Triomfantelike Adele is NWU se Comrades-koningin

Geluk, geluk en nogmaals geluk! Die Noordwes-Universiteit (NWU) se dr Adele Broodryk, 'n senior lektor by die Skool vir Menslike Bewegingskunde aan die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, sal altyd deur die geskiedenis onthou word as die eerste Suid-Afrikaanse vrou wat die 2022 Comrades-marathon voltooi het.

Sy het ook algeheel derde in die vroue-afdeling met 'n tyd van 06:26:35 geëindig. Wat hierdie prestasie nóg meer merkwaardig maak, is dat dit die ma van twee se eerste Comrades-marathon is.

Hierdie jaar se geleentheid het van Pietermaritzburg tot Durban plaasgevind, waar Adele die wenstreep om 11:56 op Sondagoggend oorgesteek het. Die mansafdeling is deur Suid-Afrika se eie Tete Dijana gewen. Tete is 'n bekende gesig op die universiteit se Mahikengkampus waar hy sekuriteitsdienste vir die Mi7 National Group, 'n eksterne diensverskaffer, gelewer het.

Die NWU wil nie net vir hom nie, maar ook alle deelnemers aan die 95ste weergawe van die Comrades-marathon, geluk wens. Julle krag en deursettingsvermoë is 'n bewys van die onuitputbare natuur van die menslike gees. Julle ondersteuning vir mekaar wys weereens wat ons as Suid-Afrikaners kan bereik wanneer ons saam werk. Vir dit, sê ons dankie.

Adele-Broodryk

Submitted on Sun, 08/28/2022 - 19:44