Soos algemeen verwag is, het die Monetêre Beleidskomitee (MBK) van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) by ’n derde agtereenvolgende vergadering (en sy laaste vergadering van die jaar) eenparig besluit om rentekoerse onveranderd te laat, met die repokoers wat op 8,25% bly.
Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, sê in die lig van die deurlopende bekommernis van die MBK oor risiko’s dat inflasie verder sal styg, weerspieël die gees van die verklaring steeds ’n aggressiewe verposing, maar die besluit was in ooreenstemming met die MBK se evaluering van die huidige oorkoepelende balans van risiko’s in die ekonomie.
“’n Redelike slotsom oor die jongste ekonomiese tendense is dat, behalwe as daar skokke wag, Suid-Afrika se rentekoerse moontlik nou hulle toppunt bereik het. Hoewel rentekoerse langer hoër gaan bly, is dit moontlik dat verdere stygings nie nodig sal wees nie.”
Volgens hom is ’n deurlopende tydperk van stabiliteit in rentekoerse sedert Mei hierdie jaar ’n positiewe faktor vir sake- en verbruikersvertroue op ’n tydstip wanneer leenkoste steeds op hulle hoogste in 14 jaar is, met ’n styging van ’n kumulatiewe 425 basispunte (bsp) sedert November 2021.
“Die SARB het erken dat die monetêre beleid in Suid-Afrika tans in ’n beperkende terrein beweeg. Tendense in kleinhandelsverkope, kwesbare huishoudelike besteding, slegte skuld en ander relevante hoëfrekwensiedata bevestig nou alles ’n swak oorkoepelende binnelandse vraag.”
Hy sê die MBK het bevestig dat daar tans geen verhoogde vraagdruk in die ekonomie is nie. “Dus is daar ten spyte van ’n paar oorblywende ‘prystaaihede’ en risiko’s vir verhogings in die inflasievooruitsig wat deur die MBK beklemtoon is, die vooruitsig dat beide wêreldwye rentekoerse en plaaslike inflasietendense nou op die moontlike einde van die stygende rentekoerssiklus dui.”
Prof Parsons verduidelik dat met die huidige bewyse, versterk die vooruitsig vir die inflasie- sowel as die rentekoers die verwagting dat daar geen verdere stygings in leenkoste sal wees nie, tensy ernstige skokke uit ’n onseker ekonomiese omgewing na vore kom.
Indien rentekoerse inderdaad nou hulle toppunt bereik het, hoe vinnig kan dit begin daal? “Die MBK sal natuurlik steeds slegs omsigtig reageer in ooreenstemming met die tempo waarteen inflasie – veral die belangrike kerninflasie – oor die volgende paar maande stabiliseer. Kerninflasie van 4,4% is nou in ooreenstemming met die SARB se middelpuntinflasieteiken van 4,5%. Daar word verwag dat wesensinflasie teen jaareinde steeds binne die oorkoepelende amptelike inflasieteikenband van 3% tot 6% sal wees.”
Prof Parsons sê die MBK gaan waarskynlik rentekoerse hoog hou totdat hulle seker is dat dit nie langer nodig is nie, en sal waarskynlik nie voortydig ’n oorwinning oor inflasietendense aankondig nie. Indien die nuus op die inflasiefront egter in die maande wat voorlê bevestig word, is dit moontlik om te verwag dat die MBK dalk die rentekoerse teen, sê, ongeveer die middel van 2024 kan begin verlaag.
“Daar is tans genoeg ekonomiese data om te beweer dat leenkoste – hoewel steeds in ’n beperkende gebied – teen hierdie tyd volgende jaar laer gaan wees as wat dit nou is.”
Volgens prof Parsons het die SARB voorheen gepleit vir bykomende maatreëls om inflasie wat binne die openbare sektor se bestek val, te beperk, insluitende om ’n volhoubare staatskuldvlak te bereik, die voorsiening van energie te verhoog, geadministreerde prysinflasie te temper en om werklike loongroei in ooreenstemming met produktiwiteitswinste te hou.
Die Finansiële en Fiskale Kommissie het onlangs gesê: “In die konteks van stygende inflasie wat hoofsaaklik deur brandstof- en ander geadministreerde pryse gedryf word, is ’n beleidsmengsel tussen monetêre en fiskale beleid inderdaad meer kritiek.”
Prof Parsons sê in die navigering van wêreldwye en plaaslike teenwinde in 2024 moet ons nou ook erken dat die gesamentlike impak van monetêre en fiskale beleid in Suid-Afrika geleidelik begin saamvloei het, in dié sin dat hulle nou albei in ’n mindere of meerdere mate in ’n beperkende terrein is.
“Hulle gesamentlike en kumulatiewe effek op ekonomiese aktiwiteit volgende jaar plaas gekoördineerde beleidsvorming weer eens in die kollig, veral met die verwagtings rondom die Hoofbegroting in Februarie 2024. Laastens is die goeie nuus dat die MBK sy groeivooruitsigte vir 2023, 2024 en 2025 onderskeidelik met 0,1% tot 0,8%, 1,2% en 1,3% aangepas het. Hierdie voorspelling hang egter veral daarvan af dat Eskom se beurtkrag mettertyd verlaag sal word, en dat die beperkings op groei wat deur Transnet se hawe- en treinspoorbottelnekke veroorsaak word, verminder word.”
Prof Parsons sluit af deur te sê dat dit weer eens die omvang beklemtoon waarop sakevertroue en Suid-Afrika se ekonomiese prestasie grootliks afhanklik is van die spoedige implementering van strukturele ekonomiese hervormings in die tydperk wat voorlê.