Toekenning sal SA help om sy moeilike geskiedenis te hanteer

Suid-Afrika is ’n samelewing waar ’n gevoel van behoort deur ’n lang en diep geskiedenis van verdeling en ontneming gekompliseer word. Vier personeellede van die Noordwes-Universiteit het ’n internasionale toekenning van die African Critical Inquiry Programme* (ACIP) ontvang om ’n gesamentlike werkswinkel te organiseer wat akademiese en artistiese betrokkenheid gebruik om aandag aan hierdie moeilike geskiedenis te gee.

Die ACIP het die toekenning aan die sosiale antropoloë dr André Goodrich en Pia Bombardella, die geskiedkundige dr Chris Holdridge en die kurator van die NWU Galery, Amohelang Mohajane, gemaak. Die befondsing sal gebruik word om die werkswinkel, getiteld “Unsettling the Single Society”, in die eerste kwartaal van 2022 aan te bied.

Die drie dae lange werkswinkel, wat in Potchefstroom gehou sal word, sal die rol van openbare kultuur in die vorm van akademiese en artistieke werk bespreek, en temas wat met onder andere segregasie en integrasie verband hou, krities hanteer.  

Dit sal begin met ’n openbare rondetafelbespreking wat met ’n uitstalling by die NWU Galery gekoördineer word, en sal later die inhoud vir ’n spesiale tematiese vaktydskrifuitgawe verskaf.

André sê hierdie werkswinkel – vir die personeel en studente van die NWU en ander universiteite – wil besprekings oor die geskiedenis en sosiale antropologie byeenbring om ’n kritiese betrokkenheid by eietydse integrerende denke teen die agtergrond van ons verdelende verlede te stimuleer.

Akademiese en artistieke werk oor die temas van behoort en nie behoort nie; simboliese en materiële arbeid; grond en landskap; strukturele en direkte geweld; en betwiste kennisbasisse sal aangebied word.

“Ons wil probeer om nuwe insigte oor eietydse kwellinge te bring oor hoe die instelling van ’n openbare kultuur die voorwaardes van integrasie kan herdefinieer. Dit is ’n eer om navorsingswerk wat reeds op hierdie gebiede gedoen is, byeen te bring,” sê André.

Gebroke diskoers oor behoort

André sê dat in die huidige Suid-Afrika, informele debatte en eise oor wie hier hoort dikwels op maniere plaasvind wat bewerings van behoort maak deur iemand anders se behoort te diskwalifiseer, en dit is ’n aanduiding van ’n gebroke diskoers. “Ons wil deur die werkswinkel ’n debat aanmoedig en die stryd van Suid-Afrikaners aantoon om ’n raamwerk te artikuleer waarbinne ’n kollektiewe gevoel van behoort met in agneming van ons geskiedenis moontlik is.”

Pia is opgewonde daaroor om deel van die span te wees wat die toekenning ontvang het. “Die tema vestig die aandag op ’n eenvoudige dog onopgeloste probleem in die geesteswetenskappe, naamlik die probleem van die enkele Suid-Afrikaanse samelewing.  Hierdie probleem is nie bloot akademies nie, maar het wesenlike gevolge vir Suid-Afrikaners. Ons hoop dat hierdie werkswinkel die begin sal wees van ’n langer proses waar ons hierdie vraagstuk sal hanteer en gesprekke sal uitlok wat verder as die akademie strek.”

Volgens Chris sal die werkswinkel ruimte skep om te kyk hoe en waarom sosiale strukture van voor 1994 in Suid-Afrika voortduur en nie bloot in die verlede lê nie, soos voortgaande debatte oor grondhervorming en blywende ongelykheid. “Die feit dat onbestendige arbeid, soos dié van skoonmakers, tuiniers of sekuriteitswagte, steeds hoofsaaklik deur Suid-Afrika se swart bevolking gedoen word, moet ons almal laat nadink in watter mate kolonialisme as ’n proses dalk steeds met ons is.”

Hy sê dat hy as geskiedkundige opgewonde is oor die werkswinkel se terugkeer na belangrike debatte oor strukture van oorheersing en ongelykheid in Suid-Afrika wat uit tydperke van kolonisering, segregasie en apartheid spruit.

Die kunsuitstalling by die NWU Galery sal ’n integrale deel van die werkswinkel wees. Amohelang glo dat die werkswinkel ’n ideale geleentheid is om akademiese en kuratorvaardighede op ’n breër platform te vertoon. “Dit kom op ’n geskikte tyd, want namate Covid-19 voortgaan om ons lewens wêreldwyd te ontwrig, sal hierdie werkswinkel ons toelaat om kunstenaars bymekaar te bring, en ’n vennootskap met ander kunsinstellings moontlik maak.  Dit sal ons ook in staat stel om ’n seleksie van werke uit die NWU-versameling uit te stal en dit uiteindelik moontlik maak dat die uitstalling en die werkswinkel na ander dele van die land reis.”

Die rol van die ACIP

Die ACIP bevorder navraag en debat oor die rolle van openbare kulturele domeine en instellings in die vorming van identiteite en die samelewing in Suid-Afrika ná kolonialisme en apartheid.

Dit het twee komponente: ’n jaarlikse ACIP-werkswinkel, en die Ivan Karp-navorsingstoekennings vir doktorale navorsing wat werk deur die volgende geslag vakkundige praktisyns bevorder.

Die ACIP word ondersteun deur bydraes aan die Ivan Karp- en Corinne Kratz-fonds. Die fonds, ter ere van prof Ivan Karp se bekroonde werk op die gebied van antropologie, museumstudies, Afrikastudies, sosiale teorie en openbare vakkundigheid, help om sy werk by universiteite, museums en ander kulturele instellings in Suid-Afrika voort te sit.

*Vir meer inligting ACIP besoek: http://www.gs.emory.edu/about/special/acip.html

........

Dr André Goodrich.

........

Pia Bombardella.

........

Dr Chris Holdridge.

........

Amohelang Mohajane.

Submitted on Thu, 07/01/2021 - 10:14