Susan Cilliers: Dokumenteer die bose

Dit was die dubbele moord wat ’n gemeenskap geruk en ’n nasie geskok het. Op Saterdag 26 Mei 2018 het die 19-jarige Xander Bylsma vir Sharnelle Hough (17) en Marna Engelbrecht (16) in hulle koshuis in die klein dorpie Stella vermoor.

Hierdie hegte landbougemeenskap in Noordwes was platgeslaan, nie net deur die verlies van twee geliefde meisies nie, maar ook as gevolg van die manier waarop hulle dood is. Bylsma het die twee beste vriendinne in ’n daad van suiwer wreedheid met sy kaal hande  verwurg. Hough was Bylsma se vorige meisie en Engelbrecht was sy niggie.

Die bekende joernalis en skrywer van die boek House of Horrors, Susan Cilliers, het die tragiese verhaal van verlies, jaloesie en wraak in Die Stella-moorde, haar tweede boek, gedokumenteer.

Cilliers, wat haar graad in Kommunikasiestudies, asook haar meestersgraad, aan die Noordwes-Universiteit (NWU) voltooi het, is ’n senior joernalis vir Netwerk24 en Beeld in Noordwes.

“Ek het nie die Stella-storie gekies nie, dit het my gekies. Ek moes in my hoedanigheid as verslaggewer vir Netwerk24 daaroor verslag doen. Dit was moeilik en dit was veeleisend, maar ook baie interessant. Toe Lapa Uitgewers my weer gevra het om ’n boek te skryf (hulle het haar ook gekontak om House of Horrors te skryf), het ek besef dat ek jammer sou wees as ek dit nie doen nie, aangesien ek al die inligting gehad het om dit te kan doen. Die feit dat ek reeds ’n boek geskryf het, het my die selfvertroue gegee om weer so ’n projek aan te pak,” verduidelik sy.

“Dit was weer eens ’n groot uitdaging om my vaardighede te toets en uit te brei. Ek het ook gevoel dat mense die saak broksgewys oor drie jaar gevolg het, en dat dit goed sou wees om die storie samehangend met al die belangrikste feite in een dokument saam te vat. Dit was ook vir my belangrik omdat ek gevoel het dit sou die meisies se ouers help om afsluiting te verkry. Ek het ook gevoel dat die beginsel van geregtigheid in die algemeen gesien en gehoor moet word. Die media speel ’n sentrale rol hierin,” sê Cilliers.

Hoewel sy ’n ou hand is wat al talle tragiese stories moes dek, was die Stella-moorde vir Susan ’n unieke ervaring.  

“Die Stella-moorde het my persoonlik geraak, want dit was so harteloos en koud van aard, en veral omdat die moordenaar, Xander Bylsma, die meisies geken het wat hy vermoor het. Dit maak jou bang om te dink dat sulke boosheid in jou binnekring kan wees sonder dat jy dit weet. Ek het probeer om myself emosioneel te distansieer, veral deur tydens die verhoor op die feite en die getuies te fokus. Persoonlik voel ek werklik jammer vir al die families wat betrokke is, ook vir Xander se ouers. Dit is waarom dit vir my so moeilik was om hulle te nader, aangesien hulle totaal platgeslaan, uitgeput en stukkend was. Xander het sy eie ouers se lewens sowel as dié van die vermoorde meisies se families vernietig. Daardie tragedie, en veral die feit dat hy geen insig getoon het in wat hy gedoen het nie, of enige berou getoon het nie, het my geweldig ontstel.”

Dit was ’n hartverskeurende ervaring wat op ’n hartverskeurende boek uitgeloop het. Maar ’n belangrike een.

....

Susan Cilliers blaai deur haar tweede boek, Die Stella-moorde. Foto: Venessa Van der Westhuizen

Bertie Jacobs

Submitted on Wed, 03/16/2022 - 12:52