Tegnologie- en innovasiekundiges by die NWU deel kennis met afvaardiging uit Malawi

Dit neem ’n span spesialiste om te verseker dat die goeie idees, baanbrekerinnovasies en indrukwekkende intellektuele eiendom van die Noordwes-Universiteit (NWU) in ’n toenemend mededingende omgewing aan die voorpunt bly.

Ter erkenning van die kundigheid aan die NWU het ’n afvaardiging uit Malawi die universiteit se Tegnologie-oordrag en Innovasie-ondersteuningskantoor (TTIS-kantoor) van 2 tot 4 November besoek met die oog daarop om ’n soortgelyke kantoor in hulle land te vestig – die eerste in Malawi.

Die groep van nege afgevaardigdes, wat die Nasionale Kommissie vir Wetenskap en Tegnologie (NCST) in Malawi en die Malawi Universiteit vir Besigheid en Toegepaste Wetenskappe (MUBAS) verteenwoordig, sê hulle het gekom om oor die bedrywighede te leer en wil meer insig kry in die ingewikkeldhede ten einde ’n soortgelyke kantoor te stig.

Hulle besoek het ’n toer van die TTIS-geriewe en verskillende aanbiedings deur NWU-kundiges op die gebied van kommersialisering en intellektuele eiendom ingesluit.

Dr Janine Chantson, hoofdirekteur van die TTIS-kantoor by die NWU, het die groep verwelkom. “Dit is ’n plesier om die afgevaardigdes te ontvang. Ons hoop dat hierdie besoek tot meer samewerking en betrokkenheid sal lei.”

Prof Ishmael Kosamu, adjunk-visekanselier by MUBAS, sê die opleiding was uiters nuttig. “Dit sal Malawi help om sy eerste tegnologie-oordragkantoor te vestig. Die span waardeer werklik die kennis wat ons verwerf het en die praktiese ervarings van die NWU-span en die navorsers wat genooi is.”

Isaac Chingota, hooftegnologie-oordragbeampte van die NCST, het die afgevaardigdes se waardering uitgespreek vir die warm gasvryheid wat hulle by die NWU ervaar het. “Die opleidingsessie het werklik aan ons verwagtinge voldoen. Ons het boonop insig verkry in die bemagtiging van nasionale raamwerke wat kan help om die tegnologie-oordragstelsels in universiteite te bestuur. Ons sien uit na meer interaksie.”

Die oorsprong van TTIS aan die NWU

Dr Chantson sê dat die NWU een van die eerste universiteite was om in 1999 ’n tegnologie-oordragkantoor te vestig. Sedertdien het die universiteitslandskap verander, met die meeste universiteite in Suid-Afrika wat nou ook tegnologie-oordragkantore gestig het.

“Daar was ’n groot verandering in 2010 met die bekendstelling van die Wet op Intellektuele Eiendomsregte uit Openbaar Gefinansierde Navorsing en Ontwikkeling (IPR-wet). Die doel van die Wet is om voorsiening te maak vir die identifisering, beskerming, benutting en kommersialisering tot voordeel van die mense van Suid-Afrika van intellektuele eiendom wat uit openbaar gefinansierde navorsing en ontwikkeling voortspruit, hetsy vir maatskaplike, ekonomiese, militêre of enige ander voordeel.”

Dr Chantson het die Malawiese afgevaardigdes iets gegee om oor na te dink deur daarop te wys dat Suid-Afrika se IPR-wet die prestasie van kantore van tegnologie-oordag rig. Ten opsigte van openbaar gefinansierde navorsing en ontwikkeling sluit dit in dat hulle onder andere beleide vir openbaarmaking, identifisering, beskerming, ontwikkeling en kommersialisering namens hulle instellings en ooreenkomste vir die deel van voordele moet ontwikkel en implementeer.

...

Afgevaardigdes uit Malawi en personeel van die NWU se Tegnologie-oordrag en Innovasie-ondersteuningskantoor tydens hulle besoek aan Potchefstroom. Voor is Isaac Chingota (hooftegnologie-oordragbeampte – NCST), Dr Janine Chantson (hoofdirekteur van die NWU se TTIS), mnr Hambani Gausi (hoofdokumentasiebeampte – NCST), mnr Francis Masi (dosent in Biomediese Ingenieurswese en lid van die beheerkomitee – MUBAS), prof Ishmael Kosamu (adjunk-visekanselier – MUBAS), en mev Agnes Kaima (dosent in Bourekene en lid van die beheerkomitee – MUBAS).

In die tweede ry is mnr Steven Kuchande (dosent in Ekonomie en lid van die beheerkomitee – MUBAS), mnr Thomas Kaluvi (tegnologie-oordragbeampte – NCST), mnr Livison Msonthe (dosent in Wetenskap en Tegnologie-onderwys en lid van die beheerkomitee – MUBAS), dr Madalitso Tsakama (voorsitter van die TTO-beheerkomitee – MUBAS), me Yolandé Bullock (NWU TTI-kantoor en kwaliteitsbestuurder) en me Mari Berner (NWU TTIS IP-administrasie).

Agter is me Gretha Duvenage (NWU TTIS Regs en Nakoming), dr Mesuli Mbanjwa (NWU TTIS Kommersialisering), me Relobohile Baholo (NWU TTIS Administrasie), mnr Hannes Malan (NWU TTIS Kommersialisering) en mnr Johann Coetzee (NWU TTIS Intellektuele Eiendom en Kontraktering).

...

Dr Janine Chantson (hoofdirekteur van die NWU se TTIS) spreek die afgevaardigdes uit Malawi en personeel van die NWU se TTIS toe.

...

Afgevaardigdes uit Malawi tydens die inleidende sessie by die NWU se TTIS-kantoor in Potchefstroom.

Submitted on Fri, 11/04/2022 - 09:54