TELIT-SA: die toekoms van tegnologie-bevorderende leer

’n Toegewyde fokus op die praktyk van tegnologie-bevorderende leer: dit is waaroor die pas gestigte TELIT-SA-navorsingsfokusarea gaan.

TELIT-SA staan vir tegnologie-bevorderende leer en innoverende onderwys en opleiding in Suid-Afrika (Technology Enhanced Learning and Innovative Education and Training in South Africa), en die eenheid kyk na die teorie en praktyk van leertegnologieë oor ’n verskeidenheid dissiplines in hoër onderwys heen.Aan die hoof van hierdie dinamiese entiteit is prof Seugnet Blignaut, ’n gesoute en hoogaangeskrewe kundige in onderwystegnologie. Sy sê dat TELIT-SA wil help om ’n spesifieke, formele kennisbasis vir tegnologie-ondersteunde leer te skep, wat weer as ’n wettige, geldige en uiters noodsaaklike hulpbron en veranderingsagent oor akademiese dissiplines heen sal dien.

TELIT-SA het drie interverwante subprogramme:

  1. Ontwerp en ontwikkeling van hoër onderwys en opleiding se tegnologiese artefakte, met onderwysteorie en praktyk en mens-rekenaar-interaksiebeginsels in gedagte. Dié artefakte ondersteun modules vir hoër onderwys- en gesondheidsorgprogramme.
  2. Gebruik van en besinning oor tegnologie vir innoverende dissipline-gebaseerde hoër onderwys en opleiding.
  3. ’n Institusionele perspektief op die gebruik en evaluering van tegnologie vir leer in hoër onderwys en opleiding, asook in die bedryf.

Seugnet sê dat die eerste doelwit van hierdie entiteit is om ’n navorsingstuiste vir alle akademici te verskaf om hulle navorsingshoede wat op tegnologie-ondersteunde leer betrekking het, op te hang.

Baanbrekernavorsing
Hier is van die baanbrekernavorsing wat by TELIT-SA gedoen word:

  • Me Veruschka Pelser-Carsens, ’n dosent aan die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe op die NWU se kampus in Vanderbijlpark, is ingeskryf vir ’n PhD aan die Universiteit van Oos-Finland (UEF), in samewerking met TELIT-SA. Haar navorsingsvraag ondersoek hoe ’n tafelbordspel studente kan help om geïntegreerde begrip van rekeningkunde te verwerf. Veruschka, tesame met ander rolspelers, stel ’n multispeler-, multilaag-bordspeletjie saam wat tegnologiekomponente sal gebruik om spanwerk te bevorder, sagte vaardighede te ontwikkel en klaskamer-gebaseerde leer ’n avontuurinspuiting te gee. Sy het reeds ’n loodsspeletjie ontwikkel en werk nou aan die finale weergawe daarvan, wat op Suid-Afrikaanse, Finse en Mexikaanse studente getoets sal word. Die finale speletjie sal ook in digitale formaat beskikbaar wees.
  • ’n Ander lid van die TELIT-SA-span, prof Dawid Jordaan, het onlangs die 13de internasionale konferensie oor mobiele leer in Boedapest, Hongarye bygewoon. Dawid, wat in mobiele toepassings spesialiseer, het ’n navorsingsaanbieding getiteld: “Design of a prototype mobile application to make mathematics education more realistic” gemaak. Hierdie aanbieding is gegrond op navorsing wat gedoen is deur me Dorothy J Laubscher, ’n PhD-student op die NWU se kampus in Potchefstroom, oor die ontwikkeling van ’n mobiele toepassing om wiskunde-onderwysers in landelike gebiede regoor Suid-Afrika te help. Die toepassing help onderwysers om realistiese wiskunde met behulp van tegnologie te verken.
  • Die evaluering van die waarde van oognaspeuring vir serious games wat vir NWU-studente geskep word, is die gesamentlike navorsingsfokus vir Seugnet en mnr Gordon Matthew van die navorsingsfokusarea UPSET (wat staan vir begrip vir en verwerking van tale in komplekse situasies). Deur akkuraat te bepaal waar studente tydens ’n speletjie kyk, beoog hulle om die grafiese gebruikerkoppelvlak van speletjies te bestudeer. Dit sal hulle in staat stel om drie dinge te bepaal: of voorwerpe in die korrekte posisie op die skerm geplaas is, of genoeg tyd aan sekere aksies toegewys is, en of sekere spel-elemente oorbodig is en verwyder moet word. Vier navorsingsreferate is reeds hieroor gepubliseer.
  • In ’n ander internasionale samewerkingsprojek tussen TELIT-SA en Finland, sal MSc-student Lance Bunt die rol ondersoek van die betroubaarheid van die grafiese gebruikerskoppelvlak op leeruitkomste. Aangesien daar nie in bestaande literatuur enige konsensus is nie, sal hy ’n speletjie gebruik wat voorheen deur die Serious Games Instituut – Suid-Afrika ontwikkel is. Hierdie studie sal ook in samewerking met UPSET onderneem word.

 

Die administratiewe tuiste van TELIT-SA is die Fakulteit Ekonomiese Wetenskappe en Inligtingstegnologie op die kampus in Vanderbijlpark. Vir meer inligting, kontak die TELIT-SA-skakelbeampte deur ’n e-pos te stuur aan Noory.Yusuf@nwu.ac.za.


Prof Seugnet Blignaut.
 

Submitted on Thu, 06/22/2017 - 15:48