Dit was nie onverwags dat die jongste werkloosheidsyfers vir die tweede kwartaal van 2024 tot 33,5% gestyg het teen die agtergrond van die vorige swak ekonomiese data wat werkskepping negatief beïnvloed het nie.
In sy kommentaar op die vrystelling van die kwartaallikse arbeidsmagopname vir die tweede kwartaal van 2024 deur Statistieke Suid-Afrika sê prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, dat die bruto binnelandse produk (BBP) se groeisyfers in onlangse kwartale teleurstellend was.
“Dit was onvermydelik dat swak groei in nog hoër werkloosheid weerspieël sou word. As dit eng gedefinieer word, is een uit elke drie mense van werksouderdom in die bevolking nou sonder werk. Die voortgesette hoë vlak van werkloosheid onder die jeug bly ’n groot kopseer.”
Volgens prof Parsons bevestig die jongste oorkoepelende werkloosheidsyfers weer eens die dringendheid wat deur die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) vir Suid-Afrika uitgespel is, naamlik dat baie groter inklusiewe en arbeidsryke groei geprioritiseer moet word.
“Die vooruitsigte om die hoë vlak van werkloosheid te stabiliseer en uiteindelik te verminder word alreeds deur die uitfasering van beurtkrag, hoër infrastruktuurbesteding, ’n sterker sakevertroue en verlaagde beleidsonsekerheid verbeter. Dit kan mettertyd ’n volhoubare platform vir groter werkskepping in die toekoms bou.”
Hy sê egter dat dit ook die behoefte versterk om daardie strukturele ekonomiese hervormings te bespoedig wat die Suid-Afrikaanse ekonomie gouer eerder as later kan omdraai, en dit op ’n baie hoër groeitrajek plaas.
“Huidige voorspellings van rondom ’n 1,0% BBP-groei hierdie jaar is bloot nie goed genoeg nie. Die heersende slegte nuus op die werkloosheidsfront kan dus slegs in die toekoms in beter nuus omskep word indien die ekonomiese remedies wat Suid-Afrika nodig het ’n groter prioriteit ontvang.”