Chanell – ‘n trotse alumna van die NWU – het in 2015 vir nasionale opskrifte gesorg toe sy, in daardie stadium na haar ongeluk en steeds in ‘n rolstoel gekluister, haar honneursgraad in opvoedkunde behaal het.
‘n Lewensveranderende ongeluk
Chanell was in 2014 op die kruin van haar loopbaan as mededingende atleet en het lof ingeoes as ’n bekwame driekampatleet, langafstandhardloper, hokkiespeler, professionele tennisspeler en ervare sportafrigter. As onderwyser by die Hoërskool Sasolburg het sy nie net gehelp om jongmense akademies te slyp nie, maar het sy ook as praktiese afrigter haar passie vir sport gedeel.
Dit het egter alles op 19 Desember 2014 verander.
Op haar pad terug vanaf ’n 100 km-oefenrit, is Chanell in Vanderbijlpark van haar fiets afgery deur ’n motoris wat nie by ’n stopstraat stilgehou het nie. Sy is per helikopter na ’n hospitaal in Alberton vervoer, op ’n lewensondersteuningstelsel geplaas, en was vir amper 90 dae lank in ’n koma. Neuroloë het vasgestel dat sy as gevolg van die ongeluk erge breinskade opgedoen het.
’n Veggees soos min
Chanell gee egter nie sommer moed op nie. Hoewel sy toe nog in ’n koma was, het sy net 26 dae ná die ongeluk op haar eie begin asemhaal. Haar ouers, Pieter en Yvonne Meijer, glo dat hulle dogter se veggees haar in staat gestel het om nie net te oorleef nie, maar om ná die grootste uitdaging in haar fisieke lewe te floreer.
“Reeds op die dag van haar ongeluk het gebedsgroepe regoor die wêreld gevorm, en ons as gesin is omring deur die ondersteuning van die gemeenskap en die Suid-Afrikaanse sportgemeenskap,” sê Yvonne. Hoewel die dokters nie optimisties was oor haar kanse op herstel nie, het Chanell teen alle verwagtings een dag haar oë oopgemaak en probeer praat.
Haar nuwe normaal
“Die ongeluk het my ’n nuwe mens gemaak,” sê Chanell, en verduidelik dat sy op die ouderdom van 32 soos ’n baba was wat van voor af weer moes leer eet, stap en praat.
Sy erken dat hoewel haar pad na herstel moeilik was, sy krag ontvang het by haar gesin en die talle wonderlike mense wat haar ondersteun het. Die besef dat sy ’n tweede kans op die lewe gegun is, en dat daar geen terugkeer na die “ou Chanell” was nie, het haar gemotiveer om geduldig te wees.
En wat hou die toekoms vir haar in?
Sy antwoord opgewonde dat sy uitsien daarna om weer te studeer, langafstandhardloop gaan aanpak, en uiteindelik – eendag – vir die Comrades-marathon gaan inskryf. Van een ding is ek seker: Chanell se drome is binne haar bereik!
Emosionele tonele het afgespeel toe Chanell in 2015, kort na haar ongeluk, haar honneursgraad ontvang het.