Tegnologie-oordrag en Innovasie-ondersteuning vier NWU se skeppers van IE

Die Tegnologie-oordrag en Innovasie-ondersteuning-kantoor (TTIS) by die Noordwes-Universiteit (NWU) het onlangs ’n vieringsgeleentheid vir die NWU se skeppers van intellektuele eiendom (IE) gehou.

Die mandaat van die TTIS is om navorsers en uitvinders by die NWU te help om hulle navorsing in nuwe en lewensvatbare produkte en dienste tot sosio-ekonomiese voordeel om te skakel. Die adjunk-visekanselier vir Navorsing en Innovasie, prof Jeffrey Mpahlele, het die gebeurtenis met ’n welkomswoord aan die navorsers geopen: “Dit is ons missie om die skeppers van IE te motiveer en te ondersteun en aan hulle die erkenning te gee wat hulle verdien. Die NWU beskou julle nie as vanselfsprekend nie! Ons is dankbaar dat ons navorsers altyd die ekstra myl stap en ons is trots op julle harde werk!”

Die TTIS verskaf ondersteuning en hulp om akademici se navorsing in die hande te plaas van gemeenskappe wat dit nodig het. “Ek weet nie waar my span ophou en die TTIS-span begin nie – ons is elke tree van die pad saamgesnoer en ek is uiters dankbaar vir hulle ondersteuning,” sê prof Leenta Grobler. Prof Leenta is slegs een van die innoveerders wat deur die TTIS gehelp is om meer as 10 innovasies te ontwikkel – van die app TjopTjop, ’n Covid-19-gesondheidsiftingsoplossing vir skole en besighede, tot ’n digitale infantometer om ontwikkeling by babas te moniteer.

Die doel van die vieringsgeleentheid vir die NWU se skeppers van IE was nie net om die skeppers vir hulle harde werk te bedank nie, maar ook om verhoudings in stand te hou en hulle met hulle navorsings- en innovasiepogings te motiveer.

Die rol van die TTIS behels die identifikasie van kommersialiseerbare intellektuele eiendom, die registrasie van patente en handelsmerke waar van toepassing, die verkryging van befondsing, die onderhandeling met beleggers, en die kommersialisering van innovasies. Dr Janine Chantson, hoofdirekteur van TTIS, het gesê dat 2022 die jaar was waarin die TTIS ’n rekordgetal IE-bekendmakings asook aansoeke vir saaibefondsing ontvang het. “Danksy die navorsers se harde werk neem innovasie by die NWU toe,” sê sy.

Nadat prof Jeffrey die gaste verwelkom het, het dr Mesuli Mbanjwa van die TTIS-kantoor die gasspreker, Craig Wing, bekendgestel. Mnr Wing is ’n futuris, ’n entrepreneur en wêreldwye hoofspreker met korporatiewe kliënte soos Audi, Deloitte, ABSA, Sanlam en talle ander in sy portefeulje. Hy het reeds meer as 1 000 entrepreneurs van raad bedien en is ook die skrywer van topverkopers op Amazon. Hy het twee meestersgrade in Ingenieurswese en Besigheid en is besig om sy PhD in Toekomsdenke by die Universiteit van Johannesburg te voltooi. Hy het ’n opwindende aanbieding gelewer wat beslis die aanwesiges geraak het, en soos prof Jeffrey dit genoem het, “ons denke geherprogrammeer het!”

Dr Petro Erasmus, IE-skepper van Let’s Really Play Maths, ’n prettige manier wat kinders help om wiskunde te leer, te speel, te geniet en te bemeester, het ook die viering bygewoon en haar ervaring van samewerking met die TTIS gedeel. “Net die idee om jou navorsing in die kommersiële mark te

plaas, is opwindend, en die werklikheid hiervan het ’n geweldige invloed op ’n mens se lewe. Die TTIS het my gehelp om my navorsing in die praktyk bekend te stel as produkte en lewensvatbare programme om kinders te help om wiskunde te geniet,” verduidelik sy.

Prof Ushotanefe Useh, IE-skepper van die NWU Lifestyle Diseases App, het gesê dat hy en sy span nie in staat sou wees om soveel mense en kinders wat aan nie-aansteeklike siektes ly, te help as dit nie vir die TTIS was nie. Die TTIS het advies oor die verdere ontwikkeling van die app verskaf, en ook insette gelewer oor hoe om die app vir kommersialisering en verdere navorsing te posisioneer. “Hulle het die harde werk gedoen om ons app in die mark te kry en met korporatiewe reuse soos Discovery Health geskakel om dit te kommersialiseer,” sê hy.

In ’n vertrek gevul met denkers met hulle gedagtes op die toekoms gerig, is verskillende stories van IE-reise gedeel en het dit duidelik geblyk dat hierdie skeppers elke persoon waardeer wat hulle ondersteun om hulle navorsing daar buite te kry by die mense wat dit die nodigste het. By die NWU lê navorsing nie op ’n rak om stof te vergader nie – baie werk gaan daarin om die navorsingsuitsette in die samelewing te kry! Prof Leenta Grobler het gesê dat sy na nog geleenthede soos hierdie uitsien: “Die TTIS het ’n kragtige impak op ons navorsing, hulle doen altyd meer as wat hulle moet! Baie dankie aan hulle!”

....

Dr Petro Erasmus en haar wiskunde-Whartels

...

Mr Craig Wing, futuris en spreker by die geleentheid.

Submitted on Mon, 11/14/2022 - 11:18