Trump se besluit skep ’n moontlikheid vir onderhandelinge

Die onverwagte besluit deur president Donald Trump om die wederkerige tariewe van die Verenigde State (VSA) op nievergeldende lande 90 dae lank op te skort, in afwagting van verdere onderhandelings, het ’n sterk herstel in finansiële markte en ’n aanpassing in die vorige donker ekonomiese voorspellings aan die gang gesit.

Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, sê hierdie besluit skep nou ’n welkome geleentheid vir talle lande, insluitende Suid-Afrika, om met die VSA vir laer tariewe te onderhandel.

“Suid-Afrika – wat tot dusver ’n omsigtige en pragmatiese standpunt oor die VSA se tariewe ingeneem het – moet ook nou die kans op ’n transaksionele wyse aangryp om’n beter tariefooreenkoms met die VSA te beding. Daar is baie op die spel vir veral die motor- en landbousektor indien Suid-Afrika die 90-dae-tydperk sou gebruik om te probeer om die negatiewe impak van hoë VSA-tariewe op hulle uitvoere na daardie land te verminder.”

Prof Parsons sê Suid-Afrika se onderhandelingstandpunt moet gegrond wees op die waarskynlikheid dat die African Growth and Opportunity Act (AGOA) nie hernu gaan word nie. Hy verduidelik dat die waarskynlike pyn wat gaan volg as dit nie hernu word nie, of as Suid-Afrika uitgesluit word, by Suid-Afrika se strategie ingebou moet word.

Lande soos Suid-Afrika moet dus probeer om die beste moontlike ooreenkoms met die VSA aan te gaan. Nietemin, as daar geëvalueer word hoe waardevol hierdie bykomende grasie vir verdere onderhandelings gaan wees, sou dit wys wees om nie te veel van die uiteindelike uitkoms te verwag nie.”

Volgens prof Parsons is daar steeds ’n hoë vlak van onvoorspelbaarheid in die situasie oor VSA-tariewe, en die lukrake manier waarop besluite steeds geneem word. Dit skep knaende onsekerhede rakende besluitneming van besighede ten opsigte van beleggings en voorsieningskettings, wat ’n “wag-en-sien-houding” bevorder.

“Dit is die oorkoepelende beleidsomgewing waarin nasies wat geraak word nietemin steeds met die VSA oor tariewe en verwante sake moet onderhandel. Bilaterale onderhandelings kan skeefgetrek word deur nietariefkwessies by die besprekings in te sluit en kan ook ’n wig tussen lande indryf en so ekonomiese onsekerheid verder verhoog. Onsekerheid oor tariewe tydens die 90-dae-tydperk kan net so ekonomies skadelik as die tariewe self wees.”

Submitted on Thu, 04/10/2025 - 12:44