Dis geen geheim dat die Hipertensie in Afrika-navorsingspan (HART) by die Noordwes-Universiteit (NWU) aan die voorpunt van intensiewe navorsing is nie. Hulle het weer eens oor die afgelope jaar gedemonstreer dat hulle missie is om navorsing te doen wat talle gesondheidsverwante probleme kan oplos wat jonk en oud affekteer.
HART-navorsers het onlangs ook deelgeneem aan ’n program, #theArtofResearch, as ’n inisiatief om Afrika-kennis te aktiveer. Die navorsers het hulle navorsing deur middel van plakkate bekendgemaak sodat Afrika-wetenskap vir ons gemeenskappe meer toeganklik gemaak kan word.
HART se dr Adriaan Jacobs, dr Michél Stauss-Kruger, prof Shani le Roux en dr Yolandi Breet het hulle goed van hulle taak gekwyt.
Dr Adriaan Jacobs is ’n dosent in Fisiologie en ’n lid van HART. Sy navorsingsfokus handel oor kardiovaskulêre siektes. Sy navorsing ondersoek ’n proteïen wat daarvoor bekend is om die opbreek van bloedklonte te voorkom.
“Die getal mense in Suid-Afrika wat met hoë bloeddruk, of hipertensie, leef, is skrikwekkend hoog. Die meeste van ons ken iemand wat deur die vernietigende gevolge daarvan – insluitende hartaanvalle en beroertes – geraak word. Ons weet almal dat hipertensie uit veelvuldige faktore ontstaan, en hoe meer ons weet oor die onderliggende meganismes wat tot hoë bloeddruk lei, hoe meer kan ons ingryp en probeer om dit te voorkom,” sê hy.
Die proteïen plasminogeen-aktivateerder-inhibeerder-1 (PAI-1) is bekend vir sy tradisionele rol om die opbreek van bloedklonte te voorkom. “Ons navorsing toon ’n alternatiewe rol waarin hoë vlakke van PAI-1 ’n potensiële bydrae tot die ontwikkeling van hipertensie kan lewer,” sê dr Jacobs.
“Aangesien dit bekend is dat PAI-1-vlakke deur veranderbare faktore soos vetsug, rook en alkoholgebruik verhoog word, kan leefstylveranderings soos gewigsverlies en om op te hou rook en alkohol te gebruik, PAI-1-produksie verlaag, en so ook die ontwikkeling van hipertensie deur middel van hierdie potensiële meganisme beperk.”
Dr Michél Strauss-Kruger is ’n postdoktorale genoot wat in leefstyl- en kardiovaskulêre siekte spesialiseer. “Jong Suid-Afrikaners is altyd gewillig om vir verandering te stry wanneer dit by groter sake soos die verbetering van gesondheidsorg, en ekonomiese, behuisings- en onderwysstelsels kom. Tog verwaarloos ons maklik ons eie gesondheid en welstand omdat ons nie besef dat ons persoonlike gesondheid tot die grootskaalse probleem kan bydra nie.”
Sy sê dat hulle navorsing reeds getoon het dat merkers wat met ’n hoë soutinname en vetsug verband hou, by jong volwassenes tot harder slagare en vergroting van die hart – risikofaktore van hartsiekte – lei.
“Klein veranderings soos die vermindering van jou sout- of suikerinname, die eet van meer vrugte en groente, of meer oefening, kan jou risiko vir die ontwikkeling van hartsiekte beduidend verlaag,” sê dr Strauss-Kruger.
Prof Shani le Roux is ’n medeprofessor wat navorsing oor kardiovaskulêre fisiologie doen. Haar navorsing behels ’n nuwe inflammatoriese merker om die risiko vir bloedvatsiekte te identifiseer.
“Alle Suid-Afrikaners sou vir so lank as moontlik as gelukkige, gesonde individue wou leef; en ons wil dieselfde hê vir die mense oor wie ons omgee. Vergeleke met ander oorsake van sterftes, is die koers van beroerte en hartsiekte die hoogste in Suid-Afrika, maar mense besef steeds nie voordat dit te laat is dat hulle ’n groot poging moet aanwend om gesond te bly nie.”
Stowwe in die bloed genaamd inflammatoriese merkers help om die bloedvate te beskerm en te genees wanneer hulle siek raak. Navorsers in Denemarke het ’n spesifieke inflammatoriese merker genaamd oplosbare urokinasetipe-plasminogeenaktiveerder-reseptor, of kortliks suPAR, ontdek. Hierdie merker word in die bloed vrygestel wanneer die bloedvate begin siek word, en kan gebruik word om ’n persoon se risiko vir die ontwikkeling van bloedvatsiekte vas te stel.
Navorsers by die NWU het nou ontdek dat dit ook die geval by die Suid-Afrikaanse bevolking is. “Nog belangriker, ons het uitgevind dat die manier waarop jy leef suPAR – en dus die gesondheid van jou bloedvate – beïnvloed. Dit kan lei tot hoër bloeddruk en ’n hoër risiko om aan hart- en bloedvatsiektes te sterf,” sê prof Le Roux.
Dr Yolandi Breet is ’n senior lektor wat spesialiseer in slagaarverharding en hoe dit met hipertensie verband hou. Haar navorsing, getitel “Active children are healthy children”, het ondersoek hoe kinders by die skool meer aktief kan wees om siektes soos hipertensie te voorkom.
“Kinders regoor die wêreld wil graag gesonde volwassenes word, ’n loopbaan en ’n gesin hê, en ’n lang, gelukkige en gesonde lewe hê. Talle skoolkinders is egter oorgewig en onaktief, wat hulle risiko vir die vroeë verharding van bloedvate en kardiovaskulêre siekte kan verhoog.”
Die groep se navorsing het getoon dat hoë bloeddruk reeds by kinders waargeneem word, en dat ’n gesonde dieet en oefening met ’n afname in die verharding van bloedvate en kardiovaskulêre risiko verband hou.
“Ons doen ’n beroep op die Departement van Basiese Onderwys en skoolbeheerliggame om oefening in die skoolleerplan te prioritiseer en om gesonde koskeuses in snoepwinkels en die eetlokale van skole te hê. Met hierdie prioriteite in plek, sal kinders grootword om gesonde, produktiewe volwassenes te word wat ’n bydrae tot die samelewing lewer en hierdie selfde gewoontes by hulle eie kinders kweek en om so ’n beter, gesondheidsbewuste toekomstige samelewing te bou,” sê dr Breet.
Die HART-groep werk aktief aan verskeie projekte in samewerking met talle medewerkers en ander navorsingsentiteite. Om meer oor hulle navorsing te lees, besoek asseblief: https://health-sciences.nwu.ac.za/hart
HART se dr Adriaan Jacobs, dr Michél Strauss-Kruger, prof Shani le Roux en dr Yolandi Breet.