te inspireer, iets wat haar sielkundig aanmoedig. Haar liggaam en gedagtes moet nou saam werk. Sy begin sing. Namate die helling steiler word, is dit die musiek van die gospelkunstenaar Jake Hamilton uit die berge van Kalifornië wat haar begelei.
Sy is by die 50 km-merk en daar lê nog ses voor. Van hier af moet sy teen Rhodesrylaan langs in die rigting van Nuweland hardloop en by die suidelike kant van die Universiteit van Kaapstad ingaan, waar die wedren by die kampus se rugbyvelde eindig. Sy kyk oor haar skouer. O nee. Haar blik val op die allerlaaste persoon wat sy wil sien. Reg agter haar is die ongelooflike ultra-afstandatleet en voormalige Comrades-kampioen, Ann Ashworth. Dit lyk nie goed vir Adele nie. Sy haal alles uit, gebruik elke laaste bietjie energie en vasberadenheid wat haar liggaam het om te bied. “Daardie laaste skof met Ann op my hakke het my regtig doodgemaak. My liggaam het dit agterna gevoel,” het sy later gesê. Haar vasberadenheid hou vir Ashworth op haar plek, en sy steek die wenstreep in ’n tyd van 03:47:23 oor. Algeheel in die sesde plek. Die derde Suid-Afrikaanse vrou ná Gerda Steyn en Irvette van Zyl. Net die beste.
“Dit was ’n wonderlike ervaring. Alles het net in plek geval. Ek het die wedloop met ’n plan begin en daarby gehou. My doel was om die wedloop in drie uur en agt-en-veertig minute te voltooi, en ek is regtig in my noppies dat ek dit in minder as dit reggekry het. Dit was my eerste Twee Oseane, my debuut. Dit maak dit vir my nog meer spesiaal,” sê sy.
Adele onthou baie goed hoe sy met die kronkelende Chapman Peakrylaan langs gedraf het en op die Atlantiese Oseaan afgekyk het waar dit inrol en teen die kranse daaronder breek. “Wat dit nog meer spesiaal gemaak het, was al die ondersteuners wat langs die pad gestaan het om ons aan te moedig.”
Sy hardloop al vandat sy kan onthou en het vanaf ’n hekkiesatleet na langer afstande gevorder en uiteindelik in 2018 haar eerste ultramarathon gehardloop.
“Dit verg baie tyd en toewyding. Ek oefen op my eie. Ek trek net my motiveringsuitrusting aan en vat die pad,” verduidelik sy. Toewyding beskryf dit nie eers nie. Adele volg ’n opleidingsiklus van 16 weke lank waar sy in 11 sessies tot 160 km ’n week hardloop. Dan is daar ook die dieet.
“Ek weet wat vir my werk. Ek volg ’n gebalanseerde benadering, maar wanneer ek baie lus raak vir iets soos tjips, weet ek my liggaam het ’n tekort aan natrium of koolhidrate en dan swig ek. Ek glo aan matigheid.”
Atlete het ’n klompie vreemde dinge waarvoor hulle ná ’n wedloop lus voel, maar Adele is ietwat anders. “Ek soek net ’n glas koue water. Ons neem regdeur die wedloop soveel fruktose en soet drankies in dat ek net lus het vir ’n glas water. Dan wil ek ’n bord vars Griekse slaai hê, omdat ek voor die tyd soveel koolhidrate ingeneem het. En dan – omdat ek dit ’n week voor die wedloop uitgeskakel het – soek ek ’n stukkie rooivleis,” verduidelik sy met sigbare behae.
Sal sy in 2023 vir nog ’n Twee Oseane terug wees?
“O beslis. My base weet dat ek ’n voltydse atleet sou wees as ek kon! Om te hardloop is ’n bevryding. Ek het ’n liefdevolle man, Retief, en twee wonderlike kinders, Caleb (5) en Ansu-May (2), wat my hardlopery al die pad ondersteun.”
Dan is daar ook die drang om sukses te behaal.
“Almal sien my altyd aan die hardloop, dus doen ek dit ook vir my mense. Ek doen dit vir Potchefstroom.”