Toekenning vir die beste plakkaat gaan aan NWU postdoktorale genoot

Die Fakulteit Gesondheidswetenskappe by die Noordwes-Universiteit (NWU) is trots daarop om nog ’n prestasie te deel: Dr Ilzé Engelbrecht, ’n postdoktorale genoot by die Beroepshigiëne en Gesondheid-navorsingsinisiatief (OHHRI), het die toekenning ontvang vir die beste plakkaat by ’n onlangse postdoktorale konferensie wat deur die Universiteit Stellenbosch aangebied is.

Dr Engelbrecht se navorsing fokus op ’n onderwerp wat al hoe belangriker raak – die potensiële gesondheidseffek op operateurs van laagvervaardiging (AM), wat algemeen as 3D-drukwerk bekend staan. Haar spesifieke belangstellingsgebied is metaalgebaseerde poeiers, ’n segment binne AM wat vinnige groei ervaar. Verskillende materiale, insluitende metale, word tydens die 3D-drukproses gebruik om fisiese voorwerpe te skep. Hierdie proses stel egter deeltjies en emissies, soos laserspatsels, kondensaatpoeiers, ultrafyn deeltjies en vlugtige organiese verbindings vry. Ten spyte van die toenemende gebruik van AM-tegnologie is daar beperkte data oor emissies en blootstelling aan groter 3D-drukkers met industriële metaal in Suid-Afrika beskikbaar.

Om hierdie gaping in ons kennis te hanteer, gebruik dr Engelbrecht selkulture wat verkry is van weefsel wat via verskeie roetes vir blootstelling vatbaar is, insluitende velkontak, opname en inaseming. Deur hierdie selstrukture te benut, wil sy met haar werk die potensiële gesondheidseffek ondersoek wat met AM-prosesse verband hou, veral dié wat metaalgebaseerde poeiers behels.

Dr Engelbrecht se belangstelling in hierdie bepaalde gebied het heel onverwags opgeduik. Haar vorige navorsing het rondom selkweking en die gebruik van biotoetsing gesentreer om die toksiese effek van chemiese mengsels uit die omgewing te evalueer. ’n Geleentheid om elemente van toksikologie met navorsing in beroepshigiëne en gesondheid te kombineer, het egter deur haar postdoktorale posisie by die OHHRI onder leiding van dr Suranie Horn na vore gekom.

Die navorsing wat deur dr Engelbrecht uitgevoer is, is uiters relevant, aangesien dit bydra om bewustheid te verhoog van die gesondheidsrisiko’s wat ervaar word deur Suid-Afrikaanse AM-operateurs wat aan die deeltjies en emissies van materiaal vir drukwerk blootgestel word. Haar werk kan voorts insigte verskaf oor strategieë vir die vermindering of voorkoming van blootstelling aan metaal-AM-poeiers en -emissies, en uiteindelik die gesondheid van hierdie operateurs beskerm.

Dr Engelbrecht hoop dat haar navorsingsbevindings in die toekoms gebruik sal kan word as bewyse om beleidsmakers oor die belangrikheid van die implementering van veiliger bedryfsprosedures en beter gesondheidheids- en veiligheidsregulasies binne die Suid-Afrikaanse AM-bedryf in te lig. Haar doel is om te verseker dat die kennis wat deur hierdie navorsing verkry word tot praktiese oplossings sal bydra wat tot die voordeel van die bedryf sal wees, en om die welstand te beskerm van diegene wat daarbinne werk.

Terwyl dr Engelbrecht se werk betekenisvol is om die nuwe uitdagings op die gebied van beroepshigiëne te hanteer, sal sy – saam met ander OHHRI-lede – ook hulle navorsing aan die Suid-Afrikaanse Instituut vir Beroepshigiëne (SAIOH) op hulle jaarlikse konferensie in Oktober voorlê. Hulle plakkaat, getiteld "Beyond the Clock: Rethinking Occupational Exposure Limits (OELs) for unique work shifts", beloof om waardevolle insigte te verskaf. Daarbenewens gaan ’n werkswinkel, wat in November deur die OHHRI op die NWU se Potchefstroomkampus gehou sal word, die volgende ondersoek: "The changing landscape of occupational hygiene: Challenges and opportunities presented by real-time exposure data". Hierdie gebeurtenis sal ’n platform vir netwerking, samewerking en kennisdeling tussen belanghebbers op die gebied van beroepsgesondheid verskaf.

Die fakulteit loof dr Engelbrecht vir haar prestasies en haar deursettingsvermoë om navorsing in beroepshigiëne en gesondheid te bevorder. Ons sien uit na die pad vorentoe, aangesien haar werk die potensiaal het om ’n positiewe impak op die welstand van talle individue in die AM-bedryf te maak.

....

Dr Ilzé Engelbrecht, ’n postdoktorale genoot by die Beroepshigiëne en Gesondheid-navorsingsinisiatief bied haar plakkaat aan.

Submitted on Fri, 10/13/2023 - 09:21