Suid-Afrika moet werkskepping teen enige gegewe groeikoers maksimaliseer

“Die effense beter nuus op die werkloosheidsfront is ’n welkome tendens, aangesien dit op ’n lang tydperk van aanhoudende verslegting in Suid-Afrikaanse indiensnemingsvlakke die afgelope ruk volg.”

In sy kommentaar op die jongste werkloosheidsyfers vir die eerste kwartaal van 2022, sê prof Raymond Parsons, ekonoom van die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU), dat hierdie ontwikkeling in ’n groot mate op Suid-Afrika se sterk ekonomiese herstel in 2021 volg ná die inperkings as gevolg van die pandemie, en in die lig van onvermydelike tydsagterstande beskou moet word.

“In die lig van die hernude negatiewe wêreld- en plaaslike ekonomiese tendense wat in die tweede kwartaal van 2022 na vore gekom het, is dit egter nog nie duidelik of die jongste verbetering in die indiensnemingsituasie in die maande wat voorlê, volgehou sal kan word nie.”

Hy sê die risiko is nou dat hierdie faktore dalk net weer ’n speek in die wiel van werkherstel kan wees.  “Daar is nietemin – gegrond op sekere gunstige aannames – hoop dat werkloosheid in die land dalk nou op ’n hoë vlak gestabiliseer het.”

“Suid-Afrika se werkloosheidskoers is in elk geval steeds van die hoogstes ter wêreld. Die massiewe werkloosheidskoers onder die jeug in Suid-Afrika bly ook ’n groot uitdaging en beklemtoon die omvang van die werkskeppingsmaatreëls wat nodig is om die situasie om te keer.”  

Prof Parsons wys daarop dat die jongste werkloosheidsyfers steeds bevestig dat Suid-Afrika ’n groeikoers van 3% tot 4% van die bruto binnelandse produk (BBP) nodig het om ’n noemenswaardige duik in die vlakke van werkloosheid te maak.

“Indien die huidige ekonomiese tendense voortduur, sal BBP-groei waarskynlik nou ongeveer 1,6% wees. Suid-Afrika moet dus uit sy valstrik van lae groei breek deur gesamentlik die dringende implementering van sleutel- ekonomiese hervormings te bespoedig. Suid-Afrika moet steeds die getal poste wat geskep word teen enige gegewe groeikoers maksimaliseer.”

Submitted on Tue, 05/31/2022 - 15:24