Topprestasies in FameLab deur FGW studente

Die Fakulteit Gesondheidswetenskappe (FGW) wil graag twee van ons studente gelukwens wat buitengewoon goed in die jaarlikse FameLab-kompetisie presteer het.

FameLab is ’n kompetisie wat op wetenskapkommunikasie en openbare redevoering fokus met die doel om jong wetenskaplikes aan te moedig om hulle navorsing aan die publiek te kommunikeer. Dit is ’n internasionale gebeurtenis wat as platform dien vir hierdie wetenskaplikes om hulle kommunikasievaardighede te toon en breër gehore te bereik. Die kompetisie is in ooreenstemming met die regering se wetenskapbetrokkenheidsraamwerk (Science Engagement Framework) en ondersteun sy verbintenis om wetenskap en tegnologie te bevorder. FameLab speel ’n belangrike rol in die bevordering van wetenskapkommunikasie en maak wetenskap vir die publiek toeganklik en aanloklik.

Carla Horn is ’n meestersgraadstudent in Verpleegkunde in die fakulteit en het die eerste plek in die kompetisie gewen. Stefan Cloete, een van ons PhD-studente in Farmaseutiese Chemie, was tweede. Me Horn sal die NWU by die semifinale verteenwoordig, waar sy teen ander studente/navorsers van verskillende instellings regoor Suid-Afrika te staan sal kom.

Prof Sanette Brits, een van die beoordelaars in die kompetisie, sê dat die beoordelaars werklik beïndruk was met die uitstekende aanbiedings deur die finale 10 deelnemers. Die eerste drie kandidate se tellings was baie na aan mekaar en hulle het werklik oorgekom as kenners van die wetenskaplike inhoud wat hulle aangebied het.

“Die kompetisie gee aan studente die geleentheid om hulle kennis te deel en daaruit te leer. Dit is beslis nie maklik om ’n mens se navorsing, wat wetenskaplike feite bevat, in slegs drie minute te deel met ’n algemene gemeenskap van mense wat nie noodwendig jou werksgebied verstaan nie. Dit verg vaardigheid, oefening en deursettingsvermoë.”

Deelnemers word op grond van die inhoud (relevante wetenskaplike feite), duidelikheid (die fokus van die navorsing/projek moet duidelik en op die punt af wees) en charisma (entoesiasme oor die navorsing/projek met ’n uitstekende inleiding en afsluiting) beoordeel.

Baie geluk aan Carla en Stefan met ’n uitmuntende prestasie in die kompetisie, en dankie dat julle die NWU se bekendheid bevorder. Ons wens ook vir Carla alles van die beste vir die finale rondtes toe.

...

Carla Horn sal die NWU verder op nasionale vlak in die kompetisie verteenwoordig.

...

Stefan Coetzee het die tweede plek in die kompetisie behaal.

Submitted on Tue, 04/18/2023 - 11:40