Die sewende nasionale Outismesimposium vind van 30 Junie tot 2 Julie 2022 op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) plaas. Die gebeurtenis laat die klem op die realiteite van mense met outisme en hulle gesinne val. Dit beloof om insiggewende perspektiewe deur kundiges op die gebied te lewer.
Die formaat gaan hierdie jaar ’n hibriede geleentheid wees wat aanlyn of persoonlik bygewoon kan word. Die eerste dag van die simposium sal bestaan uit werkswinkels met praktiese strategieë en wenke vir ouers, onderwysers en klinici. Die hoofgeleentheid, met bekende en kundige sprekers, vind op Vrydag en Saterdag plaas.
Daar is nog tyd om voor 30 Junie te registreer. Klik op https://sites.google.com/g.nwu.ac.za/nationalautismsymposium/home, kontak die Instituut vir Sielkunde en Welstand by IPWinfo@nwu.ac.za of skakel 018 299 1737, of kontak Outisme Suid-Afrika by admin@autismsouthafrica.org.
Een van die kundige sprekers by die geleentheid is Karen Jeynes, ’n skrywer van toneelstukke en draaiboeke. Haar aanbieding, From Rainman to the A-Word: Autism portrayed on screen, fokus op die uitbeelding van outisme in die populêre kultuur.
Hier is ’n insiggewende uittreksel van haar oor die onderwerp:
From Rainman to the A-Word: Autism portrayed on screen
Waarom maak die uitbeelding van outisme wat op die TV verskyn vir die outismegemeenskap saak? Uitbeeldings van ’n gestremdheid kan in elk geval nie die fisieke uitwerking van die gestremdheid op ’n individu beïnvloed nie. Maar ons verstaan toenemend hoe die maniere waarop die gestremdheid voorgestel word en dus in die algemeen verstaan kan word (en dit gebeur inderdaad) die sosiale uitwerking van ’n gestremdheid op ’n individu beïnvloed.
Die meerderheid televisie- en filmuitbeeldings van outismespektrumgestremdheid (ASD) val tot dusver steeds binne ’n paar beperkte kategorieë: die savant, die vreemde of komiese helper, diegene sonder ’n diagnose of kategorie, en – die kleinste proporsie – die realistiese uitbeelding. Hierdie uitbeeldings in die media het ’n werklike uitwerking in die lewe. Onderwysers en leerders het byvoorbeeld in die skoolopset dalk vooropgestelde idees oor leerders met ASD sonder dat daar ooit so iemand in hulle klas was. Mense kan redelike vooropgestelde idees hê as gevolg van uitbeeldings wat aan hulle voorgehou word in verhale wat hulle gesien het. Hulle meen dat die uitbeelding van outisme wat hulle in die populêre media gesien het, dieselfde as “kennis” daaroor is. Wanneer karakters in ’n TV-program is, raak hulle deel van ’n gehoor se lewens en bestaan in die woonkamers en lewens van kykers. Die stories het ’n aansienlike potensiaal om te stigmatiseer, of om mense op te voed en te humaniseer. Dit is waarom die skepping van meer akkurate en uiteenlopende uitbeeldings van ASD belangrik is.
Die navorsing wys ’n paar struikelblokke in uitbeeldings uit. Slegs wit mense word in stories oor outistiese karakters gebruik. ’n Uitgebreide ondersoek kon geen uitbeelding van outistiese mense van kleur identifiseer nie. Die grootste meerderheid van uitbeeldings toon seuns en mans, ten spyte daarvan dat daar ’n toenemende begrip is van hoe ASD by vroue en meisies manifesteer, en vroeër selde gediagnoseer is. Daar is ’n oorbeklemtoning van ASD soos dit by tieners en jong volwassenes manifesteer, selfs al is ASD ’n lewenslange neurodiversiteit. Outistiese mense word gewoonlik in uiterstes uitgebeeld: óf as amper geniaal soos The Good Doctor, of amper onbekwaam, soos in Love on the Spectrum. Daar is ’n hoë voorkoms van karakters waar die veronderstelling is dat hulle neurodivers is, maar hulle word nooit uitdruklik so genoem nie, wat geen ruimte laat vir bespreking en eienaarskap daarvan nie. Laastens word outiste nie by die kreatiewe proses betrek nie of daar is problematiese betrokkenheid.
Op die uiterste kan die effek van uitbeeldings ernstiger wees as bloot misverstand en stereotipes. In Suid-Afrika is een van die enigste uitbeeldings van outisme Raaiselkind, ’n film oor ’n outistiese kind wat dalk of dalk nie deur sy eie ma vermoor is. Die sanger Sia het onlangs in die spervuur beland vir die uitbeelding in haar film Music van ’n bedwingingstegniek wat as hoogs gevaarlik en potensieel dodelik beskou word en soms vir outistiese kinders gebruik word. Sy het ook swak gereageer op kritiek van die outistiese gemeenskap en kwaad geword vir diegene wat gemeen het sy moes ’n outistiese persoon vir die rol gebruik het. Wanneer verkeerde uitbeeldings uitgesaai word, veral deur mense met ’n groot aanhang en baie invloed, doen hulle die gestremde gemeenskap skade aan. Elke keer wat ’n gevaarlike praktyk as ’n daad van liefde of sorgsaamheid uitgebeeld word, verhoog dit die moontlikheid dat ’n outistiese kind seergemaak of beseer kan word.
Ons moet na al die persepsies oor ASD kyk, hetsy dit waar of uitgedink is, wat as die waarheid oorgedra word. Hierdie jaar se Outismesimposium doen ’n beroep op ons om in gesprek te tree, en dit is vir my duidelik dat die eerste outistiese persoon wat talle mense sal “ontmoet” iemand op hulle TV-skerms sal wees. Hoe verseker ons dan dat die gesprekke wat plaasvind verteenwoordigend van die outistiese gemeenskap is, en nie skeppings van die verbeelding van ander nie? Ons moet individue met ASD en diegene rondom hulle as die ware kundiges sentraal laat staan en hulle meer mag gee, en seker maak dat hulle stories vertel en verder geneem word.
Meer oor die skrywer:
Karen Jeynes het al uitvoerig as skrywer vir die verhoog en film gewerk. Sy is gesog as draaiboekkonsultant en adviseur en werk met plaaslike en internasionale produksiemaatskappye, bedryfsliggame en individuele skrywers.
Sy het haar TV-skryfwerk en navorsing laat oorloop in werk as feitekontroleerder en navorser, en skryf op die gebied van gesondheid, opvoeding, gestremdheid en migrante. Karen het ’n MA in skryfwerk vir films, en is besig met haar PhD in die uitbeelding van outisme op Suid-Afrikaanse televisie aan die UP.