Suid-Afrikaners weet El Niño beteken ’n warm, droë somer, maar klimaatskundiges van die Noordwes-Universiteit (NWU) waarsku dat die El Niño-impak verder as bloot droogte strek – daar is bewyse, hoewel nie beduidend nie, dat dit ook erge weerstoestande en ’n verhoogde risiko vir hittestres kan meebring.
El Niño, ’n wêreldwye klimaatsverskynsel wat deur die verwarming van die oseaanoppervlaktemperature in die sentrale en oostelike Stille Oseaan gekenmerk word, is deels te blameer vir die huidige bloedige warm temperature in Suid-Afrika. Die somer het skaars begin en verskeie streke regoor die land het al hittegolwe aangeteken.
Volgens dr Henno Havenga, ’n atmosferiese wetenskaplike by die NWU, kom El Niño elke paar jaar voor en ontwrig tipiese weerpatrone, wat tot verskillende veranderings in die globale weerstelsels lei. In Suid-Afrika lei dit tot ’n oostelike verskuiwing van die weerpatrone wat ons gewoonlik ervaar en gevolglik lei dit tot droër toestande regoor die land.
Dr Havenga sê die land moet homself voorberei vir abnormale weer soos dit vroeër hierdie maand in Gauteng ervaar is, toe hael- en donderstorms verwoesting gesaai het. Die dryfveer agter hierdie erge en onvoorspelbare gebeure is ’n kombinasie van hitte en vog, en volgens projeksies oor El Niño en toekomstige klimaatsverandering, neem die energie toe wat hierdie stelsels aandryf.
Volgens dr Havenga is die impak van El Niño beduidend genoeg om noukeurige monitering van en voorbereiding vir erge hittegolwe en veranderlike weer te noodsaak.
Hy het die publiek aangeraai om die Suid-Afrikaanse Weerdiens se webwerf gereeld te besoek, waar daar seisoenale voorspellings is, en wat ’n goeie bron van die jongste seisoenale reënvalvoorspellings vir die land is.
Effek op landbou
El Niño kan ’n baie groot impak op die landbousektor hê, veral wat betref veranderde reënvalpatrone en temperatuursveranderings.
“In Suid-Afrika kan hierdie veranderings tot droogtetoestande lei wat die produksie van gewasse en die veebedryf nadelig kan raak. Verminderde reënval kan veroorsaak dat minder water beskikbaar is vir besproeiing en vir die onderhoud van vee,” verduidelik dr Havenga.
Daarbenewens kan hoër temperature veroorsaak dat gewasse en diere onder stres is, en potensieel veroorsaak dat opbrengste en produktiwiteit laer is. Hierdie uitwerking kan veral erg wees in streke soos Noordwes, waar landbou swaar op konsekwente weerpatrone vir graangewasse en beesboerdery rus.
Strategieë vir versagting
Daar is verskeie maatreëls wat produsente kan aanwend om vir die onsekerhede van El Niño voor te berei en wat op die lang termyn tot landbouvolhoubaarheid kan bydra.
Dit, sê dr Havenga, kan diversifikasie van gewasse, implementering van waterbesparingstegnieke soos doeltreffende besproeiingstelsels en die herstel van lekkende infrastruktuur, belegging in grondbewaringspraktyke, en die gebruik van droogtebestande gewasvariëteite insluit, asook dat hulle ingelig bly oor weervoorspellings om betyds besluite oor plant- en oestye te neem.
Hantering van huidige weerstoestande
Produsente moet bewus wees dat selfs binne El Niño-gebeure, erge weerstoestande soos hael en kitsvloede steeds op plaaslike vlak ’n groot moontlikheid is, en dat hoër temperature wat gewoonlik met El Niño verband hou, hittestres vir werkers sowel as diere kan veroorsaak.
“Dit is raadsaam dat produsente arbeidsintensiewe aktiwiteite tydens hittegolwe vermy om te keer dat sonsteek en hipertermie veroorsaak word. Hoë temperature wat met hoë humiditeitsvlakke gepaardgaan, maak dit noodsaaklik dat mense sowel as diere gehidreer bly, en dit is belangrik om skadu- of koel areas vir vee te verskaf,” sê dr Havenga.
Dr Havenga (in die foto) doen ’n beroep op produsente om hierdie somer voorsorgmaatreëls teen hoë temperature te tref.