Suid-Afrika se staatsfinansies bly in veilige hande

“In ’n deurdagte beleidsevaluering in sy eerste mediumtermynbegrotingbeleidsverklaring (MTBBV) deur die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, bevestig hy dat Suid-Afrika se staatsfinansies steeds in veilige hande is en dat daar breë kontinuïteit in die fiskale beleid sal wees.”

Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU), sê dit was ook gerusstellend dat minister Godongwana ’n beter verhaal in die MTBBV te vertel gehad het as wat ten tye van die Begroting in Februarie hierdie jaar verwag is.

“Die ekonomiese rugwinde van hoë wêreldwye kommoditeitspryse en die oopmaak van die ekonomie na ’n vlak 1-inperking het ’n belastinginkomste-meevaller van R120 miljard gegenereer en so ’n groter fiskale ruimte geskep.

Met die benutting van hierdie meevaller het die MTBBV nou ’n aanvaarbare balans tussen die mededingende eise van skuldstabilisering, groter maatskaplike besteding en voortgesette openbaresektor-loonkwessies geskep.”

Prof Parsons sê dat die Minister van Finansies versigtig moet wees om ’n balans te handhaaf. “Maar aangesien sommige belangrike besluite tot die Hoofbegroting in Februarie volgende jaar uitgestel is, sal ’n algehele beoordeling oor die begroting eers dan verfyn kan word.”

Hy wys daarop dat daar steeds verskeie risiko’s is wat die besteding betref wat vindingryke bestuur sal verg. Daar is ’n aantal onsekerhede wat steeds opgelos moet word. Die Eskom-beurtkrag beklee ook nog ’n belangrik plek in Suid-Afrika se ekonomiese prestasie.

“Hoewel die MTBBV, danksy ’n unieke kombinasie van faktore hierdie jaar, ’n sterk groeikoers van 5,1% in 2021 verwag, is die voorspelling vir die gemiddelde groeikoers in die bruto binnelande produk (BBP) oor die volgende drie jaar slegs 1,7%. Dit sal Suid-Afrika steeds met uitdagings op verskeie vlakke laat, veral in die bespoediging van die implementering van die noodsaaklike strukturele hervormings om arbeidsryke groei in die toekoms te ondersteun en te bevorder.”

Submitted on Fri, 11/12/2021 - 10:53