Tegnologie-oordrag en Innovasie-kantoor wys die weg aan vir bemagtiging van innovasie

by Vukosi Mathale

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het betekenisvolle stappe gedoen om innovasie te koester en deurbrake in navorsing te bemark.  Die NWU se Tegnologie-oordrag en Innovasie-ondersteuning-kantoor (TTIS-kantoor) staan sentraal in hierdie poging.

Die rol van TTIS is om navorsers te help om hulle akademiese navorsing om te skakel in praktiese oplossings wat ’n impak op die samelewing kan hê. Navorsers wat glo dat hulle navorsingsuitsette die potensiaal het om verder as die universiteit te strek, moet ’n verklaring oor die openbaarmaking van intellektuele eiendom (IP) by die TTIS indien.

Die IP-openbaarmaking is die begin van die reis van tegnologie-oordrag, waartydens die TTIS poog om die innovasiegaping te oorbrug van innovasiegebaseerde konsepte tot by produkte en dienste wat vir die mark gereed is.  Dit bevat noodsaaklike inligting oor die navorsingsuitsette of innoverende idees, insluitende tegnologiebeskrywings, voordele en potensiële toepassings.

TTIS gebruik hierdie inligting om lewensvatbaarheid in die mark te evalueer en strategieë vir die beskerming van IP aan te beveel om sodoende te verseker dat navorsers hulle bevindings kan versprei terwyl die moontlikheid van patente beveilig word. TTIS moedig vroeë betrokkenheid aan en versoek navorsers om tydens die konseptuele fase leiding te soek met betrekking tot ’n omvattende kommersialisasie-ontleding.

Dr Janine Chantson, TTIS se hoofdirekteur, moedig navorsers aan om hulle fokus verder as die laboratorium te laat strek. “Die breër publiek gaan baie daarby baat wanneer baanbrekerprodukte vanuit navorsingsinisiatiewe van die universiteit na vore kom.”

Sy erken dat die reis vanaf die uitvinding tot by ’n bemarkbare produk dikwels die beskerming van ’n patent noodsaak, en beklemtoon die lewensvatbaarheid van die gesamentlike proses van ’n patent en publisering, en moedig navorsers aan om hulle tydsberekening van hierdie noodsaaklike stappe omsigtig te bestuur. Sy sê dat ’n strategiese balans tussen die verspreiding van kennis deur publikasie en patentering die maatskaplike impak van navorsingspogings kan verhoog.

Prof Jeffrey Mphahlele, adjunk-visekanselier vir navorsing en innovasie, moedig navorsers aan om openbaarmakings by TTIS in te dien en beklemtoon hulle rol in die evaluering van die instelling se potensiaal vir nuwe patente en kommersialisasie.  Dit is in ooreenstemming met die NWU se Strategiese Plan, wat daartoe verbind is om ’n ekostelsel te ondersteun wat vir die skepping van intellektuele eiendom en kommersialisasie bevorderlik is.

Navorsers word uitgenooi om die NWU se Uitvinderportaal te benut om die kommersialisasieproses aan die gang te sit en ’n bydrae te lewer tot die universiteit se reputasie as ’n kern vir baanbrekernavorsing en -ontwikkeling. Met die deurlopende ondersteuning van die TTIS-kantoor bly die NWU aan die voorpunt van innovasie en tegnologiese vordering.

Vir bykomende besonderhede, raadpleeg asseblief die handleiding en beleid oor die NWU se intellektuele eiendom (IP).

Dr Janine Chantson is die hoofdirekteur van die Tegnologie-oordrag en Innovasie-ondersteuning-kantoor.

Submitted on Wed, 11/15/2023 - 13:19