Think Tank -’n Blik op die mediumtermyn-begrotingstoespraak

deur Mbali Skosana

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool het onlangs ’n Think Tank-sessie in Vanderbijlpark gehou waar ’n paneel kundiges die inhoud van die Minister van Finansies se toespraak oor die mediumtermynbegroting bespreek het. Die aanwesiges is deur professor Linda du Plessis, die NWU se adjunk-visekanselier vir Beplanning en Kampusbedrywighede (Vanderbijlparkkampus), verwelkom. Professor Waldo Krugell van die NWU se Skool vir Ekonomie was die voorsitter by die bespreking en is deur professors Raymond Parsons van die NWU Besigheidskool en Gabila Nubong van die NWU se Skool vir Ekonomie bygestaan. Hulle het almal waardevolle insigte gelewer oor die ekonomiese uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar.

Professor Krugell het begin deur die kwelvraag uit te lig oor die dringende kwessie wat die Nasionale Tesourie moet hanteer: die delikate balanseertoertjie tussen die nasionale skuldlas en die bruto binnelandse produk (BBP) in die konteks van die land se sukkelende ekonomie. Hierdie balanseertoertjie het kritiese vrae laat ontstaan oor die implikasies vir beide die algemene publiek en vir maatskappye.

In reaksie daarop het professor Parsons die belangrikheid beklemtoon om ’n omvattende en langtermynperspektief in te neem wanneer die mediumtermynbegroting geïnterpreteer word. Hy het gesê dat die begroting nie enige noemenswaardige verrassings opgelewer het nie, aangesien talle van die uitdagings en onsekerhede in vroeëre ontledings en in die hoofbegroting van vroeër hierdie jaar bespreek is. Professor Parsons het die waarskuwings van die Minister van Finansies in Februarie se toespraak herhaal, veral die afdeling oor “Risiko’s vir die ekonomiese vooruitsig”, wat verskeie plaaslike en wêreldwye risiko’s aangeraak het. Die plaaslike kwessies het kragonderbrekings, die verbrokkeling van infrastruktuur, stadige strukturele hervormings, onstuitbare kriminele aktiwiteit en fiskale risiko’s ingesluit.

Professor Parsons het beklemtoon dat die Minister van Finansies ’n koorddans met die mediumtermynbegroting uitvoer in die lig van die naderende verkiesing en die behoefte om mededingende prioriteite binne ’n erg begrensde fiskale ruimte te balanseer. Hy het ’n beduidende deel van die toespraak beskryf as ’n voorbereidende oefening vir hervormings wat eers in Februarie 2024 en daarna sal materialiseer. Hy het ook beklemtoon dat die las vir die oplossing van hierdie ekonomiese uitdagings nie net op die Nasionale Tesourie se skouers moet val nie, maar die kabinet, die privaat sektor en samewerkings tussen die regering en die privaat sektor moet insluit.

’n Positiewe aspek van die minister se toespraak was sy streng standpunt oor ondernemings in staatsbesit en hy het geëis dat daar aan streng voorwaardes voldoen sal moet word voordat fondse aan hulle toegeken word. Die uitdaging is nou om hierdie posisie te behou. Hoewel die mediumtermynbegroting ’n realistiese evaluering van die land se ekonomiese situasie gegee het, berus die geloofwaardigheid daarvan op die geslaagde implementering van die voorgestelde remedies. Vertroue in die toekoms sal daarvan afhang of hoër inklusiewe groeikoerse verkry kan word.

Professor Gabila Nubong het met talle van professor Parsons se beskouings saamgestem en het die mediumtermynbegroting as ’n pragmatiese houpatroon beskryf, met die verwagting dat verdere besluite in 2024 se hoofbegrotingstoespraak of later aangekondig sal word. Die mediumtermynbegroting het die behoefte beklemtoon vir spesifieke intervensies om groei te ondersteun, staatsfinansies te stabiliseer en kwesbare groepe te help. Die geloofwaardigheid van hierdie maatreëls bly egter onseker, aangesien verbintenisse ten opsigte van gebiede soos elektrisiteit, infrastruktuur, herstrukturering van die staat en korrupsie al in die verlede gemaak is sonder dat daar tasbare resultate was.

Professor Nubong het die belangrikheid beklemtoon dat daar daarvan wegbeweeg word om oor kwessies te praat, en om liewer konkrete aksieplanne te verskaf om ondoeltreffendhede in die stelsel te hanteer. Die mediumtermynbegroting se syfers het die behoefte onderstreep dat goeie beleide gevorm moet word wat op belangrike aandrywers van ekonomiese groei fokus. Die kwessie van die eienaarskap, konsekwentheid en kontinuïteit van beleid, is ook beklemtoon, aangesien beloftes deur die jare dikwels op niks uitgeloop het nie.

In sy bespreking van die moeilike besluite wat geneem moet word, het prof Parsons gesê dat sulke besluite nie dikwels so laat in ’n politieke siklus gemaak word nie. Professor Nubong het voorgestel dat, indien moeilike besluite nodig is, dit werkskepping en die evaluering van doeltreffende staatsbesteding in spesifieke sektore moet prioritiseer. Hy het beklemtoon dat al die pogings sonder tasbare resultate in werkskepping verniet sal wees.

Prof Parsons se gevolgtrekking is dat “Suid-Afrika se staatsfinansies op ’n gevaarlike koers bly, en dat die risiko’s vir die fiskale vooruitsig steeds hoog is. Dit is dus noodsaaklik dat sulke remedies en hervormings soos in die mediumtermynbegroting beloof is, so spoedig as moontlik tasbaar geïmplementeer word. Met die projeksie dat die oorkoepelende skuld-tot-BBP-koers binne twee jaar 77% gaan bereik, sal dit die hoogste in Suid-Afrika se fiskale geskiedenis wees wat dit nog ooit was. Wat in die 2023 Mediumtermynbegroting-beleidsverklaring (MTBBV) skynbaar steeds nie na vore kom nie, is ’n duidelike fiskale plan om die tekorte en staatsbesteding mettertyd te verlaag.”

...

Professor Waldo Krugell (links) van die NWU se Skool vir Ekonomie was die voorsitter by die bespreking en is deur professors Raymond Parsons (regs) van die NWU Besigheidskool en Gabila Nubong (middel) van die NWU se Skool vir Ekonomie bygestaan.

Submitted on Tue, 11/07/2023 - 07:25