Suid-Afrika post-2020: Covid-19 en die ekonomie (deel 1)

Die jaar 2020 sal onthou word as een van ongekende onsekerheid, en dit lyk asof 2021 glad nie ’n tree agteruit gaan staan nie. Prof Raymond Parsons van die Besigheidskool by die Noordwes-Universiteit (NWU) gee vir ons ’n vooruitskouing van wat die nuwe jaar vir die Suid-Afrikaanse ekonomie sowel as verbruikers gaan inhou. Hierdie is die eerste van ’n reeks artikels.

Terwyl die wêreld en Suid-Afrika voortgaan om die aardskuddende impak van die Covid-19-pandemie te probeer hanteer en daar hernude opvlammings van Covid-19-gevalle is, loop sosiale spanning hoog en erge sosio-ekonomiese gevolge is volop.  

“Sommige lande het regdeur hierdie proses beter as ander gevaar, en daar was wenners en verloorders. Ernstige foute is egter noodwendig gemaak en pynlike lesse is geleer oor ’n virus wat geweldige uitdagings vir beleidmakers regoor die wêreld geskep het. Dit is duidelik dat, in die lig van die onlangse hernude opwellings in die pandemie, Covid-19-ontsnappingstrategieë nou meer as ooit ’n ingewikkelde proses is van kompromieë balanseer, vrese hanteer en vertroue handhaaf – en dit alles op grond van bewyse wat die hele tyd verander en gebrekkige inligting, maar met verreikende ekonomiese implikasies,” sê prof Parsons.

Hy waarsku verder dat Suid-Afrikaners moet voortgaan om die luike vas te skroef, aangesien die storm nog lank nie verby is nie. Suid-Afrika gaan sterk senuwees in 2021 nodig hê.

“Vir talle ander lande het die oorspronklike skok van Covid-19 vroeg in 2020 ’n positiewe groeisiklus onderbreek. Die Suid-Afrikaanse ekonomie was egter reeds uiters kwesbaar toe die pandemie tref. Suid-Afrika het in die klein groepie ontluikende ekonomieë geval wie se swak ekonomiese toestand in buitengewone omstandighede baie erg getoets sou word. ‘Wanneer die gety terugtrek,’ het die vooraanstaande finansier Warren Buffet een keer gesê, ‘dan sien jy wie kaal geswem het.’ ’n Aanvanklike drastiese en langdurige staat van inperking het hierdie baie onrusbarende toestande soos ’n resessie, werkloosheid, lae sakevertroue, leweringsprobleme, rommelstatus en korrupsie, wat selfs voor die uitbreek van Covid-19 in Suid-Afrika voorgekom het, net vererger.  Namate die jaar gevorder het, was die ekonomiese verwoesting sterk sigbaar in hoëfrekwensiedata en in baie negatiewe groei- en indiensnemingstendense. Die bestaande verskuiwingslyne van werkloosheid, armoede en ongelykheid in Suid-Afrika is dus bloot versterk deur die latere verwikkelings wat deur Covid-19 aan die gang gesit is,” verduidelik prof Parsons.

Hoewel die regering sy bes gedoen het om die daaropvolgende gety terug te hou, was die skade onafwendbaar en, in sommige gevalle, onomkeerbaar.

Prof Parsons sê dat, teen hierdie agtergrond, die regering nie onaktief op die ekonomiese front was nie, en die SARB was ook nie aanvanklik stadig met sy verlaging van rentekoerse nie en die vermyding van ’n likiditeitskrisis nie. Wat staatsfinansies betref, was beskikbare fiskale ruimte reeds geweldig onder druk te midde van toenemende staatskuld en ernstige waarskuwings van ’n naderende soewereine skuldkrisis. Welkome tydelike ekonomiese ondersteuningsmaatreëls, soos die verspreiding van ’n ekonomiese “pakket” in April, ’n aanvullende begroting in Junie en die MTBPS in Oktober, kan in elk geval slegs die oorkoepelende inkrimpingsimpak van Covid-19 op die ekonomie gedeeltelik teëwerk. Ekonomiese skade is steeds wydverspreid – sommige daarvan onomkeerbaar.

“Klein besighede is veral kwesbaar, terwyl die likwidasie van besighede nou 24% hoër is as ’n jaar gelede en ongeveer twee miljoen werksgeleenthede in 2020 verloor is. In effek, net toe Suid-Afrika se tyd en geld opgeraak het, het Covid-19 sy verskyning gemaak, en soos te wagte was, het ekonomiese onsekerheid gestyg, vertroue het nog meer gedaal en die land se ekonomiese prestasie het verder verswak namate die jaar gevorder het,” sê prof Parsons.

Namate die inperking in Suid-Afrika geleidelik verslap is, is die saad vir herstel egter reeds gesaai.

 

Submitted on Tue, 01/12/2021 - 16:26