Daar is nie ʼn groter atletiekverhoog as die Olimpiese Spele nie, en daar is min sportgeleenthede met só ʼn kleurryke geskiedenis.
Vir elke glorieryke Spele gevul met dramatiese, ryk herinneringe, is daar ook Spele wat met groot hartseer gepaard gegaan het. Londen 2012 en Atlanta 1996 val in eersgenoemde kategorie, en die tragedie van München 1972 in laasgenoemde. Berlyn 1936 is om redes meer as Jesse Owens se prestasies in die annale van ons geskiedenis opgeteken, en Korea 1988 sal meer vir die 100 m-opkikkerskandaal as vir die Spele self onthou word.
Maar hoe berei atlete hulleself vir Tokio 2021 voor? ʼn Dodelike virus, uitstellings, ontwrigtings, inperkings en die vooruitsig van leë pawiljoene draai deur elke atleet se kop. Wat die Suid-Afrikaanse span betref, is die Noordwes-Universiteit (NWU) se wêreldbekende sportsielkundige, dr Pieter Kruger, saam in Tokio om as lid van die bestuurspan sy kundigheid te deel.
As sportsielkundige, hoe gaan jy die atlete help om die unieke uitdagings van Tokio 2021 te hanteer?
Dit gaan ʼn groot uitdaging wees, maar ons het die atlete die afgelope 12 maande fyn dopgehou en is deeglik bewus van hulle eie en unieke behoeftes. Covid-19 en die inperkings het ʼn reuse impak op die atlete se algemene gedragspatrone gehad. Dieselfde gaan vir Tokio geld. In die Olimpiese dorpie gaan atlete met maskers aan moet oefen. Dit is nie normaal nie en gaan ʼn kopskuif verg.
Ons het reeds ʼn hele paar weke gelede met werkswinkels vir die atlete begin, want in hierdie tye is dit alles behalwe sake soos gewoonlik. Ons het ʼn raamwerk en ons het ʼn plan. Ons het vroeg reeds besef dinge gaan nie wees soos ons gehoop het nie, en dat ons proaktief gaan moet wees.
Ek was al by ʼn paar lang toere betrokke, soos die een saam met die Springbok-rugbyspan in 2015. Hoewel Tokio ander uitdagings gaan bied, gaan atlete en die bestuur se ingesteldheid deurslaggewend wees.
Dink jy atlete gaan sukkel om hul fokus te behou?
Vir sommige atlete gaan dit makliker wees as vir ander. Ons moet ook die kultuurskok in gedagte hou. Ek dink wel die grootsheid van die geleentheid gaan as ekstra motivering vir die atlete dien. As ek aan die 2012 Olimpiese Spele in Londen terugdink, onthou ek hoe dit gelyk het asof die atlete ʼn ekstra dosis energie kry. Hulle weet hulle is nou op die wêreldverhoog en dit bring die beste in die meeste van hulle uit.
Behoort die aanpassings vir ouer atlete makliker as vir hulle jonger eweknieë te wees?
Navorsing het bewys dat daar ʼn korrelasie tussen ouderdom en probleemoplossing is. Hoe meer ’n mens van die huis af weg is, hoe meer vaardighede leer jy aan oor hoe om unieke situasies te hanteer. ’n Mens kan natuurlik nie almal oor die selfde kam skeer nie, maar dit bly ʼn bate om lesse uit die verlede te kan haal.
Wat was vir jou van die grootste lesse wat jy as sportsielkundige die afgelope jaar geleer het?
Ons kon natuurlik nie in ons wildste drome voorsien dat iets soos die Covid-19-panpidemie sou plaasvind nie, en dit was fassinerend om te sien hoe mense dit hanteer. Mense se ongelooflike aanpasbaarheid het vir my uitgestaan, dieselfde geld vir atlete. Hulle dryfkrag om te presteer het dit vir hulle maklik gemaak om aan te pas, hulle het nie ʼn keuse nie. Dit is nie net hulle inkomste nie, daardie dryfkrag is deel van hul wese, en hulle sal alles insit om te presteer.
Sien jy uit na die ervaring?
Dit is vir my ʼn groot eer en voorreg. Ek gaan nie Spele toe vir roem of die kollig nie, ek gaan om te help om ʼn verskil te maak. Ek weet daar gaan ʼn paar onvoorsiene probleme wees, maar ons as die Suid-Afrikaanse span is in Tokio om die lewe met al twee hande aan te gryp.
Dr Pieter Kruger