Suid-Afrikaanse toerisme: Dit is hoe ons weer op ons voete kan kom

Die Covid-19-pandemie het ’n onuitwisbare letsel op die Suid-Afrikaanse toerismesektor gelaat, en hoewel kosmetiese opknapping ’n bietjie van die vorige prag herstel het, is omvattende ingryping steeds nodig om dit tot sy vorige glorie te herstel.

Volgens prof Elmarie Slabbert, direkteur van die navorsingseenheid Toerismenavorsing in Ekonomie, die Omgewing en die Samelewing (TREES) aan die Noordwes-Universiteit (NWU), moet die belangrikheid van die toerismesektor nie onderskat word nie. Dit blyk duidelik uit die die Covid-19-pandemie, toe die bydrae van die sektor tot die land se BBP van 8,7% in 2018 tot 3,7% in 2020 gedaal het. Hierdie effek het op die hoogtepunt van die pandemie tot ’n verlies van 1,5 miljoen poste in die sektor gelei. Hoewel daar ’n beduidende herstel was, kan nog baie meer gedoen word.

Een van die grootste struikelblokke wat Suid-Afrika as toeristebestemming ervaar, is sy ligging.

Prof Slabbert verduidelik: “Vanuit ’n internasionale oogpunt is Suid-Afrika ’n langafstandbestemming, wat ’n koste-implikasie vir internasionale gaste het. Hierdie toeriste is ook oor hulle veiligheid bekommerd, en oor die onvoorspelbaarheid van gedrag soos plundering en politieke onrus. Wat binnelandse toeriste betref, reis minder as 50% van Suid-Afrikaners – hoofsaaklik as gevolg van ekonomiese omstandighede. Die toerismesektor moet dit in gedagte hou en hulle produkte met betrekking tot toeganklikheid en bekostigbaarheid hersien indien ons die binnelandse mark wil laat groei.

Een van die grootste uitdagings vir die toerismesektor is sy afhanklikheid daarvan dat ander departemente soos Binnelandse Sake, wat paspoorte en visums moet uitreik, goed moet funksioneer sodat sake in hierdie sektor glad verloop. As prosesse ten opsigte van visums en paspoorte by Binnelandse Sake vertraag word, ontmoedig dit mense om te reis en die toerisme-ervaring te geniet. Ek glo ook dat dit vir die toerismesektor belangrik is om meer mense in diens te neem wat vir hierdie sektor opgelei is, aangesien hulle verstaan hoe belangrik dit is om op elke moontlike manier vir toeriste te sorg.”

Suid-Afrika se verswakkende infrastruktuur, saam met ’n hoë misdaadkoers, is ook teenproduktief wat betref die goeie promosiewerk wat gedoen word.

“Die bevordering van toerisme in Suid-Afrika word goed gedoen, maar eksterne faktore soos misdaad, veiligheid, visums, swak paaie, toegang, ens. lê groei aan bande. Suid-Afrika is op die kluitklaplys van talle internasionale toeriste, maar ná Covid-19 is hulle bekommerd oor hierdie faktore en sal eerder ’n bestemming kies waar hulle minder bekommerd is oor die uitwerking van onvoorspelbare eksterne faktore. Suid-Afrika besit egter ’n juweel, naamlik ons natuurskoon en aantreklikhede, wat as die vernaamste lokmiddel van hierdie land bevorder behoort te word,” sê prof Slabbert.

Sy meen ook dat navorsing soos wat by TREES gedoen word, beleidsmakers kan help om die toerismesektor op te hef.

“Die navorsing wat deur TREES gedoen word, kan beleidsontwikkeling help om ’n meer volhoubare toerismesektor te bou. Navorsing behoort nie in akademiese artikels en biblioteke versteek te word nie – dit moet vir die sektor beskikbaar wees om te kan implementeer. Die veerkragtigheidsmodel vir toerisme wat ons tans deur middel van ’n projek vir die nasionale Departement van Toerisme vir Suid-Afrika ontwikkel het, word bevorder deur werkswinkels vir implementering deur die verskillende provinsies te hou. Dit is ’n uitstekende voorbeeld van hoe navorsing beleid kan rig, verskillende belanghebbers kan bemagtig en optrede kan bepaal om die sektor vorentoe te neem. Beleidsmakers behoort op wetenskaplike navorsing staat te maak wanneer beleide geskep word, en ’n navorsingseenheid soos TREES wat die sektor verstaan, is ’n ideale vennoot in daardie verband.”

Prof Slabbert glo ook dat die beste manier om persepsies oor Suid-Afrika te verander, is om eerstens aandag aan die plaaslike kwessies te gee, aangesien dit die beste dividende op die lang termyn sal oplewer.

“Die toerismesektor in Suid-Afrika word hoog aangeslaan, en wanneer mense hierdie land begin verken en die gehalteprodukte en gasvryheid van die Suid-Afrikaners ervaar, sal hulle die land weer wil besoek. Dit is eerder die persepsies ten opsigte van veiligheid, paaie, toegang en armoede wat mense daarvan weerhou om besoek af te lê. Ons as ’n land behoort daarop te fokus om hierdie faktore te verbeter, aangesien dit die algehele persepsie van mense sal beïnvloed. Daarbenewens behoort sosialemediaplatforms benut te word om die beeld van Suid-Afrika ’n hupstoot te gee. Elke Suid-Afrikaner moet hulle deel doen om die sektor uit te bou.”

...

Prof Elmarie Slabbert

Submitted on Wed, 07/19/2023 - 16:11